Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Reis deur jóú én ’n ‘frats’ se verlede

Dié skokkende memoir en literêre reisverslag oor ’n naamlose opgestopte ‘Kalahari-Boesman’, lieflik vertaal deur Daniel Hugo, dwing jou om ondersoek in te stel na die ek (in die titel) én die ander, skryf Herman Lategan.

El negro en ek deur Frank Westerman, uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo.
Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R250.

Jy is 19, jy ryloop deur Spanje. Olyfblink lê jou dae voor jou in die son. Die lewe is lig, daar is nog te min winters om soos ’n swaar mis op jou skouers te kom lê. Tog, in jou broosheid, sien jy ’n skrefie skemering voor jou oopgaan. Dit bly jou twee dekades lank by, sluimerend in jou onderbewuste. En dan, soos in N.P. van Wyk Louw se epiese gedig, kom ’n roering: “Raka het gevoel hoe die stink belle langs hom kruip en die poel se dik room breek.”

Dít is wat in hierdie memoir en literêre reisreportage van die Nederlandse joernalis Frank Westerman gebeur. ’n Naamlose opgestopte “Kalahari-Boesman”, El negro (“die swart een”), se wrede geskiedenis word vir die leser belig en oopgebreek, met verskeie rimpeleffekte.

Indirek dryf die golwings van sy bestaan as fratsagtige jagtrofee uit na die Nederlandse romanfiguur Zwarte Piet, om te blackface (gesigswartsmeerdery), asook Sarah Baartman en Oto Benga. Dit dwing jou om ondersoek in te stel na identiteit, kultuur, die ek (in die titel), en die ander.

                                                                                                    ***

Dit is 1983, Westerman is in sy laat tienerjare en vol swerflus. Danksy ’n saamrygeleentheid bevind hy hom onverwags in Banyoles in die noordooste van Katalonië, Spanje. Daar loer hy by die Darder-mu­seum vir natuurwetenskap in.

In die Saal van die Mens, ’n onderdeel van die Soogdiersaal, sien hy mensape en die skelet van ’n gorilla. Sy “vrolikheid verander in ’n huiwerige rilling”.

Hy sien die opgestopte El negro: halfkaal, lendedoekie, klein, in ’n glaskas. Hy besef dit is nie ’n Madame Tussaud-beeld nie. Hy was ’n mens, afgeslag en toe opgestop soos ’n dier. ’n Eerbetoon dus vir die “kuns” van taksidermie en ’n toonbeeld van vernedering en minagting. Op sy voetstuk is ’n plaatjie vasgeskroef: Boesman uit die Kalahari.

Sy vel is gelooi soos kalfsleer, en omdat dit mettertyd verbleik het, is lagies skoenpolitoer daarop aangebring. Westerman wonder: Hoe eties is dit om mense op te stop en dan soos diere ten toon te stel?

                                                                                                   ***

Die uiteinde is ’n interessante en ingewikkelde reeks skakels wat later bymekaar inpas, maar voordat Westerman hom in ondersoekende literêre niefiksie begeef, voltooi hy eers sy studie in tropiese kultuur-tegnologie.

Die boek speel af in verskeie wêrelddele, onder meer Jamaika, Frankryk, Peru en teen die einde ook in Suid-Afrika. Eers is hy as ontwikkelingswerker by ’n paar lande betrokke. Hierdie ervarings vorm hom verder en laat hom tob oor die rol en subteks van sulke projekte.

Dan, 20 jaar ná sy besoek aan Spanje, lees hy oor El negro in ’n koerant. Nadat hy ’n speurtog na hierdie naamlose man se lewensloop aanpak, slaan sy eie lewe ’n nuwe koers in.

Westerman neem die leser op ’n boeiende postume toer deur die “fratsman” se verlede. Die twyfelagtige rol van mense soos die Franse broers Jules en Édouard Verreaux wat allerlei jagtrofeë en “naturalia” uit Afrika na hul tuisland verskeep het, word ondersoek.

Van die ander name wat opduik, is die dierkundige Georges Cuvier, Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, en, op ’n besoek aan die Kaap, die digter-skrywer Antjie Krog.

Sarah Baartman word ook belig, en ’n roerende gedeelte van Diana Ferrus se gedig met daardie eerste verskriklike reël, “I’ve come to take you home”, verskyn hier.

’n Mens wil nie die einde of te veel van die verhaal verklap nie, maar een ding staan uit: Bitter min het eintlik vir die sogenaamde Boesmans verander. Dit is asof hul geskiedenis “net ’n toegegooide gat onder sanderige sooie is”. Ons moet ons skaam – en dit sluit swart nasionaliste in.

                                                                                                        ***

El negro en ek beslaan 239 bladsye: ’n proloog, agt hoofstukke, ’n epiloog en ’n verantwoording. Die eerste uitgawe het reeds in 2004 verskyn en aanvanklik het hierdie resensent gevoel die boek grens dalk aan réchauffé (opgewarmde kos).

Toe nou nie, want El negro se storie is grotendeels nog onbekend in Suid-Afrika. Boonop moet wit mense se soms aanmatigende interaksie met “swart lywe” nog op vele vlakke en sonder histeriese vervolgingswaan, “wit trane” en kleinserige, narsistiese tingerigheid ondersoek word.

As jy die register van die boek snap, wat dalk eers ná ’n paar bladsye of diepe nadenke volg, sal jy tot verhelderende insigte kom. Hierdie boek word internasionaal hoog geag en is reeds in Spaans, Katalaans, Duits, Italiaans, Frans, Japannees, Pools en nou ook in Afrikaans vertaal.

Die plaaslike vertaler is die taalmeester Daniel Hugo, wat oneindig baie doen om Afrikaanse lesers se soms bekrompe horisonne te verbreed met verheffende kruisbestuiwings van Nederlandse en Vlaamse boeke.

Hugo het reeds 13 poësiebundels gepubliseer, en sy fyn aanvoeling vir die musikaliteit en hartklop van woorde skemer uiteraard sterk deur met sy vertalings waarvoor hy met reg met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir vertaalde werk bekroon is.

Een van die wonderlike woorde wat hier voorkom, is ’n “vogkombers” in Jamaika: Nie van seelug nie, maar van tropiese kruie en plantaardige geure.

Die uitgewer Nicol Stassen en sy span by Protea Boekhuis verdien ook ’n buiging van die knie vir hul innoverende bydrae tot die boekstawing van ons land se geskiedenis. Om in hierdie tye in die uitgewersbedryf te oorleef is heldhaftig, en Stassen se uitgewery sal nie deur historici vergeet word nie. Doen so voort.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.