Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Reis na hart van die hede

Etienne van Heerden se swaar en groot ‘Die biblioteek aan die einde van die wêreld’ bied ’n onthutsende toekomsblik, maar is ook ’n satire wat die heersende politiek in Suid-Afrika wrang en bitter opstuur, kompleet asof hy wil sê: ‘Hier is ek en swyg gaan ek nie swyg nie!’, skryf Jean Meiring.

Etienne van Heerden

Die biblioteek aan die einde van die wêreld  deur Etienne van Heerden. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R360.

Dis self ’n biblioteek dié, besef jy as jy Etienne van Heerden se nuutste roman, van verbeeldingsvlugheid trommeldik en swaar, in jou piepklein hande koester.

Rondom ’n rooi knal op die voorplat wentel hoeveel pastiche-oë wat jou agterdogtig bespied. Is jy welbelese genoeg, wil hulle vra, om hierdie bielie van ’n storieboks met dubbele bodem op dubbele boom op te neem? Is jy voldoende beleë om in die weë van die heer Van Heerden te loop? Die biblioteek aan die einde van die wêreld is immers tegelyk baie teenstrydige, verkwiklike dinge.

Ten eerste is dit die verhaal van drie sonderlinge en boeiende karakters wat volkome mens is én simbool.

Eers is daar Thuli Khumalo, as 30-jarige ’n vuurvreter onder die Rhodes Must Fall-studenteaktiviste aan die Universiteit van Kaapstad (UK). As telg van uitgeweke struggle-ouers is sy in Engeland gebore en getoë; haar gepoleerde aksent en bevoorregting dryf soms ’n ongemaklike wig tussen haar en diegene vir wie sy ’n stuurvrou is.

Hoe vertaal jy die dinge wat om jou gebeur tot begrip?

Ian Brand weer is ’n suksesvolle prokureur met toegang tot ’n daktuin – so reg uit Van Heerden se Casspirs en campari’s (1991) – wat sy halfeeu nadersnel. Hy is ’n veteraan van die Grensoorlog en van studie aan Oxford en Cambridge. Ál dringender voel hy hoe die lappie Afrikaans waarop hy hom kan tuismaak, rafel vir rafel kleiner word.

Jerome Maarman is ’n bruin man van Fluitjiesdrif in die Noord-Kaap wat sy skrede metterwoon Kaapstad toe gewend het. Weekliks is sy onderdak in Futsek, ’n informele nedersettinkie naby die UK, en naweke lê hy in ’n hok in sy oom, ’n veteraan van die UDF, se agterjaart in Fagan’s Farm.

Dié drieluik loop aan die UK onder dr. Stephen Eliot ’n kursus in vertaling. In ’n vertrekkie sekerlik nie te ver van waar Van Heerden self, tot enkele jare terug, die uitrafelende taal doseer het nie.

Ian dring lomp aan op sy menings oor sy identiteit en sy taal. Thuli wil niks weet nie. Vir haar is Ian die versinnebeelding van wit bevoordeling en broosheid.

Jerome sukkel op Engels, maar vind Ian se pogings om hom as medestryder nader te hark kru en opportunisties.

Maar vroeg reeds besef die kursusgangers dit gaan “in hul kursus oor meer as vertaling uit een taal in ’n ander”. “Dit raak ’n vraag na sin. Hoe vertaal jy die dinge wat om jou gebeur tot begrip? Hoe gee jy daaraan sin?” (bl. 43)

En dis presies wat die meesterprosaïs Van Heerden hier oor amper 650 breë bladsye in prikwater-Afrikaans doen. Hy probeer sin fingeer uit die knalle wat Suid-Afrika se wederstrewige tektoniese plate daagliks oplewer.

Die vertaalklas, verhul agter die beblaarde mure van die UK, is inderdaad die middelpunt van die verhaal, die verhogie waar die uiteenlopende, sentrale karakters byeengegooi word en telkens soos die knal op die voorplat weer uitmekaarflenter.

Vanuit hierdie klein reghoek waaier die verhaal uit na Shanghai, die Chinese stad met die sterkste Westerse, koloniale voetafdrukke, waarheen Thuli op ’n doodsending uitwyk. (Dít word die leser reeds op die eerste bladsy wys.)

Ook na Boedapest, waar ’n reënboog vol historiese onregte in herinnering geroep word en waar Ian, dan nog onwetend, ook ’n sterfbed betree. En les bes na ’n aftelrympie van Karoo-dorpe – Calvinia, Nieu-Bethesda, Prins Albert, Graaff-Reinet, Cradock (Van Heerden se eie tuisdorp) – wie se grondgebied Ian afweeg vir die oprig van sy beoogde biblioteek. Die biblioteek wat as bewaarplek moet dien vir elke boek wat al oor die Karoo gepen is, vir uitgeworpe skilderye, en vir verbode boeke. Die biblioteek aan die einde van ’n grondpad – vir sý verbode taal.

Die verhaal van dié drie karakters, en ’n wyer newerolverdeling van ouers, sakekennis-vriende en minnaars, speel kleurryk op Van Heerden se wye doek uit. Sy kwas laat opgehewe rowe verf as littekens agter.

