Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Réney bou vir geliefdes monumente
Renéy WarringtonFoto: Hannelie Coetzee

Op die voorblad van Smit Motors, die tweede roman van Réney Warrington, is daar ’n man wat ’n klein dogtertjie in sy arms koester.

Dit is ’n foto van die skrywer se oupa Piet en haar as vierjarige. ’n Verhouding wat sentraal staan in Smit Motors is ook van ’n oupa wat sy kleindogter eiehandig grootmaak nadat haar ma haar versaak het.

In dié besonderse roman kom verskeie verhale saam – stories oor familie, minnaars, ouerskap en buitestanderskap. Dit speel op ’n klein Vrystaatse dorpie af waar Petra uit Johannesburg aanland om die werkswinkel, wat haar oupa aan haar bemaak het, op te knap. Só leer sy van die dorpenaars ken.

Dit is die eerste roman wat onder die druknaam Wênkbrou van Lapa- Uitgewers verskyn het, ’n nuwe tuiste vir wat die uitgewer Johan Jack Smith noem boeke wat buite genres val. “Die boeke wat die leser vrae laat vra en dink wanneer hulle die boek toemaak. Dit kyk anders na verhoudings. Dit gaan oor randfigure.”

Die roman het begin by ’n toneel wat oor en oor in Warrington se kop gedraai het. “Net voor sonop sit ’n vrou in ’n speelpark en rook. Haar hoodie is oor haar kop getrek. Sy wonder oor die dorpenaars aan die slaap in hul beddens. Sy wonder hoe hulle oor haar sal voel. Hierdie toneel is nie in die finale boek nie. Dit het uitgeval in ronde ses (van omtrent tien). Dit was wel die begin van Petra, ’n buitestander, ’n waarnemer. Van daar af het die vraagstukke wat my pla, háár begin pla.”

Smit Motors is opgedra “aan kinders soos Monty”. Baie stories in die roman kring uit rondom geweld teen en die verwaarlosing van kinders. Vir haar was die kruks van Smit Motors dat ons as ’n samelewing nie wil inmeng as ’n kind verwaarloos of emosioneel afgeknou word nie, soos die kind Monty in die roman.

Die omslag van Renéy Warrington se Smit Motors.

“Ek verwys nie hier na erge fisieke of seksuele misbruik nie, maar na die minder opsigtelike vorms van verwaarlosing. Ons wil nie die ouers, soms ons vriende of bure, omkrap nie. Ons is te ordentlik of te bang. Petra sien Monty is vuil en honger. Aanvanklik jaag sy hom tog weg, stuur sy hom huis toe – en dit is iets wat haar vir altyd gaan bybly.”

Die roman belig families, wat ander vorms kan aanneem as dié wat uit bloed saamgestel is. Ouers wat werklik ouers is, maar ook dié wat hul kinders verlaat of fisiek en geestelik verrinneweer. Die gedagte is dat bloed juis nie dikker is as water nie.

“Ek glo in die gesegde ‘It takes a village to raise a child’. Ek is gelukkig, want ek het ’n besonderse ma.” Sy verwys gereeld in humoristiese staaltjies op Facebook na haar ma as die Moederskip.

“Ek het ook besonderse tannies gehad waarna ek opgekyk het. Met die geboorte van my gestremde boetie, RB, het die hele Kroonstad, en later die gemeenskap van New­castle, saamgestaan en ons gehelp.”

As kind was sy omring deur grootmense “wat omgegee het, wat opgedaag het en soms net saam tee gedrink het”.

“My ma was die kern wat goeie mense na haar en ons familie toe getrek het. Ek het by hulle geleer.”

Die kunstenaar Jan van der Merwe het Warrington eendag op en af gekyk nadat hy haar fotokuns gesien het, en vir haar gesê dat sy monumente vir mense bou.

“Ek moes eers daaroor gaan dink, maar het wel besef, of ek nou foto’s uitstal, boeke skryf of kortflieks skiet, hy is reg. Ek bou monumente vir my susterskinders wat ek verloor het, my brawe boetie wat oorlede is en my wonderlike ma.”

Warrington meen herhalende temas in haar skryfwerk is gestremdheid, kinders en hul verhoudings met hul ouers en die omgewing.

Die besonderse voorblad van die boek is deur haar ontwerp

“Ek het vyf jaar terug besluit dit sal op die voorblad wees. Die arme Wênkbrou-span het nie geweet wat hulle tref nie. Ons het heeltemal verskil oor hoe die voorblad moet lyk.

“Ek het voet by stuk gehou en aanhou ontwerp. (Ek het op die tydstip geluister na Bruce Springsteen se outobiografiese album, Born to Run, en moed geskep. Hy het die album drie jaar teruggehou omdat hy nie gelukkig was daarmee nie.) Ná min of meer 50 ontwerpe het ek een ontwerp gehad waaroor almal mal was. Dit was ’n groot verligting. Ek besef ek was hardegat, maar ek is bly ek het gehou by dié foto.”

Sy skerts dat sy gelukkig nie geweet het van die “vloek” wat skrywers verduur om ’n tweede roman aan die gang te kry nie, anders het sy haar daaroor bekommer.

Smit Motors is een van drie manuskripte waaraan ek gewerk het sedert Oktober in 2012 gepubliseer is. Dit is 2048 staan al op 91 550 woorde. Natuurlik is dit bloot pogings in hierdie stadium. ’n Uitgewer moet nog ja sê daarvoor, maar ten minste skryf ek.”

Sy skryf in haar kop, en beplan die beste wanneer sy ’n lang grondpad tref.

“Ek los probleme op wanneer ek stap – gewoonlik deur die buurte van Joburg. Ek kan enige plek skryf. In my studeerkamer, in ’n koffiewinkel, in die middel van die veld. As daar te veel geraas is, sit ek oorfone in en luister Dave Brubeck of Brad Mehldau. Solank ek afgesny voel van die wêreld.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.