Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rit uit die hel: Sensitiewes moet weet jy kan nie afklim

Misdaadfiksielesers wat hou van ongenaakbare realisme waar koppe letterlik waai en bloed en brein spat, sal gaande wees oor Johan Jack Smith se debuutroman, maar sensitiewe lesers en fynbe- snaarde feministe moet liefs in hul pasoppens wees, skryf Deborah Steinmair.

Zola deur Johan Jack Smith. Uitgewer: Penguin. Prys: R265.

Misdaadfiksie loon in Afrikaans en daar is boonop ’n nuwe kind in die buurt. As jy hou van grinterige realisme – polisieprosedure, misdaad­tonele, forensiese ondersoeke, lykskouings, skalpels en reeksmoordenaars wat hul slagoffers maksimaal gewelddadig afmaai – kan jy gerus in dié minibustaxi klim vir ’n hondsdol hellevaart vol slaggate, haarnaalddraaie, vallende rotse, fluitende koeëls, afgronde soos magnete, vaartboggels en traangas. Die storielyn span snaarstyf, koppe waai letterlik en bloed en brein spat die windskerm vol met skerfies been wat onder die ruitveërs girts.

As liefhebber van huishoudelike noir, waar die rillings hoofsaaklik sielkundig van aard en die moordenaar dikwels ’n versteurde loervink-huisvrou is, voel dit soms of skrywers in die harde misdaadgenre gaan sit en dink: Presies hoe kan ek die vroulike liggaam optimaal verfomfaai? Wat kan ek waar laat indruk en opstamp wat alles sal laat kneus, bloei, skeur, verkool, elektrifiseer en afsaag. ’n Mens probeer jou geestesoog vergeefs toeknyp teen die beelde, maar jy weet dis die werklikheid – dink maar aan die Modimolle-monster, Ted Bundy, Jeffrey Dahmer en vele ander.

Die leser kry ’n seldsame en verhelderende kykie in die troebel subkultuur van taxibestuurders.

Zola se aanname en hantering van storielyn en karakter is nie werklik nuut nie, maar dis uiters geslaag in dié genre. Dit is ’n eenrigtingrit in ’n taxi waaruit jy nie kan klim nie en die stem is die ene outoriteit, soos dié van ’n gesoute misdaadskrywer. Die enigmatiese Johan Jack Smith is immers rocker sowel as uitgewer by Wenkbrou én redakteur van Taalgenoot.

Die leser beleef die gebeure hoofsaaklik uit die oogpunt van twee karakters: kapt. David Majola en ao. Jason Basson, eersgenoemde Zoeloe en laasgenoemde Afrikaans.

Volgens die voorskrif van die genre sleep elkeen sy persoonlike geraamtes, albatrosse en duiwels saam: posttraumatiese stresversteuring, kokaïen, brannas, bedrog, rassisme en geweld. Basson is uiteraard die trippel-Klippies-en-Coke-man met posttraumatiese stresversteuring (PTSV), ’n dwalende oog en bewerige morele kompas, woedekwessies en rassistiese gevoelens wat vlak onder die vel huiwer.

David Majola het tussen wit mense grootgeword, praat “mooi Afrikaans” hoewel die idiome hom soms pootjie, het as tiener teruggetrek na sy biologiese ma in die township, bekommer hom oor sy ma en suster, was die slagoffer van ’n geweldmisdaad en besweer sy spoke en uitputting met kokaïen.

Teësinnige respek huiwer tussen die twee van hulle.

Hulle word met die grusaamste moord denkbaar gekonfronteer, ek gaan dit nie eens probeer weergee nie. Spoedig word dit ook duidelik dit is nie die eerste van hierdie monster se groteske kunswerke nie en beslis ook nie die laaste nie.

Jong swart meisies word snags deur ’n kousmus-bestuurder in ’n ou rooi minibustaxi met getinte vensters opgelaai, net daar in die taxi gruwelik gemartel en vermoor en dan soos leidrade langs die pad afgelaai met woorde en nommers op hul lywe uitgekerf – ’n siek raaisel vir die gereg om te ontsyfer.

