Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Queers en kroeks

In ‘Robert’ skryf die kunstenaar Robert Hamblin as ’n transman oor sy selfhaat en struwelinge met die wese wat spieëls eens na hom teruggekaats het, en bied in die proses ook veelvlakkige invalshoeke op gender en stereotipering. Herman Lategan skryf hier gebeur baie tussen die lakens én die reëls... beslis nie vir bedeesde lesers nie.

Robert Hamblin

Robert: A Queer and Crooked Memoir for the Not so Straight or Narrow deur Robert Hamblin. Uitgewer: Melinda Ferguson Books. Prys: R280.

‘Jou geboortepa is ’n moffie,” sê Robert Hamblin se ma vir haar jong kind. Vroeg in sy memoires word die fondament gelê vir veelvlakkige invalshoeke oor gender, vernedering en stereotipering.

Dié kunstenaar en voormalige fotograaf skryf hier as ’n transman oor sy eerstehandse ervarings waar hy in boksies gedruk is, sy selfhaat en sy struwelinge met die wese wat spieëls na hom teruggekaats het. Hierdie refleksies volg hom regdeur sy lewe. Van vroeg af reeds gewaar hy ’n mán wat terugstaar, maar die wêreld sien ’n dogter.

As hy nadink oor hierdie beelde, is dit asof sy nabootsing in ’n rots vasgevang is. Daar is nog nie genoeg gebeitel aan daardie afskaduwing en persoon nie. Dit bly ’n ewigdurende taak.

Terloops, om te vermy dat Hamblin as ’n gesplete persoon uitgebeeld word, word daar in dié resensie na hom as ’n man (transman) verwys. Die Engelse noem dit deadnaming, met ander woorde sy afgelegde naam (of gender) hoef nie gedurig bygerakel te word nie. Sy vorige lewe as die fotograaf Adéle Hamblin is verby.

As kind word Robert se gender gereeld verwar. Sy ma raak dolsinnig, sy wil hê die kind moet meer soos sy wees: pragtig, vroulik en fatsoenlik. Sy ma is intussen met ’n ander man getroud. Hulle woon almal in Alberton.

Eendag vat sy haar kind om by die geboortepa, die sogenaamde moffie, te gaan kuier. “Jy kan my Billy noem,” sê hy ten tyde van die reünie. Hy is terug uit die buiteland en ietwat van ’n botterbek, spekskieter en beslis wêreldwys. ’n Soort Walter Mitty.

Daar is sterk filmiese kwaliteite.

Hy nooi die tiener om enige tyd te kom kuier en so gebeur dit dan ook. Ná skool trek Hamblin daar in. Sy pa se huis heet Masada (let op dié naam), ’n swierige woning teen ’n koppie, in die weste van Johannesburg, in Kensington.

Masada en sy inwoners word vir Hamblin mettertyd deel van ’n soort deurgangsrite – ’n oorbrugging tussen ’n voorstedelike bestaan by sy ma, na ’n wêreld wat pols met ryp verbode vrugte, ’n lewe vol chiaroscuro (kontraste van lig en skaduwee). Dit is ook ’n liminale ruimte waarin sy genderidentiteit heeltyd kwikagtig beweeg en rondgly. Dink aan Salvador Dalí se skildery The Persis­tence of Memory, die een van die smeltende horlosies.

Voor 10:00 skink Hamblin se pa vir homself sjampanje en noem iets van ’n vliegtuig wat so pas oorgevlieg het. Die kuiers hier word ’n warrelwind van mooi mans, ’n swembad, die reuk van kos, sigarette, ’n platespeler, katelkaskenades en ’n kroeg met ’n rottangtoonbank.

“Weet jy hier woon ’n régte vrou?” vra sy pa. Die plek is dus nie net vol queens nie. Alexis sal later ’n beduidende rol in Hamblin se lewe speel.

Daar is ’n sterk interafhanklike emosionele band tussen Hamblin se pa en Alexis, hoewel laasgenoemde duidelik reddeloos en aan Billy se spel onderworpe is.

