Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Reis na die hart van die Khoisan

Is ‘Ware mense’ Bart de Graaff se ‘kompensasie’ namens die Hollanders aan die vergete nasate van die Khoi-Khoin, wonder Heindrich Wyngaard.

Ware mense deur Bart de Graaff, vertaal deur Daniel Hugo, met portretstudies deur Geert Snoeijer. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R250

Die inleiding van Mick Conefrey se The Adventurer’s Handbook: Life Lessons from History’s Great Explorers (2006) begin met ’n eenvoudige stelling: “All expeditions are unique, but many follow an archetypal pattern.”

Kortliks kom dit daarop neer dat iemand ’n einddoel stel, op ’n reis vertrek en langs die pad allerlei struikelblokke en krisisse oorkom. Die ekspedisie kom tot ’n einde – suksesvol of nie – en dié wat dit tot die einde gemaak het, keer dan terug na óf groot belangstelling tuis oor wat die ekspedisie opgelewer het óf ’n traak-my-nieagtigheid.

Só het die Nederlandse historikus en joernalis Bart de Graaff vanweë sy belangstelling in Suid-Afrika in 2015 en 2016 ’n ekspedisie hierheen en na Namibië aangepak. Sy einddoel: om die nasate van die Khoi-Khoin (of Khoi-San, soos dit meer algemeen gebruik word) “op te spoor en aan die woord te stel”. Sy “helper”: die dokumentêre fotograaf Geert Snoeijer.

Die eindresultaat is dié pragstuk, Waremense, wat reeds belangstelling gaande het, en keurig uitgegee is deur Protea Boekhuis op glanspapier en met voortreflike portretstudies deur Snoeijer. Hierdie boek met Barend Vilander en sy skerp kyk op die omslag, ’n geamuseerde of behoudende trek om sy mond, mag jy maar op sy baadjie takseer . . . Moet dit nie eerder ’n koffietafelboek gewees het nie?

Opdat die Khoi-Khoin vir meer mense sal ‘tel’.

De Graaff se skryfwerk, uit Nederlands vertaal deur die digter Daniel Hugo, sou ongetwyfeld goed daarby pas: Hy skryf in die reisjoernaaltradisie, dagboekstyl, gebruik sy woorde poëties-spaarsamig (“Die grond is grou soos droë klei”). Jy kan in sy beskrywing van diegene wie se verhale hy vertel, sien hoe hy by Snoeijer, soos hyself sê, “nuwe maniere geleer het om na mense te kyk”.

’n Mens word hierdeur herinner aan ’n stelling deur prof. Bill Nasson in sy resensie (vir LitNet) van Nicol Stassen se seminale werk The Boers in Angola, oorspronklik in Afrikaans uitgegee as Afrikaners in Angola. Dié boek, skryf Nasson, “gets to the heart of the individuals whose lives it depicts”.

De Graaff kry dit ewe goed reg met die wyse waarop hy hierdie hedendaagse nasate van die Korannas, Basters, Namas, Griekwas, met voorname en vanne waarvan hulle dikwels self nie die oorsprong ken nie, tot lewe bring. Die leser ontmoet onder andere vir Erika Vleermuis, Pauline Yzerbek, Raymond Beddy, Harold Beck, Job Buffel, Jan Kok, Hendrik Bott, Ragel Bock, oom “Doenkie” Kraalshoek, Che Guevara Vleermuis en Coleusia van Delft op die Kaapse Vlakte. Hulle is afstammelinge van die Khoi-Khoin-groepe waarvan talle uit die ou Kaapkolonie getrek het – na anderkant die Oranjerivier, die Oos-Kaap, Namibië – agter ’n nuwe bestaan aan, wég van die nuwe aankomelinge aan die Kaap wat hul gasvryheid misbruik het.

Erika Vleermuis

Maar soos die Hollandse en later Britse setlaars aan die voet van Afrika aan hulle gedoen het, het hierdie “voortrekkers” hulle ook in hul nuwe tuistes vasgeloop teen Duitse sendelinge en ander “witte menschen”, wat ontbloot word as vergrypers van menseregte en grypers van grond. Dit sluit mede-Khoi-Khoin-groepe in en die onderlinge struwelinge duur tot vandag voort.

In Ware mense lees jy dat die nasate se narratiewe uit ’n eiesoortige drie-enigheid bestaan: ’n versugting na erkenning van hul taal en kultuur, die uitleef en bevordering van hul identiteit en die terugkry van hul tradisionele stamgrond. Maar helaas, sowel hier in Suid-Afrika onder ’n ANC-regering as in die Swapo-regeerde Namibië, ervaar hulle as “etniese minderhede” dat hul deelname aan die bevrydingstryd vergete is, hul bestaansreg ontken, hul menswaardigheid vertrap.

“Ons,” sê Gert Power, “word nie getel nie.”

Sou dit wees dat die avonturier De Graaff met hierdie ekspedisie wou help om, soos Colin April pleit op bl. 74, “kompensasie” namens sy Hollandse moederland te betaal? Opdat die Khoi-Khoin en hul nasate voortaan vir meer mense sal “tel”.

  • Heindrich Wyngaard is ’n aktualiteitsaanbieder en skrywer.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.