Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Radikale plan teen ‘moeras van grond’

Tembeka Ngcukaitobi se netjies beredeneerde, uitdagende Land Matters móét gelees word, meen  Jean Meiring – of jy nou saamstem of nie met sy radikale en utopiese voorstelle vir ’n waagmoediger stelsel van grondhervorming onder beheer van die howe.

Land Matters: South Africa’s Failed Land Reforms and the Road Aheaddeur Tembeka Ngcukaitobi. Uitgewer: Penguin Ran­dom House. Prys: R280.

Toe hy na ’n naam vir sy tweede boek begin tas het, het Tembeka Ngcukaitobi dalk spyt gekry omdat hy vir sy debuutwerk reeds die rooi stiervegterskleed van die titel The Land is Ours opgebruik het.

Daardie swiepende sinjaal sou immers nommerpas gewees het vir dié boek wat, anders as sy vorige een, waaragtig oor die Suid-Afrikaanse grondkwessie handel. Hoewel die argument in dié nuwe band – albei boeke sou ’n mens as polemiese geskiedenisse kon tipeer – tog in die effens verwaterde stelling saamgevat kán word dat grond saak maak, rig hy ’n veel sterker, indringender appèl as dít tot sy leespubliek.

Dié boek sal ter plaatse minstens twee kategorieë lesers hê: wit mense en swart mense (in die breë sin). Ironies, sal Ngcukaitobi stellig sê, is dié toedrag van sake juis grotendeels die gevolg van die probleem wat hy hier oopskryf: Die meerderheid Suid-Afrikaners se grondloosheid, wat ’n kloof oopmaak tussen diegene met en dié sonder.

Die vraag wat Ngcukaitobi dus retories maar dringend stel (hy doen mettertyd self ’n antwoord aan die hand), is hoe die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse bodem dekades ná die oorgang na die demokrasie steeds in wit hande is. Waarom lyk die landkaart vandag nog so baie soos dit in 1913, ná die inwerkingtreding van die Wet op Naturellegrond, gelyk het? (Of eerder, korrigeer hy dié geykte fout, soos in die jare dertig van die vorige eeu?)

Van al die aansprake in die stryd teen koloniale heerskappy en apartheid was dit immers, betoog hy, die versugting na grond – om terug te keer na daar waarvandaan jou voorsate verwyder is – wat deurgaans die hoogste aangeslaan is. Trouens, kort ná uniewording was hierdie belofte die hoeksteen waarop die ANC opgerig is.

Tog, al is dié onderwerp in die huidige postkoloniale tydsgewrig onvermydelik omstrede, moet lesers nie hier ’n wilde saallose perd van ’n argument verwag nie wat, geblinddoek teen opgetekende feite en gepantser met die ysterhoewe van retoriek, redeloos die verte in skiet; wat onwettige grondroof of iets in dier voege aanhits nie.

Land Matters dra allermins swaar aan geleerdheid.

Inteendeel, al is sy standpunt radikaal, staan Ngcukaitobi juis vir die oppergesag van die regstaat; sy argument oor restitusie en herverdeling is kortom dat dit behoudens die Grondwet en die administratiefreg moet geskied.

Al sal die oë van ’n sekere kontingent meesal wit lesers, ook van dié koerant, op skrefies getrek wees vir ’n argument dat Suid-Afrika in die 17de eeu nie ’n wye stuk oopte was nie, slegs met Pierneef-bome bespikkel, is Ngcukaitobi se vertrekpunt die vergrype tydens die koloniale geskiedenis.

Hoewel Land Matters dus tot die debat toetree wat deur onlangse boeke soos Patric Mellet se The Lie of 1652 (2020) aangevoer is – wat ten spyte van gebreke ’n nodige en uitdagende boek is – is Ngcukaitobi se invalshoek minder persoonlik as Mellet s’n.

Soos sy debuutboek is Land Matters ook uiters versigtig en puntenerig nagevors. Tog dra Land Matters allermins swaar aan geleerdheid en eindnote. Die skrywer het ’n indrukwekkend panoptiese blik: Behendig en elegant beheers hy ’n breë spektrum primêre en sekondêre bronne. Hy bied hulle só aan dat lesers nie in die fyn druk verstrengel raak nie.

Natuurlik sal teëpraters hierdie breë aanslag wil ondergrawe deur op te werp dat dit nie altyd, in alle gevalle, so was nie – dat daar byvoorbeeld ook koloniale heersers hier te lande was wat ánders was – maar dít sou wees om Ngcukaitobi se argument oor die sistemiese aard van die koloniale bestel oor die hoof te sien.

In vier dele word Land Matters se argument aangevoer.

Die perspektief in die eerste twee dele, “Dispossession” en “Property and Liberation”, is breedweg histories. Daarna verskuif die skrywer se blik na die hede en die toekoms in “Land Trials and Errors: Restitution, Redistribution and Tenure” en “The Future of Land Compensation”.

Ten eerste slaan Ngcukaitobi ’n uiters ingewikkelde geskiedenis – VOC-beleid; koloniale heerssug; apartheidswetgewing en -regulasies – deur ’n wye oog gade. Met ’n ligte hand verweef hy drade van hier en daar (sy aanslag is deels chronologies, deels tematies) om ’n uiteindelik oortuigende betoog te voer oor waarom die status quo lankal moes verander het: om die ideale wat in die Grondwet opgeteken is te probeer verwesenlik.

Namens die grondlose swart meerderheid Suid-Afrikaners sê hy: Die uitwerking van die koloniale vergrype van sir George Grey en John Graham, onder andere, wat inheemse Suid-Afrikaners eers van hul beeste, en toe hul grond en boonop hul politieke regte ontneem het, is nie met die inkom van die nuwe bedeling reggestel nie.

