Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Roman meedoënloos, manjifiek, meesleurend

Fiksie

Voorouer. Pelgrim. Berg.

Ingrid Winterbach

HUMAN & ROUSSEAU, R345

Sy ken min boeke waar verdriet oor óngeleefde lewens so helder beskryf word en waar die erkenning aan die grootouers as gidse so skerp verbeeld word, skryf Joan Hambidge.

Ingrid Winterbach is wat hierdie leser betref ’n skrywer wat kan kers vashou by groot internasionale romanskrywers. Hierdie teks – met sy vreemde titel, Voorouer. Pelgrim. Berg. – laat die kop duisel. Nie alleen oor al die verwysings wat sleutels gee vir die verstaan van die roman nie, maar veral om die verbluffende stylverskille en die verandering in toonaard.

Die roman is melancholies, intellektueel, banaal en selfs satiries by tye. Met die eerste lees was hierdie leser oorweldig deur die humor en grappe. Soos in Saul Bellow se Herzog­ (1964), waar die hoofkarakter ’n jeuggrap onthou waar die Shakespeare-akteur ’n hoerhuis besoek en wanneer sy broek val, fluit die hoer vir hom. Hy antwoord: “Madam, I come to bury Caesar, not to praise him . . .”

Hier word gespot met ’n dominee op huisbesoek wat so oorweldig word deur die gevloekery dat hy sy jy-weet-wat in die botter wil druk.

Hier word gespot met ’n dominee op huisbesoek wat so oorweldig word deur die gevloekery dat hy sy jy-weet-wat in die botter wil druk.

Katerina Steenkamp is ’n skrywer. Nie sommer so ’n (prul) skrywer nie, want sy lewer ook kommentaar op die hele skryf- en leesbedryf soos dit nou daar uitsien. Die roman Vlam van wraak is haar maaksel-in-wording. Maar soos by die skrywer Winfried Sebald, is die vertellende instansie en die karakters-in-wording aan die beweeg. Sy reis (moeiteloos) terug in haar verlede met ’n mislukte huwelik, ’n kind, ’n broer (wat kan palms lees en glo in voorvadergeeste) en die mans uit haar verlede is haar pelgrims. Die berg het ’n Boeddhistiese aangesig. Wie kyk en wat word nie alles gesien nie? Die oop slot en die galery storievertellers soos Joydene­, Boedie, Vossie en Jakobus gee vir haar stories deur, nes die besoekers aan WAYOO.

Van die politieke onrus en die noodtoestand tot die dwalendes en dolendes nou. Met besoeke aan ’n dating site waar die emosioneel behoeftiges hul bevind in ’n werklike ontmoeting met ’n virtuele gespreksgenoot wat jou lagspiere uitmergel. Hier in die koffiewinkel word sy gekonfronteer met ’n man, Gysbert, wat glo dat hulle uitverkorenes is en wag op die elliptiese tuig wat hulle sal wegraap.

Katerina is ook bewus van ’n asteroïed se koms wat van hierdie roman ’n apokaliptiese teks maak. Die waterskaarste en Dag Zero word ingebed met haar huidige genoot in die kunswêreld en hier word ’n paar lieflike taai klappe uitgedeel oor al die opskeppers in hierdie bedryf.

Georges Perec, Sebald, Bellow – en natuurlik Etienne Leroux – kalibreer hierdie skitterteks. Die leser bekend met haar uitgebreide oeuvre as Lettie Viljoen en Ingrid Winterbach sal kopknikke na Erf (1986) en Die boek van toeval en toeverlaat (2006) raaklees. En ook na Die benederyk (2010), wat handel oor die kunswêreld. In die teks word Harold­ Bloom se revisionisme as sleutel gegee vir dié bestekopname.

Boerename word afgestof en die voorouers bekyk.

Van knalhumor tot ’n bardo, van kommentaar op hóé Katerina skryf en ander tekste interpreteer, maak van hierdie roman ’n soort metaroman. Trouens, ons sien haar skryf en uitwis (bl. 148) en die roman Vlam van wraak nooi ons in die skryfkamer in.

Sy gee ons telkens parallelle wêrelde en Julia Kristeva se siening van die politeks is ’n sleutel. Via die semiotiese (die dooies met hul unieke taal, die voorouers, palmlesers, “channeling”, die I Ching) tot die simboliese orde van slim toespelings en verwysings na Werner Herzog en Lars von Trier se Melancholia­ (2011). Kristeva se transposisie van stelsels dus.

Ook die naamgewing is belangrik. Boerename word afgestof en die voorouers bekyk. Die implisiete outeur se enorme kennis van die wetenskap, astronomie en evolusie word netjies vervleg. Die Bybel (Esegiël tot Openbaring) word teen die Boeddhisme geplaas. Die vis in die god Vishnu is relevant. In die Hindoeïsme is Vishnu die beskermheer wat ons teen uitwissing beskerm.

Die paling (as simbool) om met die oerouers kontak te maak, neem jou dieper in die wêreld van die primordiale. Die teks werk met Jungiaanse argetipes.

En Anne Carson se Plainwater (1995) is waarskynlik die teks wat ’n mens opnuut moet besoek. Michael­ Ondaatje het haar immers beskryf as die mees oorrompelende digter wat tans in Engels skryf en Plainwater plaas tekste in jukstaposisie.

Katerina het die morfologie bestudeer en haar fantasie het geen Edms. Bpk. nie. Sy stel dit onomwonde dat sy hou van skrywers wat gevaarlik skryf.

Kunstenaars soos Titiaan, Goya, Kerry James Marshall, George Gittoes­ en Louise Bourgeois neffens Edmund de Waal, aktiveer die rol van die moeder in ons bestaan en die onafwendbaarheid van die dood.

Teenoor die spirituele gebed (Hesigasme) staan die banale sekspoppe.

Teenoor die spirituele gebed (Hesigasme) staan die banale sekspoppe. Die innerlike, kontemplatiewe gebed geplaas teenoor die sintuiglike en sondige. Die virtuele ruimte neffens die werklike een laat jou anders na landskap kyk.

Die vrouehoofkarakter soek na tathata en dinglikheid. Ek ken min boeke waar verdriet oor óngeleefde lewens so helder beskryf word en waar die erkenning aan die grootouers as gidse so skerp verbeeld word.

Lewe teenoor dood; die abjekte teenoor die spirituele; die hede teenoor die verlede word alles behendig saamgesnoer. Al verstaan jy nie al die verwysings nie, is sy besig om met jou kop te smokkel, soos Thomas Pynchon met sy Oedipa Maas in The Crying of Lot 49 (1965), met ’n waansinnige samesweringsteorie. Die broer, Daan, die skisofrene Boedie, die verdrietige Maria en die flâneur word swerwers in haar lewe soos Jakobus nes haar uitgebreide familie.

In hierdie dae waar resensente dikwels boeke te vinnig as uitstaande beskou, kan hierdie leser met groot stelligheid beweer dat Winterbach se jongste roman al die lof verdien. Soos daar ’n mandala in sand gebou word, vee sy telkens ’n betekenisstelsel dood en jy moet van voor af begin.

Dit is ’n polifoniese, visionêre roman waarin die skrywer ook telkens terugkeer na haar eie tekste. Laatwerk dus. Meedoënloos, manjifiek, meesleurend. Die oop slot laat jou wonder: Gaan sy die roman voltooi soos sy versoek word?

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel in Afrikaans aan die UK.

Meer oor:  Ingrid Winterbach  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.