Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Radioman omskep programnotas van 30 jaar in boek
Rodney Trudgeon in die Kaapstad-stadsaal se konsertsaal. Foto: Jeffrey Abrahams

’n Versameling van die radioman Rodney Trudgeon se beste programnotas word eersdaags deur Jonathan Ball-uitgewers uitgegee en in Kaapstad bekend gestel.

Die boek Rodney Trudgeon’s Concert Notes bevat programnotas wat Trudgeon (67) die afgelope 30 jaar vir die programme van klassiekemusiekkonserte dwarsoor Suid-Afrika geskryf het.

Trudgeon – tans aanbieder van die ontbytprogram op Fine Music Radio (FMR, 101.3), asook programbestuurder van dié radiostasie – erken die boek was nie eintlik sy idee nie. Hoewel vriende hom al jare smeek om sy programnotas in ’n boek te omskep, was dit een van sy FMR-kollegas wat dit kon regkry om uiteindelik sy arm te draai.

“Sowat ’n jaar gelede het Vanessa (Levenstein), ons kopieskrywer, my gevra of ek iets van (George) Gershwin se klavierkonsert weet,” vertel Trudgeon in die FMR-ateljee in die Kunstekaap.

“Ek het toe vir haar die inligting gestuur wat ek in ’n lêer met al my programnotas op my rekenaar stoor – en sy was absoluut oorbluf. Sy het gesê ek moet dadelik ’n boek met al my programnotas saamstel.

“Sy was die grootste neulkous wat ek al in my lewe ontmoet het,” skerts hy. “Sy het self vir Jonathan Ball(-uitgewers) gebel, wat op hul beurt eindelik ingestem het om die boek te publiseer.”

Trudgeon het die boek uit sy argief van honderdduisende woorde – in ’n lêer op sy rekenaar met die naam Rod’s Programme Notes – saamgestel en sê die ervaring was aangenaam omdat “die meeste van die skryfwerk reeds gedoen was”.

“Al wat ek moes doen was om die argief van A tot Z deur te werk en te kies wat om in te sluit,” sê hy.

“Ek moes hier en daar iets redigeer en ook ’n biografie vir elke komponis skryf, maar ek het meer gelees as geskryf.”

‘Rodney Trudgeon’s Concert Notes’ word deur Jonathan Ball-uitgewers uitgegee. Die prys is R250.

Dit het hom uiteindelik ’n jaar geneem om die boek met programnotas van byna 250 gewilde simfoniekonsert-stukke saam te stel.

“Daar is natuurlik leemtes in die boek – daar is byvoorbeeld net een Bach-stuk – maar dit is omdat ons orkeste nie gereeld Bach uitvoer nie,” sê hy.

“Ek moes ook 30 000 woorde in die manuskrip sny, maar dit was redelik eenvoudig omdat ek bloot die stukke wat konsertgangers nie gereeld hoor nie, weggelaat het.”

Trudgeon, wat wyd as ’n foendi op die gebied van klassieke musiek beskou word, het in 1976 sy loopbaan as klankingenieur by die SAUK begin en het later toevallig ook radio-omroeper daar geword. Ná 25 jaar het hy ’n draai by Classic FM gemaak, voordat hy hom 14 jaar gelede by die FMR-span aangesluit het.

Hy sê hy was gelukkig om regdeur sy loopbaan met kollegas te werk wat sy eie skryfwerk beïnvloed en hom toegelaat het om sy eie skryfstyl te ontwikkel.

“Daar is eintlik twee benaderings (tot die skryf van programnotas): Die eerste is ongelooflik tegnies en kyk na die verhouding tussen toonsoorte, harmoniese struktuur, ensovoorts, wat ongelooflik akademies is,” sê Trudgeon.

“Ek verkies liewer om die leser op ’n toweragtige musiektoer te neem, iets wat Jan Alleman sal inlig en hom of haar sal toelaat om die musiek te geniet. Ek hoop ek kan dít ook met dié boek uitrig.”

  • Die bekendstelling van die boek, Rodney Trudgeon’s Concert Notes, vind op 27 Januarie om 17:30 vir 18:00 in die Artscape Opera Bar in die Kunstekaap plaas. Belangstellendes moet hul bywoning met ’n e-pos na jmk@jonathanball.co.za bevestig.
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.