Die verwerwing van niks meer nie as politieke regte druis teen die basiese idee in van die oorgang na ’n bestel waarin die vergrype van die verlede sover moontlik ongedaan gemaak word.

Die proses van ontgronding het boonop nie slegs dít behels nie. Die nasleep van die komplekse web wetgewing wat reeds in die eerste jare ná die VOC se aankoms in al hoe fyner besonderhede en stelselmatig Suid-Afrikaners wat nie wit was nie benadeel het, is trauma wat van geslag tot geslag oorgedra is en steeds word.

Bates is weggeneem. Entrepreneurskap is in die kiem gesmoor. Opvoeding is gerat om swart ambisies te probeer demp. Gesins- en familienetwerke is deur die praktyk van migrantearbeid uiteengeskeur.

Heel boeiend lê Ngcukaitobi uit hoe die inheemse reg in die hande van die koloniseerders (onder meer deur die optekening in ’n kode van die Zoeloe-gewoontereg) ’n werktuig geword het waardeur grond ontneem is. Daardie “optekening” was allermins neutraal; dit het deur ’n koloniale lens gebeur juis sodat die neergelegde wette die koloniale projek sou ondersteun (bl. 59-71).

Soos sy argument oopvou, vervleg Ngcukaitobi dié vroeë geskiedenis met die Verenigde Nasies se teenapartheidkonvensie van 1973, die regstellings wat Duitsland in die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog teenoor die staat van Israel gemaak het, die verrigtinge van die Waarheids-en-versoeningskommissie en die onderhandelinge oor artikel 25 in die finale (1996-) Grondwet, die sogenaamde eiendomsklousule.

In die derde deel verskuif die aandag na die onlangse verlede. Die redes vir die trae pas van verandering – onder meer onbevoegdheid en sistemiese korrupsie (bl. 111–112) – word onder die loep geneem. Ook ondersoek Ngcukaitobi verhelderend sekere praktiese aspekte van die proses waardeur restitusie en herverdeling plaasvind.

Teen die agtergrond van ’n grondregstelsel wat hy as onnodig ingewikkeld tipeer (bl. 137) en wat vroue tru sit (bl. 155–169), betoog hy dat die beheptheid met private eiendom in die tradisionele sin van dominium uitgedien is; dat die Grondwet iets anders waarborg: grondbesit wat sekuur is.

Dit is hierdie argument wat veel dieper klief as die een ten gunste van onteiening sonder vergoeding.

Dít sal die grondbeginsels van ons sakereg uitkalwe: “To accommodate the majority, we should reconsider the exclusive and absolute nature of private title so that the exercise of rights over land is subject to a general public-interest override, provided that such an override is itself constrained by procedural fairness. This might require a review of the legislative and common-law framework for the nature of private title itself, but this is perhaps unavoidable” (bl. 151).

Uiteindelik, in die boek se vierde onderdeel, oor vergoeding by onteiening of dan in gepaste gevalle die afwesigheid daarvan, rig die skrywer sy visier op die toekoms. Hy beskou krities die redes waarom vergoeding betaal sou word en wat regverdigheid in dié verband vereis.

Die risiko vir die banke van ’n onteieningstelsel wat op die spesifieke feite van elke geval onder die beheer van die howe geskied, sê hy, is “greatly exaggerated” (bl. 198).

Dán oordink hy die proses wat tans aan die gang is om art. 25 te wysig. Die standpunt wat hy al jare in die openbaar huldig, stel hy weer hier. Sy slotsom: Die Grondwet vereis nie in alle gevalle vergoeding nie. Geregtigheid, soos versigtig deur die howe bepaal, sal dit in sekere gevalle nie vereis nie.

Reeds in die inleiding sê hy: “Many candidates present themselves for immediate expropriation without compensation: vacant land, under-utilised land, abandoned land, land held by absentee landlords, land held for specula-tion, and illegally acquired land” (bl. 8).

In die finale instansie, sê Ngcukaitobi, het Suid-Afrika ’n beginselgedrewe plan nodig om uit die huidige grondmoeras te kom, wat die vergrype van die verlede moet regstel, wat voortslepende ongeregtighede moet uitwis en ’n toekoms bewerkstellig wat op gelykheid geskoei is (bl. 219).

Of jy nou met Ngcukaitobi se by tye radikale en utopiese voorstelle saamstem of nie – ’n boek moenie as ’n beleidsdokument gelees word nie – Land Matters is netjies beredeneer en heel prikkelend. Dit móét gelees word. Selfs van diegene wat van Ngcukaitobi verskil, waaronder waarskynlik ’n klomp bankbestuurders, sal ten minste, soos ek, deur die etiese appèl van sy argument getref word.

Wat hy voorstel, naamlik ’n veel waagmoediger en ingrypender stelsel van grondhervorming onder beheer van die howe, doen die regstaat en die Grondwet gestand. Maar dit vra ’n gans nuwe manier van dink oor grond. Ook maak dit ’n grondige aanslag op geykte beginsels, vernaam die onaantasbaarheid van privaateiendomsreg, soos ons dit vir eeue lank al ken. Dis op dié terrein dat die boek se argument die uitdagendste is en waar die slagordes opgestel sal word.

Land Matters se argument, wat sigself as teenvoeter vir Zimbabwe-agtige plundering aanbied in ’n tyd wat die Suid-Afrikaanse regering weer die idee van die staatsvoogdyskap van grond bepieker, verg nogtans ’n grondige geloof in die mens se inherente begeerte om goed te doen en in die howe se vermoë om op die lange duur magsug te beperk. Nie almal sal daardie geloof kan opdiep nie.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Tembeka Ngcukaitobi  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.