Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Reënboognasie as familie aan’t splinter
Foto:

Fiksie

The Promise

Damon Galgut

UMUZI, R290

Damon Galgut is een van Suid-Afrika se grootste skrywers. Sy nuwe roman, The Promise, kry baie aandag oorsee. Pryse word voorspel.

Dit vertel die verhaal van die Swart-gesin. Wit Suid-Afrikaners. Hulle besit ’n klein plaas buite Pretoria.

Die boek is in vier tydgleuwe opgedeel, elkeen met ’n begrafnis as fokus.

Die eerste speel af in 1986, onluste in die townships. Dan 1995, die Wêreldbeker-rugbytoernooi, die euforie van die Nuwe Suid-Afrika. Dan ná 2004 met Mbeki se tweede presidensiële inhuldiging, goeie ekonomiese tye, vet SEB-kontrakte.

Dit sluit af in 2018 met Jacob Zuma wat bedank, staatskaping op almal se lippe.

Dit klink dalk uitgesponne, maar dié is nie jou tipiese familieroman wat oor dekades strek en stadigaan die wyer geskiedenis met familiegebeure ineenvleg nie. Nee, dis ’n vinnige en selfs venynige boek – 243 bladsye; gif in die ink.

Die pa, Manie, is ’n Afrikanerman wat ’n reptielpark besit en nadat die weerlig sy een dogter, Amor, getref het – en sy oorleef het – het hy sy hart aan die Here gegee.

En dis snaaks. Die Swart-gesin se verhaal word met swartgallige humor vertel.

Die pa, Manie, is ’n Afrikanerman wat ’n reptielpark besit en nadat die weerlig sy een dogter, Amor, getref het – en sy oorleef het – het hy sy hart aan die Here gegee.

Die ma, reeds oorlede in die eerste toneel, se naam is Rachel, en sy het voor haar dood weer haar Joodse geloof gevind en nader aan haar Engelse familie beweeg.

Tussen die ouerfigure beweeg nie net die te kalm en eienaardige Amor nie, maar ook twee ander kinders: die oudste, Anton, die dienspligtige wat later ’n roman wil skryf, en ook Astrid, sy ly aan bulimie en ydelheid.

Soos Galgut skryf oor een randkarakter wat oor die Swart-gesin nadink: “He doesn’t understand why Manie had to marry Rachel. Oil and water don’t mix. You can see it in their children, f***-**s, the lot of them.”

Jy kan jou kwalik ’n roman indink wat meer van die Groot Onderwerpe in sy bladsye inpas. Die dood. Geloof. Geld. Familie. Geweld. Grond. Ras.

Laasgenoemde twee veral ook in die vorm van Salome, die huiswerker op die plaas.

Amor hou vol haar pa het belowe om haar ma se sterwenswens na te kom: om Salome se huis en die grond waarop dit staan amptelik aan Salome oor te dra. Wat volg is die heen-en-weer van die suinige Swarts, die leë hart van die roman.

Dis nie ’n boek wat in realistiese vertelwyses belangstel nie.

Dis amper of Galgut wil sê, nee, die Suid-Afrikaanse werklikheid is so vreemd dat dit ’n meer ekspressiewe styl benodig. Die onwaarskynlike, die allegoriese, die absurde, die bonatuurlike, die oordrewe – al dié dinge duik op in die verloop van die verhaal. En dis ’n snelle verloop.

Galgut spring met verstommende vaardigheid van een karakter na ’n ander. Soms word terloopse figure in die verhaal ingetrek – ’n lykbesorger of ’n boemelaar – net vir ’n paar paragrawe, dan beweeg ons weer aan, die blitsige epos van die Swarts gaan voort.

Die humor is bitsig en satiries, maar met ’n hopeloosheid onder dit alles.

Die humor is bitsig en satiries, maar met ’n hopeloosheid onder dit alles. Soos ons lees oor Anton: “He often cries when he laughs, hilarity and weeping almost one thing.”

Galgut skryf dikwels oor die liggaam se uitskeidings – ’n prettige soort toilethumor – wat verbind word met idees oor die abjekte en die biologiese werklikhede van die lyf en die lyk.

Die vertellerstem is geweldig interessant. Dis aspris en selfbewus en ook eintlik tentatief.

Daar is korreksies, veranderings en sylangse kommentaar.

Die leser word ook soms aangespreek. Ons is hier op die ou end doenig met fiksie, herinner dit.

Die vakmanskap van die skryfwerk tref jou. Fyn sinskonstruksie. Op die vlak van woordkeuse is daar ’n Suid-Afrikaanse geur – soos byvoorbeeld “kotch” (soos in kots) en “concomitant” (Ramaphosa se gewraakte c-woord, ook in die konteks van protes gebruik). Hoewel die herhaaldelike “ja” en “ag” op ’n maklike manier plaaslike geur opwek, pla dit later liggies.

Elke nou en dan is daar ’n pragtige, liriese beskrywing.

Oor die Suid-Afrikaanse aksent: “An accent squashed underfoot, all the consonants decapitated and the vowels stove in. Something rusted and rain-stained and dented in the soul, and it comes through in the voice.”

Dis ook die soort boek waarmee jy met jou vriende gaan stry.

Of oor Pretoria in die nag, met die naderende winter: “The Union Buildings lit up like a party, the city simmering below in its murky pot. Past embasies strung out like jewels on a chain, all guarded and immaculate, before real life resumes in the form of brown grass verges and jacarandas losing their leaves. The edges of everything starting to go burnt and crispy.”

Of ’n raak karakterbeskrywing: “Boredom and petulance have corrupted her features, inking in a little frown between her eyes, a sulky pout to her bottom lip. She’s contracting inwards on some sour core, she has become dissatified, though she’s not always sure with what.”

Dis ook die soort boek waarmee jy met jou vriende gaan stry. Rachel se belofte – wat presies word beloof? (Lees fyn op bladsy 24 en bladsy 184.)

Anton se dood – wat het eintlik daar gebeur?

Die figuur van Amor – op watter maniere herinner sy aan Lucy in J.M. Coetzee se Disgrace? Dis ’n geslaagde roman, ja – is dit ’n geslaagde politieke argument?

Buiten vir Amor en Salome – is die karakters nie dalk ’n bietjie te harteloos en selfsugtig nie? Wat ook al jou antwoorde op dié vrae, The Promise is jou tyd werd. Dis ’n romansier, dié wat weet wat hy aanvang.

En ook net bygesê, dis ’n unieke soort plesier om te dink die wêreld lees ’n uitstekende stuk literatuur wat in plekke soos Menlyn Mall en Muckleneuk afspeel.

Loftus Marais is ’n digter en redakteur van kykNET Verslag in gesprek.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.