Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Reise en rusies van ’n aartsdokumenteerder

Niefiksie (Reisverhaal)

Hier gaat ons!

reise en rampe

Gerard Scholtz

HEMEL & SEE BOEKE, R280

Reeds in die boek se eerste paragraaf vertel Gerard Scholtz hy is ’n “verbete dokumenteerder”. Iemand wat alles neerskryf, dagboek hou, foto’s neem en koerantuitknipsels versamel. Hy glo ook om met ’n tema te reis gee jou rigting en betekenis.

Sy liefde vir stories gaan terug na sy grootwordjare in die Waterberg, waar hy sy “woorde en wete in ’n bos-berg-metafisiese wêreld met storievertellers, spoke, sjamaans, ouers en grootouers gekry het”.

Hoewel hy reeds in 1997 op die taamlik jong ouderdom van 47 afgetree het as dramadosent, is hy deesdae die boekeredakteur van De Kat en ’n vervaardiger en aanbieder van insetsels op die gelyknamige TV-program. In 2010 is sy debuutroman, Lig wankelend, deur Queillerie uitgegee.

Die afgelope 30 jaar reis Scholtz en sy vrou, Anuta, wat op Rooiels woon, met mening. Hulle het reeds 60 000 km met trapfietse, bromponies en soms te voet afgelê met meer as 50 lande se stempels in hul paspoorte.

Die twee reis meestal op hul eie, soms saam met maats en altyd in die geselskap van ’n “getroue kavalkade van vrolike engele”.

Die titel Hier gaat ons! is ’n wekroep wat iets verklap van die geesdrif en nuuskierigheid waarmee Scholtz reis. In hierdie boek fokus hy veral op hul Europese avonture van die afgelope dekades, met ’n vinnige besoek aan Egipte en ’n tuisreis na die Waterberg. Dit is ’n omvangryke boek van ’n raps meer as 300 bladsye, keurig uitgegee met ’n ruim fotoafdeling in kleur.

Hier gaat ons! is ’n boeiende en inspirerende boek wat ook op die kosbare binnereis en selfontdekking fokus.

Die boek beskryf dus nie één epiese tog nie, maar eerder ’n reeks reisstories en -ervarings, in kort hoofstukke wat elk vergesel word van ’n knap kaart wat Scholtz self met die hand geteken het. Weens dié tydspronge hoef die reisstories nie noodwendig chronologies gelees te word nie.

Die boek is allermins ’n blote versameling van lukrake dagboek- of bloginskrywings. Reeds vroeg in die eerste hoofstuk, tydens ’n onderonsie met die Russiese amptenary op ’n chaotiese lughawe buite Moskou, word die dialoog op ’n vindingryke manier aangedui: Dele in kursief wys wat Scholtz eintlik in Afrikaans gedink het.

Anuta se perspektief word ook aangebied tydens ’n insident waar die egpaar “mekaar verloor” gedurende ’n fietsrit in Basel. Toepaslike terugflitse na Scholtz se kinderjare word soms in kursief aangedui en verskeie hoofstukke eindig met ’n kort naskrif van ’n latere herbesoek.

Verskeie lang reisbriewe wat hy tydens hul avonture geskryf het – iets wat vinnig aan die verdwyn is in die era van WhatsApp-boodskappe en emoji’s – is ook in die boek ingesluit.

Dwarsdeur die boek deel hy ook sy liefde vir en kennis van kuns, letterkunde, musiek, filosofie en flieks, met aanhalings van Nietzsch­e tot Hennie Aucamp.

Scholtz is ’n bedrewe reis­skrywer. Hy val nie terug op clichés of brosjure-agtige beskrywings van landskappe nie. Dit is verfrissend om te lees hoe die realiteit so dikwels verskil van die poskaartprentjies.

“Waar is die Ierland wat ons bo­sinnelik moet bekoor?” vra hy in ’n stadium teleurgesteld (en effens tong in die kies) tydens ’n fietsryvakansie. En in Wallis blêr die skape “heelnag moord”. Op die Russiese platteland vind hy die befaamde vodka-proe maar net soos mampoer in die Waterberg.

Soms is hy ’n bietjie venynig, met verwysings na “ellendige mense” op ’n stasie of ’n man “wat lyk of hy verkeerd geteel is”, maar dit is slegs enkele uitsonderings. Meestal kyk hy wel met deernis en ’n tikkie ironie na die plekke en mense wat hy teëkom.

Een van die temas wat sterk en deurlopend na vore kom, is rampe, soos die subtitel aandui. Hierdie “rampe” is dikwels persoonlik van aard: ’n beursie wat agterbly op ’n stasiebank in Cardiff, maagkrampe in Istanbul, ’n bromponieongeluk in Toskane . . .

Scholtz skryf ook eerlik oor die eise wat reis soms aan ’n verhouding stel, omstandighede wat kan maak dat “huwelike verkrummel”, soos wanneer hulle gestrand is in Abisko, ’n Sweedse dorpie noord van die Noordpoolsirkel: “Daar op daardie godverlate stasie, ver van die huis af, raak ons humeurig met mekaar – om dit sagkens te stel. Paniek en vrees vir die onbekende breek alle ordentlikheid en respek.”

Gelukkig weet Scholtz al hierdie trane, angste, gesukkel en ontberings lei uiteindelik tot goeie stories, al is dit eers lank ná die tyd.

Groter menslike rampe soos slagvelde, strafkampe, ghetto’s en museums kry ook baie aandag en dié skryfwerk is van die aangrypendste in die boek. Hulle reis in die suidweste van Frankryk deur “die allerverskriklike geskiedenis van die Christendom” van die 13de eeu, besoek konsentrasiekampe in Pole en Duitsland asook die Eerste Wêreldoorlog-loopgrawe in Vlaandere.

Hier gaat ons! is ’n boeiende en inspirerende boek wat ook op die kosbare binnereis en selfontdekking fokus.

  • Erns Grundling is ’n skrywer, TV-aanbieder en vryskutjoernalis.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.