Die verteller is nou ’n alsiende spelende god wat oor lewens én lesers se verwagtinge beskik, dan weer ’n eerstepersoon-Jerome wat die leser op sy private gedagtestroom meeneem.

Eweneens kantel die verhaal in Van Heerden se geoefende hande soos ’n klimtol heen en weer – nou die toekoms in, nou na die voortyd, toe dinge betreklik eenvoudig en selfs verstaanbaar was. Soos teen die onderwand van ’n kaleidoskoop kom stukkies van die storie só naasmekaar tot ruste, om daar weer skielik versteur te word.

’n Sleutelwoord is immers “duisel” en al sy verbuigings. Karakters duisel knaend soos die fondamente van hul wêreld verskuif. En herwin dan weer kortstondig hul sinne. En oor dít alles span die skrywer ’n ryk en verwikkelde tematiese net. Benewens ’n dringende besorgdheid oor die toekoms hier te lande van die Afrikaner en sy taal, is Van Heerden se hoofbemoeienis met persoonlike vryheid en die stelselmatige inkorting daarvan sodat die kreef nouliks enigiets agterkom.

Die hoofgebeure speel af in die tydvak enkele jare terug toe die Valliste, soos Van Heerden die studente noem wat deur standbeelde te laat sneuwel die verlede tot ’n einde wou bring.

Tog klits hy die feite tot ’n beklemmende en distopiese hiperboliese toekomsblik op.

Oral is daar sekerheidskameras wat suutjies-suutjies voorheen private ruimtes binnedring. In elke hoek en gaatjie, teen mure en agter glas, draai daar – soos op die voorplat – ’n bespiedende oog. Maar dié oë bespied nie net nie. Hulle word gou die baksteendraers van die nuwe morele konsensus, wat soos ’n eenverdieping-monstruositeit oor Suid-Afrika diggebou word.

Akademiese vryheid is gaandeweg ’n hersenskim. ’n Minderheidsmening is ’n onuitwisbare vlek. Twitter stuur in ’n ommesientjie en konteksloos ’n polities-weersprakige uitlating sewe keer om die aardbol voordat jy besef jy kon dit dalk anders gestel het.

In China voel Thuli aan eie bas hoe George Orwell se toekomsblik in die roman 1984 bewaarheid is. Hoe sy “Grootbroer” (bl. 433) alles bekyk en, soos die Chinese haar sal sê, beveilig.

Dié tema vorm ook die sentrale skarnier van die boek se intrige. Selfs die wettelose Suid-Afrika sal beveilig kan word, besef Grotius de Grootte, die draer van die goue das en lid van die Stellenbosse mafia. So ook Cat Khumalo, Thuli se pa, en sy lakei, die skaduagtige Sello.

Uit die wydverspreide versugting na veiligheid, meer belangrik, is daar baie geld te oes. As persoonlike vryhede die munte is wat verkwansel moet word sodat Stellenbosse en struggle-beursies kan bult, is dit dooddollies en hompiekedompie. Teen wil en dank dans al wat pop is.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld bied derhalwe ’n dikwels deprimerende, onthutsende toekomsblik. Dit is ook ’n satire wat die heersende politiek in Suid-Afrika wrang en bitter opstuur.

Daar is ’n sirkustent vol rare karakters wat dikwels die wêreld vol vlieg: ’n Speelgoedsmous wat met ’n bordspel genaamd Nkandla wil smous; ’n haakneus-mooimaakdokter wat op die agterknie fikseer; ’n uitgewer wat op slenterseks versot is.

Ook word die taal- en identiteitspolitiek onder Afrikaanses aan fyn snywerk onderwerp. Ian, die taalstrydros, wie se naam soms deur nie-Afrikaanssprekendes tot Een verwring word, is ’n herrese Bart Nel wat vir sy minnares sê: “Ja, Elizabeth, ek ís nog hy” (bl. 614).

En dis ’n buitengewone soort outobiografie. Is dit nie, wonder ’n mens telkens, Van Heerden self wat hier die besef bepieker dat sý (en sy tipe) se dae getel is – en dat al uitkoms is om sy rug op als te keer en sy eie lewenswerk in sy komvandaan Cradock in ’n biblioteek te gaan bewaar?

As dit wel die geval is, doen hy dit met ’n groot knal ironie. Waar Ian tot die insig kom dat hy hom dalk, ná joga en meditasie, ter lewensverbetering in die “swygkuns” moet onderlê, doen Van Heerden die juiste teendeel. Oor byna 650 bladsye heen hou hy aan bewéég – soos in soveel van sy onlangse romans die wêreld oor – en maak hy ’n klinkende geraas.

Hy kyk op sy eie oeuvre terug, sinspeel op en ironiseer heelwat van die motiewe uit sy vorige boeke – en trek selfs teësinnige karakters anderboek uit en hiér die boek in. Hy wil sê: “Hier is ek en swyg gaan ek nie swyg nie!”

Hierdie swaar en groot boek wíl gelees word. Die nimmereindigheid blaaie ten spyt, neem Van Heerden sy lesers op bedwelmende vlerke die hart van die hede binne.

Daar’s gewis geen antwoorde nie; gewoon vrae wat dikwels diep ontsenuend is. Is dit immers nie die einde van die wêreld nie as geen biblioteek dáár staan nie?

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.