Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rof, astrant, gewelddadig en morsig

Mia Arderne vermeng die harde werklikheid van die Kaapse onderwêreld met ’n stewige klap surrealisme en magiese realisme in haar noir debuutroman, ‘Mermaid Fillet’, waarin die kru taal waarskynlik konserwatiewe lesers sal ontstig, skryf Nadine Petrick.

Mermaid Fillet deur Mia Arderne. Uitgewer: Kwela. Prys: R260.

Die karakters in hierdie boek roep ’n spade ’n n**i en alles anders ’n p**s. Breins en kraakbeen drup hier en daar van vuil mure af, meerminsterte is gesogte items in die internasionale smokkelhandel en as jy sukkel met ’n vrou, gaan die Goddess jou kry.

Sy maak reën; bloedrooi reën.

’n Vloed van menstruele bloed wat uit die lug neersak, gaan jou in jou spoor stop, en nét dalk maak jy nie betyds jou mond toe nie. Drop vir Tarantino in Ravens­mead en kyk wat gebeur.

Mermaid Fillet, ’n noir misdaadroman, is ’n wilde boek. Dis rof en astrant, gewelddadig en morsig. Die Moederstad in dié debuutroman is ver verwyder van die glans van ’n Tjing Tjing Rooftop Bar of ’n drieverdieping-dakwoonstel in Mouillepunt.

Hierdie Kaapstad is die ene bendegeweld, gemeng met stewige happe brandewyn en ’n paar skote depressie en seks.

Arderne, ’n paaldansende joernalis en ook skilder, skryf op ’n visuele manier ’n wêreld oop wat vir baie mense onbekend is, en wat nóg meer van hulle in hul koue chenin gaan laat stik. Haar Kaaps rol in helse onbeskofte slang van die bladsye af. Ook, as jy daglank iewers op straat sit, sal jy al die karakters verby jou sien stap: die malnaai, die tief, die sturvy kin, die grootman, die genuine ou, die banggat en @m16inyourbek. Die karakters is miskien argetipes in elke sin van die woord, maar hulle trap geensins in ’n strik van verveling of voorspelbaarheid nie.

Trauma en geestesgesondheid lê net onder die oppervlak, en verslawing, PTSD en depressie word saam met die daaglikse brood en bier afgesluk. Almal hanteer hulle persoonlike krisisse op ’n unieke manier, maar nie een van hulle ontsnap van die destruktiewe aard van selfmedikasie wat geredelik byderhand is nie – of dit nou alkohol, mag of sosiale media is.

Hierdie sewe karakters vorm die kern van die storie, wat in 1989 begin met die geboorte van die banggat, ’n gender fluid karakter wat met ’n paar Jordan-tekkies aan die wêreld binnekom. Spring tot by die Kerstyd van 2019 en einste banggat moet onder opdrag van Perd, AK en Isaac ’n Tamagotchi vir ’n onidentifiseerbare dog gevaarlike bendeleier opspoor.

Aan wie die ou speelding behoort, waar en hoekom banggat dit moet kry en hoe al die karakters in mekaar vervleg is, vou achronologies maar netjies oop soos ’n gesmokkelde skulpdier.

Die legkaart is nie te kompleks nie, maar die stukke pas uiteindelik vernuftig en uiters vermaaklik in mekaar.

Niemand knip ’n oog vir bloed wat soos ’n Egiptiese plaag van ouds uit die hemel neerdaal nie en meerminne is alledaagse verskynsels.

Die skrywer vermeng die harde realiteit van die Kaapse onderwêreld, waar geslagsgeweld die onderliggende onheil is en die patriargie steeds deur ’n ferm vrouehand beskerm word, met ’n stewige klap surrealisme en magiese realisme.

Niemand knip ’n oog vir bloed wat soos ’n Egiptiese plaag van ouds uit die hemel neerdaal nie en meerminne is alledaagse verskynsels. Nes perlemoen en kreef is ’n meerminstert ’n eksotiese lekkerny wat nie nét groot geld op die swartmark haal nie, maar ook ’n soort aspirasie of versugting na iets onbereikbaars en moontlik ’n beter lewe verteenwoordig, veral vir ’n karakter soos die banggat, wat al sluipende ’n taak probeer uitrig wat dalk hulle (die voornaamwoord wat die banggat verkies) se dood kan veroorsaak.

Hopelik is dié boek die eerste van vele deur Arderne.

Haar werk is snaaks, skokkend, ontstellend en sonder twyfel anders as die meeste misdaadromans wat jy onlangs gelees het.

Helaas gaan die Kaaps oor verskeie lesers se kop vlieg en die ruim gebruik van kru taal gaan sonder enige twyfel meer konserwatiewe lesers ontstig. Dit is egter die moeite werd om dié kans te waag. Indien jy wonder oor ’n woord, phone a friend of google.

Knyp jou oë toe as dinge te grafies raak vir jou swak hart.

In die landskap van plaaslike krimi’s is Mermaid Fillet ’n volslae vars bries, al verbeel jy jou dálk ’n sterk visreukie.

  • Nadine Petrick is ’n vryskutresensent van Stellenbosch wat sedert sy dié resensie geskryf het aangestel is as heeltydse bemarker by Lapa-uitgewers.

Meer oor:  Mia Arderne  |  Boeke  |  Mermaid Fillet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.