Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Roman bruis van waag- én weemoed

Al ondersoek Réney Warrington verskeie maatskaplike ongeregtighede in haar tweede roman, ‘Smit Motors’, raak dié boeiende plattelandse storie nooit prekerig nie, skryf Annie Gagiano.

Réney Warrington

Smit Motors deur Réney Warrington. Uitgewer: Wenkbrou. Prys: R285.

Réney Warrington se tweede roman, Smit Motors, is ’n formidabele én genotvolle leeservaring waarin gewigtige onderwerpe, veral maatskaplike ongeregtighede soos vooroordele teenoor “andershede” (lesbiese seksualiteit, intellektuele gestremdheid, outydse rasbehepthede), skerp onder die soeklig kom – en sonder om ooit prekerig te raak.

Die vertelling is uit die oogpunt van ’n vrou, Petra Smit, dalk in haar laat 30’s, wat treur ná die dood van haar geliefde oupa, die enigste familielid wat sy ooit geken het. Sy het by hom grootgeword in ’n gelukkige dog taamlike arm huishouding.

Die emosionele problematiek van verlies word hier aangepak, sowel as (in ander situasies) kwessies soos kinderverlating, voogdyskap, kinderloosheid, swangerskapprobleme, die afskeep en ver­waar­losing van kinders en kindermishan­deling.

Deur die loop van Petra se natuurlike verteltrant stel sy die leser bekend aan haar verhoudingswêreld soos dit ná haar oupa se dood ontwikkel – ook omdat sy onverwags ’n motorherstelplek (“basies ’n ou gebou”, bl. 12) op die Vrystaatse dorpie Edenville van hom erf. Petra se oupa was ’n mechanic (hy het nie die Afrikaanse woord “werktuigkundige” gepas gevind nie), maar het nooit aan haar genoem dat hy so ’n eiendom besit nie.

Die emosionele problematiek van verlies word hier aangepak

Die nuus oor die erflating het ’n domino-effek op Petra se bestaan, en namate die gevolge daarvan uitkring, leer ken die leser van die mense met wie sy haar lewe deel en dié met wie sy in aanraking kom of verbintenisse vorm gedurende haar tydelike verblyf op Edenville.

Petra is nie ’n alleenloper nie, maar deel ’n lewe, liefdesband en huis (wat eers haar oupa s’n was) met Cyla Haddad. Cyla se deernis vir en geduld met Petra se neerslagtigheid word met waardering beskryf; die twee vroue se begrip vir mekaar se karakter asook hul aanpassing by mekaar – of dit nou hul argitektoniese voorkeure of seksuele smake betref – bewys hoe ver en diep hul “committed[ness]” (bl. 186) strek.

Preutse lesers moet versigtig lees aan die lesbiese liefdestonele en sal in dié verband D.H. Lawrence se onderskeid tussen seks en pornografie nuttig vind. Volgens Lawrence bevuil pornografiese seksbeskrywings menslike liggaamlikheid – vergelyk dit gerus met Warrington se openlike, gedetailleerde dog smaakvolle beskrywings van hoe Cyla en Petra hul liefde seksueel met mekaar deel. Die verhouding word deur die loop van die verhaal op baie maniere getoets en sterk genoeg bevind.

Cyla se groot, warm Libanees-Afrikaanse familie help om haar klein winkel-onderneming aan die gang te hou terwyl sy Petra vergesel om na die Edenville-gebou te gaan kyk.

Die gebou is tot hul verbasing nuutgeverf; die eiendomsagent lig hulle in dit is die handewerk van die dorp se slagter, Hannes Venter, wat so vas oortuig is Petra sal die plek aan hom verkoop dat hy ook reeds ’n klomp van sy motorwrakke op die werf “stoor”. Ook die elektrisiteit in die gebou werk weer danksy Hannes se voortvarendheid. Hy besit die huis langs die werkswinkel, en daar is net ’n stukkende draad tussen hulle.

Dieselfde aand reeds stel Cyla voor dat Petra, wat ná een gepubliseerde roman aan skrywersblok ly, vir ’n paar weke op die dorpie moet kom bly. Petra keer inderdaad spoedig terug met skoonmaak- en ander gereedskap en lewensmiddele op haar bakkie gelaai.

