Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Pynlik eerlike kyk na ons demokratiese oorgang

Rina Venter – die enigste vrou wat tussen 1910 en 1994 in die kabinet gedien het – se outobiografie is die gesaghebbendste ontleding tot dusver van die vraag hoe en waarom die NP-regering nie sy belofte van ’n bestel van magsdeling nagekom het nie, skryf Hermann Giliomee.

’n Stukkie van die legkaart deur Rina Venter. Uitgewer: Malan Media. Prys: R350.

In 1997 het ’n insiggewende boek oor Suid-Afrika se oorgang na ’n demokrasie verskyn: Patti Waldmeir se Anatomy of a Miracle: The End of Apartheid and the Birth of the New South Africa. Hierin stel sy die kernvraag: “Why did the Boers give it all away?”

Waldmeir lê baie klem op die simboliese leierskap van Nelson Mandela, die strategiese vernuf van Joe Slovo, die onderhandelingsvaardighede van Cyril Ramaphosa en die Nasionale Party se onvermoë om enige betekenisvolle swart steun te werf.

Die huidige ortodoksie is om die NP se oordrag van mag in 1994 as iets onvermydeliks te beskou omdat die swart oorwig van getalle en wêreldsteun vir die beëindiging van apartheid so oorweldigend was. Die feite lyk egter anders. ’n Opname deur ’n Duitse firma in 1987 het getoon so min as 18% van die Zoeloes en 24% van die Noord-Sotho’s het in daardie stadium ’n meerderheidsregering verkies.

In nog ’n opname in die vroeë 1990’s het 15% van alle swart Suid-Afrikaners FW de Klerk as leier gesteun. Tel hierby die meer as 30% steun wat die NP en Inkatha in 1994 saam getrek het, en die syfer kom op 45% te staan. Die NP sou groot foute in die onderhandelings moes maak en die ANC sou tussen 1990 en 1994 met ’n suksesvolle gewelddadige aanslag moes kom om in die verkiesing steun van net minder as twee derdes te kry.

Venter se boek is meer onthullend en meer pynlik eerlik oor ons demokratiese oorgang as enige ander boek wat bestaan.

En nou, ’n kwarteeu ná die oorgang van 1994, kom daar herbesinning. In sy Peaceful Revolution: Inside the War Room at the Negotiations (2017) skryf Niël Barnard, hoof van die Nasionale Intelligensiediens van 1979 tot 1992, dat die De Klerk-regering geen duidelike, behoorlik verwoorde doelwitte gehad het nie. Vanweë diepliggende meningsverskille was daar by die NP tydens die onderhandelings “a crippling lack of direction” (bl. 268).

Pas het Rina Venter se outobiografie, ’n Stukkie van die legkaart, verskyn en ongeveer die helfte van die boek van meer as 400 bladsye het die onderhandelings as deurlopende tema. Dit is ’n boek wat ’n mens heeltemal nuut laat kyk nie net na die onderhandelings nie, maar ook die verhouding tussen man en vrou in ons mansbeheerde gemeenskappe.

Venter, die enigste vrou wat tussen 1910 en 1994 in die kabinet gedien het, is in 1938 gebore en het aan die Wes-Rand grootgeword. Sy het haar doktorsgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria behaal en daarna as maatskaplike werker by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) begin werk. In 1980 het sy die leier van dié organisasie geword en in hierdie hoedanigheid algaande meer kennis verwerf van swart vroue se leefwêreld onder apartheid. In 1984 word sy as benoemde lid van die NP in die Parlement beëdig en in 1989 word sy ’n verkose LP en minister in FW de Klerk se kabinet.

Venter se boek is die gesaghebbendste ontleding wat tot dusver geskryf is oor die vraag hoe en waarom die NP-regering nie die belofte van ’n bestel van magsdeling, wat hy aan sy kiesers gemaak het, nagekom het nie.

