Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Poësie
Regstreeks hier: Die metafoor se ondergang
Die digbundel, Mens dier ding.

Mens dier ding

Alfred Schaffer

Vertaal deur Zandra Bezuidenhout

HUMAN & ROUSSEAU, R245

Ek hou nie van biopics nie.

Elke mens se lewe is te ingewikkeld, interessant en vreemd om in ’n 90-minuut-verhaal met ’n begin, middel en einde vas te vang. Dit is dalk hoekom ek wel aanklank vind by Alfred Schaffer se jongste digbundel.

Mens dier ding is dié gerekende Nederlandse digter se sewende bundel en die eerste om as geheel na Afrikaans vertaal te word (’n keur van sy gedigte is deur Daniël Hugo vertaal en gepubliseer as Kom in, dit vries daar buite).

Mens dier ding gaan oor die lewe van die legendariese Shaka, maar alhoewel sy lewensverhaal meestal chronologies weergegee word, is een van die bundel se hooftemas die vergeefsheid daarvan om mense as simbole te gebruik. In die bundel se tweede gedig, “Harde feite rondom Shaka dit wil sê harde feite rondom my”, beskryf Shaka as spreker homself as “ ’n projeksieskerm”, en teen die einde van die (lang) gedig sê hy:

Wat sien ek as ek in die spieël kyk? ’n Golwende weerkaatsing

van ’n weerkaatsing van ’n weerkaatsing.

Ek noem dit die Droste-effek

u noem dit Simboliek.

Laaste feit.

Ek is nie dood nie.

Bewys dit as jy kan.

Resensente interpreteer die bundel se titel veral as ’n verwysing na Shaka se soms dierlike en onmenslike gedrag

Resensente interpreteer die bundel se titel veral as ’n verwysing na Shaka se soms dierlike en onmenslike gedrag. Ek dink egter dit verwys ook na hoe ’n ikoniese figuur soos Shaka nie meer ’n mens is wat soos alle ander diere sterflik is nie, maar eerder ’n ding word wat voortleef in kuns en mites en waarop mense verskillende simbole projekteer.

Die vroeër “projeksies” waarna daar in die bundel verwys word, is veral Thomas Mofolo se roman Chaka (1925) en die televisiereeks Shaka Zulu (1986). Sowel frases uit Mofolo se amper Shakespeariaanse tragedie as gebeure uit die TV-reeks word in Mens dier ding ge-eggo.

In die eerste gedig van die bundel word beskryf hoe Shaka (“ ’n Man gewapen met ’n spies”) in die middel van ’n snelweg gaan lê. Die gedig is geskryf in die styl van ’n (effens onsamehangende) koerantberig en die spreker sê oor Shaka, “Die man wat volgens die polisie onder die invloed was. / Maar wat beteken ‘onder die invloed’.”

Dié retoriese vraag dui moontlik daarop dat dit nie net gaan oor bedwelming nie, maar ook oor die verskillende faktore wat ’n invloed gehad het op die historiese Shaka se aksies, en ook oor hoe hierdie faktore deur ander kunstenaars geïnterpreteer is. In Mofolo se Chaka word sowel Shaka se sukses as sy gewelddadige ondergang aan veral twee goed toegeskryf: die feit dat Shaka se pa hom nie wou erken as sy seun nie, en die mag van die toordokter Isanusi. In Mens dier ding word daar ook na hierdie faktore verwys, maar Shaka se lewensverhaal word ook uit konteks geruk en in die middel van die snelweg (metafories vir die hedendaagse wêreld) geplaas.

Hierdie hedendaagse Shaka is nie ’n mitologiese figuur, ’n koning op ’n heldereis wat uiteindelik ’n tragiese wending neem nie.

Hierdie hedendaagse Shaka is nie ’n mitologiese figuur, ’n koning op ’n heldereis wat uiteindelik ’n tragiese wending neem nie. Hy is ook nie ’n simbool vir die wreedheid van “donker Afrika” nie. Hy is eerder ’n OJ Simpson- of Oscar Pistorius-figuur, vasgevang in verbruikers se obsessie met die opbou van ’n beroemde, en dan die fassinasie met dieselfde beroemde se ondergang.

In die gedig “Shaka se regsaak direk op News24” is Shaka onder verhoor geplaas vir al sy aksies, en word hierdie verhoor in ’n reeks live tweets weergegee. Shaka is hier nie net ’n metafoor vir ’n held wat te veel mag en aanhang gehad het nie, maar ook ’n politikus. Shaka se advokaat noem dat hy “ons siek ekonomie weer oor die muur kon lig!” en die leser dink ook aan oudpres. Jacob Zuma se hofsake.

Soos ek aan die begin van die resensie genoem het, is Shaka in die bundel nie net ’n simbool vir moderne kwessies nie, maar word die beperkings van ’n werklike mens simbool maak van iets, ook verken. In sommige gedigte besin Shaka op sardoniese wyse hieroor: “Verslete beeldspraak kla sy biograaf maar Ag / solank dit werk, dink Shaka”. Dié verkenning gebeur egter veral in die genommerde “dag(droom)”-gedigte.

Waar Shaka se lewensverhaal in die res van die bundel min of meer chronologies vertel word, is hierdie gedigte moeilik om regstreeks te koppel aan die gebeure in sy lewe.

Dit herinner effens aan die werk van die Amerikaanse digter Patricia Lockwood.

Sowel die biografiese as “dag(droom)”-gedigte laat die leser dink, lag en in verwondering oor die varsheid van die beeldspraak en maniere waarop gedagtes geformuleer word.

Dit herinner effens aan die werk van die Amerikaanse digter Patricia Lockwood. In “The Father and Mother of American Tit-Pics” verbeel sy byvoorbeeld hoe Emily Dickinson en Walt Whitman terugkom uit die doderyk om borste te vergelyk (in hierdie scenario is Whitman die moeder en Dickinson die vader van die Amerikaanse poësie).

Die gedig gaan oor temas soos hoe geslagtelikheid beïnvloed hoe kunstenaars gesien word en hoe kunstenaars vandag, soos ander bekendes, geseksualiseer word, maar die spreker beklemtoon veral ook een tema: “What I am TRYING to say is that metaphors are dangerous!”

Soos Lockwood se gedig is Mens dier ding snaaks en laat dit die leser dink oor temas soos die aard van manlikheid, sterflikheid en die misbruik van mag, maar dit gebeur alles met ’n bewustheid van die gevare van metafore en die beperkings van biografieë.

Bibi Burger is ’n dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Gedigte  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.