Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Rocketman’ skiet van die heup, draai nie doekies om nie

Autobiografie

Me: Elton John

Elton John

PAN MACMILLAN, R385

Dalk is dit voorbarig om myself ’n aanhanger van die Britse musikant Elton John te noem.

Ek weet dan so min van die man.

Dit was grotendeels my ervaring met die lees van sy “eerste en laaste” outobiografie, Me: Elton John.

Tog het Elton John, gebore as Reginald Dwight op 25 Maart 1947 in Pinner, Middelsex, Engeland, se werk nog altyd my aandag getrek.

Hy is ’n briljante kunstenaar, uitgesproke en kleurvol, ook lief vir kostuums.

Sy boek – wat in dieselfde jaar as die biografiese rolprent Rocketman uitgereik is – is ’n insiggewende leeservaring: Hy was so naïef dat hy nie geweet het “wat dit behels om gay te wees” nie; hy het orrel gespeel in ’n band met die naam Bluesology; Bernard John Taupin is die man agter baie van sy liedjies se lirieke.

Hoewel ek geweet het van sy huwelik met Renate Blauel (1984 tot 1988), was dit nie aan my bekend dat hy ten tyde van sy huwelik met haar deeglik bewus van sy seksualiteit was nie.

Op ’n jong ouderdom het hy ook aan ’n vrou, Linda Woodrow, verloof geraak.

Hy erken hy het tot in sy twintigs nie in seks belanggestel nie. Later het hy alles in sy vermoë gedoen om vir die verlore tyd te ver- goed . . .

Die koerant Sun se berig met die kop “Elton in vice boys scandal”, met die implikasie dat minderjarige seuns betrokke was, het gelei tot ’n oproep van die Rolling Stones-hoofsanger, Mick Jagger, wat hom wou raad gee oor hoe om so iets te benader. John was egter vasbeslote om te bewys die berig versprei leuens.

Me is nie ’n boek wat ’n mens vinnig wil lees nie, daarvoor is daar te veel om te verteer. Terselfdertyd sorg John vir menige kwinkslag in sy narratief. Die man is werklik snaaks.

’n Outobiografie stel uiteraard ook ander mense bloot. In hierdie geval is dit sy ouers en sy problematiese verhouding met hulle.

Hy het ’n band met soveel bekende mense, soos die tennisspeler Billie Jean King, vir wie die lied “Philadelphia Freedom” geskryf is.

Hy het vele ontmoetings met die Britse koninklikes gehad – hy skryf onder meer oor die humor van koning Elizabeth II in haar private hoedanigheid en ’n ete wat hy en sy orkes by prinses Margaret (Elizabeth se suster) genuttig het toe haar man, lord Snowdon (Antony Armstrong-Jones), woedend daar opgedaag het, kru taal en al.

John was op ’n safari saam met Rod Stewart.

Hy skryf reeds in die eerste sin van hoofstuk 1 oor Elvis Presley, die koning van rock ’n roll, van wie hy ’n aanhanger was. Later skryf hy oor hul ontmoeting.

Sy vriendskap met wyle prinses Diana, met wie hy later ’n uitval gehad het, maar oplaas versoen het, is algemeen bekend.

Kort voor haar dood het hulle die begrafnis van die mode-ontwerper Gianni Versace bygewoon.

Hy het op haar begrafnis “Can­dle in the Wind” gesing. Die lied is lank tevore oor die aktrise Marilyn Monroe geskryf, maar die lirieke is vir lady Di se gedenkdiens aangepas.

’n Loopbaan vol triomf het egter ook laagtepunte gehad soos sy dwelmmisbruik, stemprobleme en die moontlike diagnose van keelkanker wat soos ’n swaard oor sy kop gehang het.

Sy stryd met sy ouers – wat geskei is toe hy jonk was – val die meeste op omdat hierdie twee mense, wat skynbaar nooit moes getrou het nie, so ’n briljante kunstenaar opgelewer het.

’n Kind in Soweto het sy hart geroer.

Selfs al is sy pa in 1991 dood, probeer John hom nog aan hom bewys.

Sy verhouding met sy ma, wat in 2017 dood is, was dikwels nie baie heg nie. Sy het onder meer vir hom gesê sy hou nie van kinders nie. Hy skryf ook oor haar private familiebegrafnis en hoe hy die vrou wat hy beskryf het, gemis het selfs dekades voor haar dood.

Sy eie ouerskap (op ’n betreklik rype ouderdom) is gevolglik ook ’n interessante deel van sy lewensverhaal.

Hoewel Me glad nie soos ’n roman lees nie, kan ’n mens John se vaderlike instinkte, wat hom onverhoeds – en nogal in Soweto, suidwes van Johannesburg – betrap het, nie anders as ’n soort karakterontwikkeling beskou nie. ’n Kind in Soweto het sy hart geroer.

Hy en sy man, David Furnish, met wie hy in 2014 getroud is, het uiteindelik twee kinders aangeneem – reeds voor hul huwelik. Hulle het in 1993 ’n verhouding aangeknoop.

Of ’n mens van hom hou of nie, die man het baie vermag.

Hy sê dit immers self op bl. 308: Hy het baie gehad om oor gelukkig te wees.

Dit is lekker leesstof dié. Reg Dwight noem ’n ding op die naam. Jy kry meer as waarop jy gereken het.

Ek is steeds ’n aanhanger.

AJ Opperman is ’n kunsjoernalis vir Netwerk24.

Meer oor:  Elton John  |  Resensies  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.