Sommer gou klop ’n sterk maar ooglopend sagmoedige jong man, Arno, aan haar hek en vra of hy kan “help”. Hy hou geen bedreiging in vir die versigtige Johannesburgse alleenvrou nie, maar plaas Petra wel in ’n situasie waar sy versigtig moet optree om nie sy gevoelens seer te maak óf sy energie en gewilligheid uit te buit nie.

Sy vind uit dat Arno by sy ouma woon – duidelik ’n soort spieëlbeeld van Petra en haar oupa, en, soos sy, is hy die kind van ’n ma wat hom nie kon hanteer nie – hoewel hy, anders as Petra, ook ’n mate van breinskade oorgehou het.

Arno se 90-jarige ouma, mev. Margaret Naudé, is hierdie leser se gunsteling-karakter. Sy is ’n bietjie van ’n grande dame by wie Arno sy goeie maniere geleer het, en sien gou (maar hoegenaamd sonder enige vooroordeel!) deur Petra se poging om ter wille van ordentlikheid haar lesbiese liefde vir Cyla weg te steek. “Ag toe nou, hartjie. Dit het oor jou hele gesig gestaan die eerste keer wat jy haar naam genoem het,” is tannie Naudé se tergende kommentaar en, nadat Petra vir haar ’n foto van Cyla gewys het, sê sy: “Magtag, maar jy het goeie smaak” (bl. 151).

Tannie Naudé en Arno staan in elk geval ook, soos Petra (soos die ou dame aan Petra verduidelik) “buite die wêreld” (bl. 186). Danksy hul natuurlike toegeneentheid weet die tannie sy kan Arno aan Petra (en later ook aan Cyla) toevertrou.

Petra se situasie op Edenville word bemoeilik deur die slagter-buurman, ’n boelie en ’n vark, se groeiende hatigheid teenoor haar: Nie net weier sy om die ou werkswinkel aan hom te verkoop nie en staan sy haar vrou teenoor hom nie (iets waaraan Hannes hoegenaamd nie gewoond is nie), maar sy eie afgeskeepte en mishandelde seuntjie, Monty, wat op minstens vier jaar oud nog nie ’n woord praat nie, soek by Petra (en Arno) skuiling, vriendelikheid, speelgoed – en kos.

Monty se ma, Vanessa, is ’n vae karakter, ’n voosgeslaande vrou wat hoegenaamd nie hul kind teen die pa se uit­barstings beskerm nie. Die vrou wat dít probeer doen het vandat Monty ’n baba was – in die mate waartoe sy dit in hierdie rassistiese omgewing kon regkry – is Johanna wat vir ’n karige loon en ’n paar stukke taai vleis as skoonmaker en kinderoppasser by die Venters werk.

Die leser hoor nooit wat haar van is nie, net dat sy by haar vriendinne in die township weggooistukke vleis ruil vir potlode en stukkende speelgoed om vir Monty te gee. Net so weet ons dat sy, wat graag vir Monty sou wou red deur hom aan te neem, nooit die kans gegun sal word nie. Johanna is kinderloos en het “natuurlik” nie Cyla (en Petra) se ver­moëns om die toestand medies te laat behandel nie. Haar eksman het haar juis hieroor gelos. Johanna plant tamaties by haar plek in die township sodat sy en Monty darem af en toe gesonde groente saam met vleis en brood kan inkry.

Arno is baie sensitief en raak gou lief vir die afgeknoude Monty, aan wie hy uitvoerig verduidelik hoe om groente te kweek (hy hou ’n groentetuin vir sy ouma aan die gang en het ook by Petra se huis een aangelê). Petra weet die situasie begin gevaarlik raak, maar ook dat sy nie vir Arno kan lieg toe hy vir haar sê-vra oor Monty nie: “Sy ma en pa maak hom seer, nè?” Die slagter se dreigemente begin met ’n diep krap langs een kant van Petra se bakkie, dan ’n klomp dooie duiwe op haar stoep, ’n stukkende venster en uiteindelik word die woord “TEEF” in rooi op haar deur geverf.

Ek gaan nie die einde en uitkomste van Warrington se roman hier verklap nie. Diegene wat meen ek het reeds te veel uitgelap in hierdie resensie, sal wel met hul eie lees van die roman agterkom dis ’n komplekse storie met nog baie ander draaie en dinge.

Smit Motors is ’n boeiende storie vol waagmoed en weemoed, humor en tragedie – en ’n uiters groothartige en waardige debuut vir Lapa se nuwe druknaam, Wenkbrou.

  • Annie Gagiano is emeritus-professor in Engels aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.