Sy is ’n komplekse vrou wat raakpunte deel met die titelkarakter in Rainer Werner Fassbinder se rolprent The Bitter Tears of Petra von Kant (1972). Donker van aard, melankolies, provokatief, sensueel, onvoorspelbaar en selfs narcisties.

Dié rolprent speel meestal in een vertrek af, maar Alexis is ’n rolbos, tolbos, wat met die wind wegwaai en dan weer verskyn. Het sy ’n probleem met grense wanneer sy met Hamblin as 16-jarige tiener begin flankeer of is sy ’n soort sjamaan wat hom aan die idee van goed en kwaad bekend stel? Dít sal die leser self moet uitpluis, want in hierdie outobiografie gebeur daar baie tussen die lakens én tussen die reëls. Er staat niet wat er staat.

Dit is ’n lywige boek van 355 bladsye, dus is daar plek vir net enkele tonele. Laasgenoemde woord word bewustelik gebruik, omdat daar sterk filmiese kwaliteite aan vele scènes gekoppel is. Draaiboekskrywers kan gerus notisie neem.

Op ’n dag erken die jong Hamblin (steeds in sy vroulike rol as ’n bekende en talentvolle fotograaf met baie wat tussenin gebeur) se pa aan hom hy het die vigsvirus opgedoen. Mettertyd verswak sy toestand en sy vriende en familie verdwyn.

Almal wat so lekker deur die heuningdae saam met hom rinkink het, versaak hom teen die einde. Hy kan homself nie bad nie. Met sy hande hou hy homself aan die matras vas sodat hy nie omval nie. Sy voetsole is seer. Die eens sterk man se vel hang soos lappe aan hom. Hy het gestink. Hamblin moet hom optel en in die bad sit. Dit is nie ’n maklike taak nie. Dié hoofstukke in die boek lees soos kortverhale wat op hul eie kan staan. Dit is uitmergelend en amper poëties geskryf. Not for the faint-hearted.

Tekenend van waarmee Hamblin moet saamleef, is dat sy pa hom selfs terwyl hy hom versorg, oor sy keuse van “onvroulike” kleredrag kritiseer. As hy sterf, is die begrafnis ’n droewe mengsel van menige opera se dramatiese doodstonele begelei met volle orkeste, asook die tonele in Absolutely Fabulous waar Edina in haar pa se graf tuimel.

Drie jaar ná sy pa se dood bevestig oudregter Edwin Cameron in die openbaar hy is MIV-positief. Hamblin moet hom vir die glanstydskrif De Kat fotografeer.

Die gesprek tussen dié twee is een van ’n paar belangrike kantelpunte vir Hamblin. Hy hoor hy hoef nie sy pa of homself uit die geskiedenis uit te vee nie.

Later gaan Hamblin na ’n smeulende Texas agter ’n minnares aan wat hy op die internet ontmoet. Die warm dae is eensaam by tye. Op die internet begin hy toevallig vriendskaplike gesprekke met iemand wat besig is met ’n geslagsverandering.

Texas raak te erg en hy gaan na Parys. Hier, sinkronisties, ontmoet hy ’n vreemde man met wie hy gesprekke aanknoop, net om uit te vind hy is ook ’n transman.

Terug in Suid-Afrika begin Hamblin werk daarvan maak om sy ware en egte identiteit te laat ontluik. Dit gaan met baie vooroordeel gepaard.

Hierdie resensent wil nie alles verklap nie, lees liewer die boek. Vir die afgelope paar jaar woon Hamblin in Muizenberg met sy lewensmaat, Sally-Jean Shackleton, en hul dogter, Georgia Asemahle.

Omdat spieëls regdeur die boek soos ’n garingdraad strek, is dit gepas om met Michael Jackson se lirieke uit die lied “Man in the Mirror” te eindig: “I’m starting with the man in the mirror / I’m asking him to change his ways / And no message could have been any clearer / If you want to make the world a better place / Take a look at yourself, and then make a change.”

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis van Groenpunt.
Meer oor:  Robert Hamblin  |  Robert  |  Outobiografie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.