Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Roerende verhaal bly draal

Fiksie

Lucky Packet

Trevor Sacks

KWELA, R320

Hierdie indrukwekkende debuutroman doen sy titel gestand. Dit is inderdaad ’n gelukspakkie vol verrassings en pret.

Die intelligente, dik en lekker om te lees boek speel af in die die stormagtige laaste jare van apartheid en gebeure met die 1992-referendum in die voormalige Pietersburg (die enigste plek in die land wat “nee” gestem het).

Nogtans is die boek allermins “polities”. Dit is die verhaal van die Aronbachs, die drie broers, William, Elliot en Ben, en hul weduwee-ma, ’n Engelssprekende Joodse gesin in ’n Afrikaanse Protestantse dorp.

Maar ook in die Joodse gemeenskap is die Aronbachs randfigure.

Die verteller is die jongste van die drie seuns, Ben. In die eerste deel, “1986”, is hy besig om voor te berei vir sy Bar Mitzvah – maar hy doen dit teësinnig en (volgens sy ma) ter wille van sy pa se kant van die familie.

Dan maak die enigmatiese Leo Fein sy verskyning. Hy is ’n skarminkel van die eerste water wat nie net in Ben se kop sy lang gestorwe pa se plek inneem nie, maar ook sy ma se voete onder haar uitslaan. Leo is ’n Joodse boereverneuker wat nie net ’n skyndood sterf nie en in “ballingskap” verdwyn nie . . . hy verdwyn ook met die hele Aronbach-fortuin.

Die tweede deel van die boek heet “1992”. Dit is die tyd van oorgang en ontwrigting met gerugte van ’n rasseoorlog. Dis ’n tyd van diensplig en diensplig-ontduiking en Ben doen sy bes om uit die weermag te bly.

In hierdie wêreld maak Leo Fein weer sy opwagting, steeds vol verskonings en leuens.

In hierdie wêreld maak Leo Fein weer sy opwagting, steeds vol verskonings en leuens. Nou vind die leser saam met Ben uit dat Leo Fein, sy eertydse held en dief van hul rykdom, baie meer is as net ’n bedrieër. Hy is amoreel, iemand wat enigiets sal doen om geld te maak.

Maar selfs hierdie “ernstige” gegewe word alles aangebied met ’n stewige skeut humor.

Die beskrywing van die AWB wat ’n Nat-vergadering ontwrig op die vooraand van die 1992-referendum is dalk die snaaksste politieke skryfwerk in Suid-Afrikaanse letterkunde sedert die rugbywedstryd tussen historiese figure in Dan Roodt se (deesdae meestal vergete) 1980-stukkie anargistiese agitprop, Sonneskyn & Chevrolet.

Lucky Packet is ’n boek vol oortuigende karakters, ’n evokatiewe herskepping van ’n tydsgees en ’n beskrywing van die wit oorheersde platteland wat lankal nie meer bestaan nie.

Dit is ’n roerende vertelling vol medemenslikheid, insig en wysheid en wat uiteindelik oor baie meer handel as die lotgevalle van ’n enkele gesin.

Dis ’n eg Suid-Afrikaanse verhaal wat maklik lees en lank ná die lees steeds in die leser se gedagtes draal.

Harry Kalmer is ’n bekroonde skrywer en dramaturg van Johannesburg.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.