Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Roepman’-skrywer se roman in tragedie gebore
Jan van Tonder Foto: Human & Rousseau

Nadat sy haarself voor die polisiekantoor op Oudtshoorn doodgeskiet het, is die verevrou aan die skrywer Jan van Tonder verbind. ’n Weergawe van haar storie sou 21 jaar later sy roman, Die verevrou, word. Laetitia Pople het per e-pos met Van Tonder gesels.

Al loop hy al meer as twee dekades met die gegewe van Die verevrou rond, het dit ses jaar se skryfwerk geverg. Die meeste van sy “skryfsels”, soos Jan van Tonder, skrywer van onvergeetlike romans soos Roepman en Is Sagie dit noem, is op die werklikheid gegrond.

Die leser volg die sesjarige Liora van haar grootwordjare op die soom van die Saharawoestyn, haar werk as verpleegster in Algiers, haar lewe as plumassier, of pluimbereider, in Parys, tot haar middeljare in die Klein-Karoo. Dit is ’n epiese verhaal wat oor vastelande en ’n bloedige oorlog heen strek.

“Enkele van my boeke is die resultaat van ’n ingewing, gerugsteun deur baie navorsing en lang maande, selfs jare se skryfwerk, maar die meeste skryfsels is op die werklikheid gegrond.”

Sy heel eerste skrywe, ’n Huisgenoot-kortverhaal getiteld Legio, het in die tronk, Durban se Point-gevangenis, ontstaan.

“Ek was in ’n wagpos vasgevang. Die mense wat ek moes help binne hou was moordenaars en verkragters en verskeie ander misdadigers.”

Om aan dié wêreld te ontsnap het hy ’n storie geskryf oor ’n verstandelik gestremde man in die Klein-Karoo, een wat geen kwaad in hom het nie.

“Die kortverhaal het later gelei tot my roman Is Sagie. Eers toe ek in my geliefde Kannaland naby Ladismith gaan bly het, het ek kans gesien om kortverhale te skryf wat in die tronk afspeel. Só het die bundel Aandenking vir ’n vry man ontstaan.”

Roepman het gevloei uit sy herinneringe aan die spoorwegkamp in Sabie, Mpumalanga, waar hy grootgeword het.

“Op Oudtshoorn wou ek ’n onderhoud met ’n meester-pluimbereider van Parys voer. Sy wou my egter nie te woord staan nie, dus sou daar geen storie uit te voorskyn kon kom nie. Maar toe sy haar drie dae later self voor die polisiekantoor op die dorp doodskiet, het sy my aan haar verbind. Ek kon nie van haar ontslae raak voordat ek Luisa Pappalardo (Liora Papalato in die roman) se storie gefiksionaliseer/gedramatiseer en vertel het nie, ’n proses wat uiteindelik 21 jaar geduur het.”

’n Leser neem swaar afskeid van die besondere karakters wat Van Tonder geskep het in Die verevrou – die avontuurlike jong meisie en later middeljarige, Liora, haar elegante ma, Maman, haar geliefde oom en mentor, Moshe, en Candice, die stelteloper van De Rust met die groen oë wat dwarsdeur jou kyk.

Sy karakters verras hom, bieg hy. Hy beplan nie te veel aan hulle nie, al skryf hy oor vroue sonder ’n aks stereotipe, hul lewe vry en vol avontuur ondanks hul tydvak.

Die omslag van Jan van Tonder se boek Die verevrou.

“Ek beplan my karakters nie in fyn besonderhede nie. Hulle groei namate hulle hul plek in die roman inneem en mettertyd volstaan. Hulle verras my telkens met ’n eiesinnigheid wat lei tot wat ek hoop afgeronde persoonlikhede is, hetsy swak of sterk, buitestanders of opdringeriges.

“My vrouekarakters sal seker altyd sterker as die mans wees, want ek hou meer van vroue, en, ja, ek het sterk vroue as rolmodelle gehad. Ek is ook oud genoeg om verskeie dogtertjies te kon sien meisie en vrou en ma word en in die proses te sien hoe hulle hul krag ten toon stel – krag waaruit die mans in hul lewe ryklik kon put om self sterk te lyk.”

Die raakpunte tussen Suid-Afrika nou aan die vooraand van ’n verkiesing en die wêreld van Die verevrou, die roman, is duidelik met Algerië voor die bloedige oorlog, Suid-Afrika in die hoogty van apartheid en net voor die eerste demokratiese verkiesing.