Toe sy tot die politiek toetree, het Venter robuuste debatte in die koukus verwag, maar is teleurgestel. Toe die onderhandelings begin, het sy verwag daar sou soos by die SAVF vooruitbeplande doelwitte wees, ’n strategie om dit te verwesenlik en daarmee saam tydskale en meetbare uitkomste. Volle verantwoording sou gedoen word en indien daar afgewyk is van ’n opdrag, sou ’n nuwe mandaat gevra word. Dit is die model wat sy in die praktyk in die SAVF geleer het en ook die een waaraan sy steeds die De Klerk-regering se onderhandelings vir ’n demokratiese bestel sou toets.

Venter was geskok toe sy uitvind daar is geen omvattende bestuursplan ontwikkel nie en dat die ANC se voortgesette aanslag op die staat nie behoorlik ontleed is en ’n teenvoeter daarvoor ontwikkel is nie.

Venter spreek skerp kritiek uit oor die feit dat De Klerk die nasionale veiligheidsbestuurstelsel (NVBS) vir alle praktiese doeleindes afgeskaf het. Dit was hierdie liggaam, waarin sekere ministers saam met senior lede van die veiligheidsdienste en verskeie kundige amptenare gedien het, wat grootliks gehelp het om die onluste wat in 1984 uitgebreek het onder beheer te bring.

Venter is baie krities daaroor dat De Klerk hierdie stelsel afgeskaf het terwyl die groot toets om ’n grondwetlike skikking te bereik nog voorgelê het en terwyl daar sterk aanduidings was dat die ANC die vakuum in die townships wou gebruik om beheer te verkry en alle mededingers uit te skakel.

Soos Anthea Jeffery, Frans Cronjé en John Kane-Berman van die Instituut vir Rasseverhoudinge in hul onderskeie studies so duidelik uiteengesit het, was die ANC en Inkatha vir verreweg die grootste deel van die politieke geweld verantwoordelik. Die ANC het nog ’n stappie verder gegaan en al die skuld vir die geweld op die skouers van die regering en Inkatha gepak. Die De Klerk-regering kon geen teenvoeter hiervoor vind nie.

Volgens Venter het die oomblik van waarheid vir die NP-kabinetslede gekom by ’n bosberaad wat in Julie 1993 gehou is. Hier het Roelf Meyer dit die eerste keer aan sy kollegas gestel dat hulle vrede sal moet maak met ’n meerderheidsregering wat onafwendbaar was. Venter skryf Meyer het hierdie standpunt ingeneem “sonder dat die beginsels van onbeperkte meerderheidsregering ooit in die kabinet bespreek of goedgekeur is”. Betekenisvol voeg sy by dat geen kabinetslid op Meyer se woorde gereageer het nie.

Kort ná hierdie bosberaad het Piet Marais, minister van nasionale onderwys, De Klerk in ’n brief gewaarsku dat Afrikaanse skole onder sterk politieke druk gaan kom van die ANC, wat ’n sterk antipatie teenoor die skole het. ’n Maand later sou Marais ’n brief aan De Klerk skryf (hy het later ’n fotokopie van die brief aan my geskenk) dat “onderwys nie soos dit hoort ons onderhandelaars se prioriteit is nie”. Hy het bygevoeg dat hy in informele gesprekke met ANC-onderhandelaars die duidelike indruk gekry het dat die beweging “onverdraagsaam is teenoor Afrikaans en teenoor die eis dat Afrikaanse universiteite voortgaan om hul missie met kulturele inhoud te vul”.

Marais het by De Klerk aangedring om ’n lys op te stel van die dinge waaroor dit eintlik gaan en van die ondernemings wat die NP aan sy kiesers gegee het. Hy moes ook aandui watter nog nie nagekom is nie. In daardie stadium is reeds oor al die sleutelkwessies met betrekking tot hoër onderwys ooreengekom. De Klerk het by Marais aangedring om met die ANC-onderhandelaars te praat om die kwessie te heropen, maar Marais kon niemand onder die ANC-leiers kry wat belang gestel het nie.

Venter se boek is meer onthullend en meer pynlik eerlik oor ons demokratiese oorgang as enige ander boek wat bestaan. Dit verdien ’n breë leserskring en indringende bespreking.

  • Prof. Hermann Giliomee is ’n historikus van Stellenbosch en skrywer van The Rise and Demise of the Afrikaners wat onlangs verskyn het.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.