Die leser kry ’n seldsame en verhelderende kykie in die troebel subkultuur van taxibestuurders. Ek dink aan Kanye West se woorde “we the new slaves”. Hulle moet soggens drieuur al gereed vir die eerste rit in die ry geparkeer staan, die taxi van die eienaar vir wie hulle bestuur uit hul eie sak op die pad hou, soveel boude as menslik moontlik vir soveel ritte as moontlik op die sitplekke kry en is gelukkig as hulle met R4 000 per maand wegstap.

Dan is daar nog gebiedsoorloë, rooftaxi’s, kapers en ander struikrowers. Sangomas voorsien hulle van ’n sekere kruid om vir beskerming te sluk – en wat hulle in werklikheid hoogs aggressief maak. Dink daaraan voordat jy weer op jou toeter lê vir ’n taxi wat voor jou inswenk en tot stilstand kom.

Verminkte lyke hoop op en die arrogante moordenaar gee duidelik nie ’n duit om vir kringtelevisie, kameras of ooggetuies nie. Hy weet skynbaar waar padblokkades gaan wees en speel sadisties kat en muis met die speurders.

Dan is daar natuurlik ook die media (desperaat, soos rotte op ’n sinkende skip) wat die water vertroebel, wat soms meer as die polisie weet en gevaarlike inligting versprei. Die knopiespinnekopwyfie Martie Bam, topjoernalis, is ’n interessante karakter en die leser sien die wêreld ook deur haar slaapkameroë.

Eie aan die genre word die voortvarende kortlont Basson geskors, van die saak onttrek en sy wapen afgeneem. En ook eie aan die genre gaan hy norrefok sy ondersoek staak en het hy darem nog sy pa se roer in sy besit.

Sekere leidrade betrek Majola se mentor, Kappie of Daniël Loots, nou bejaard en verswak. Die verhouding tussen Loots en Majola, wat hy Seunie noem, is ook gekompliseerd, soos onvermydelik in hierdie land. Loots se verlede in die spesiale ondervragingseenheid (lees martel­eenheid) en die spoke van die slegte ou dae steek ook kop uit.

Die vraag ontstaan natuurlik of iemand in die polisiediens die media en moordenaar se informant is.

Dinge word algaande meer obskuur pleks van duideliker, soos dit dikwels in die chaotiese werklikheid en in senutergende misdaadfiksie die geval is.

Daar word nie reënboë geskilder nie, die penseelstrepe is grinterig en die kwas word in gitswart verf gedoop. Dis die stoffasie van nagmerries: hardebaard-, hardekern-misdaad wat nie bes gee nie. Ons weet almal dat toeëiening nie ter sprake is nie en dat skrywers enige hoed mag dra, maar dit wil tog vir my voorkom of David Majola effens sketsmatig bly, raaiselagtig, soos iemand wat van buite gesien word, terwyl die (dikwels laakbare) Afrikaner nogal volrond van die bladsy spring. Tog is albei interessante karakters en bied ruim moontlikheid vir ’n reeks.

Die einde het ek sien kom, maar natuurlik lees ek baie misdaadfiksie. Ten minste beteken dit dis nie uit die lug gegryp nie. Soos te wagte, was daar hier en daar ’n dwaalspoor of lokbokkem, maar vir die misdaadvraat met haar neusgate na die wind en ore teen die grond was die leidrade daar om uit te snuffel.

Natuurlik het ek nie al die kinkels voorsien nie.

Zola is ’n hoogs bevredigende rit as hierdie ongenaakbare subgenre jou voorliefde is. Soos sigaretpakkies behoort dit miskien ’n waarskuwingsbanier te hê: Nie vir sensitiewe lesers en fynbesnaarde feministe nie. Ek bewe nou nog.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Johan Jack Smith  |  Resensie  |  Zola  |  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.