Die beskrywing van die vlug uit Algiers is skokkend tydloos – dit herinner aan die nood van tallose vlugtelinge tans in die wêreld.

My vrouekarakters sal seker altyd sterker as die mans wees, want ek hou meer van vroue, en, ja, ek het sterk vroue as rolmodelle gehad. Ek is ook oud genoeg om verskeie dogtertjies te kon sien meisie en vrou en ma word en in die proses te sien hoe hulle hul krag ten toon stel – krag waaruit die mans in hul lewe ryklik kon put om self sterk te lyk.”

“Ek is bly jy het dié verband raakgelees. Ek het dit doelbewus onderspeel sodat die onuitgespreekte ’n onheilspellende fluistering kan wees: Daar is nie wenners in dié soort revolusies nie, want ’n groot deel van die bevolking verloor alles, ook hul lewe, en in gans te veel gevalle word die bevryders daarna ook die grootste uitbuiters en verdrukkers – ’n bietjie naleeswerk oor Algerië se geskiedenis ná onafhanklikheidswording in 1962 is ’n skrikwekkende voorbeeld.”

Chrestien, die erg gewonde soldaat, bring al die verskrikking van oorlog na die leser. Sy versorging deur Liora, die hoofkarakter, is amper mities.

“Ek het die karakter geskep om die verskrikking van oorlog op ’n individuele en persoonlike vlak uit te beeld. Chrestien Blanc kom vermink by die hospitaal aan en beland weens die oorvloed gewondes in die sorg van Liora, die jong vrou wat haar mediese studie gestaak het omdat sy glo sy kan as verpleegster gouer van diens wees. Daar vorm ’n besondere band tussen haar en die soldaat, iets wat ek nie voorsien het nie – die soort geskenk waaroor ek altyd dankbaar is.”

Sy stemmingryke en intieme beskrywings van die Klein-Karoo wys hoe na aan Van Tonder se hart dié streek is. Sy jongste roman speel deels op Oudtshoorn, De Rust en omstreke af.

“Van kleins af het ons as gesin Desembervakansies per trein Klein-Karoo toe gereis. Dit was die hoogtepunt van my jaar. As student het ek weer daarheen gegaan en besef dat my liefde vir Dwarsrivier en sy mense nie net ’n kinderparadys was nie, maar dit altyd sal wees. Ek het ook jare lank op Oudtshoorn gewoon. Die platteland en plaaslewe sal my altyd bekoor.”

“Van kleins af het ons as gesin Desembervakansies per trein Klein-Karoo toe gereis. Dit was die hoogtepunt van my jaar. As student het ek weer daarheen gegaan en besef dat my liefde vir Dwarsrivier en sy mense nie net ’n kinderparadys was nie, maar dit altyd sal wees. Ek het ook jare lank op Oudtshoorn gewoon. Die platteland en plaaslewe sal my altyd bekoor.”

Baie jare gelede het hy aan ’n roman (steeds ongepubliseer) gewerk, waarvoor hy baie navorsing moes doen aangesien dit in die bloeityd van die verebedryf sou afspeel – dit was deel van die grondwerk van Die verevrou, vertel hy.

“Ek het destyds elke koerant gelees wat tussen 1889 en 1914 op Oudtshoorn verskyn het. Daar is baie boeke oor die Klein-Karoo se verebedryf gepubliseer.

“Die meeste inligting oor die Algerynse oorlog het ek op die internet gevind. Die foto’s van verminkte soldate en burgerlikes en diere het my slapelose nagte besorg.”

Dit is asof hy skryf met ’n kwas – die boek kan verfilm word, die kinematografie is vasgelê. Van die Saharawoestyn se verlatenheid tot die Klein-Karoo se anderste dor landskap. Hy skilder ook.

“Ek skryf my boeke in tonele, nie hoofstukke nie, en uiteindelik voeg ek dit soos ’n filmredigeerder aanmekaar. My skilderwerk moes ek voorlopig op die lange baan skuif vanweë Luisa Pappalardo se konstante teenwoordigheid. “Sedert die verskyning van my boek laat die verevrou wat dit op so ’n tragiese wyse geïnspireer het, my met rus. Hopelik kom daar ’n vervaardiger of regisseur te voorskyn wat soos jy (en ek) oor die verfilmbaarheid van Die verevrou voel, iemand wat toegang tot genoeg geld het om reg aan die storie te laat geskied. Intussen skryf ek.”

* Die verevrou is deur Human & Rousseau uitgereik.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Klein Karoo  |  Roman  |  Jan Van Tonder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.