Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Roman met ’n reuse-kinkel

Jaco Fouché is ’n uitdagende skrywer wat met sy donker, ontstellende roman ‘Aanspreeklikheid’ aangewys is as naaswenner in 2018 se Groot Afrikaanse Roman- wedstryd. Dié veelvlakkige storie bevestig dat Fouché een van Afrikaans se mees onder- skatte en interessantste storievertellers is, meen Jean Meiring.

Jaco Fouché se Aanspreeklikheid is ’n donker, ontstellende roman.

Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R285.

In ’n doodgewone woonstel op Sandbaai, vlakby Hermanus, werk die skrywer Jaco Diehl aan ’n manuskrip oor Joseph Fouché, die minister van polisie onder Napoleon wie se genadelose dog onbeholpe onderdrukking van opstandelinge hom die naam “die slagter van Lyon” besorg het.

Fouché is “die objek van [sy] obsessie” (bl. 61). In sy nagtelike drome is Diehl saam met die slagter by Lyon – en later as banneling in Triëst, die stad wat die reisskrywer Jan Morris as die hoofstad van Nêrens beskryf.

Sy gedagtes kantel ook nóg verder terug, na die “Lied van Roland”. Dié Franse epiese vers uit die Middeleeue waarin Karel die Grote se ridder Roland teen die Sarasene die veld ingestuur word en uiteindelik deur sy skoonpa verraai word, is vir hom soos “sappige brokkies familiegeskiedenis” (bl. 61). Eweneens sien hy daarin “ ’n analogie met ons tyd” (bl. 229).

Die hede waarin die verhaal afspeel, is die nabye toekoms. Daar is temas wat die huidige politieke tydsgewrig deursein (“White Ascendancy Must Fall”, bl. 106); en bendebedrywighede is ’n kenmerk van die lewe op rustige Hermanus.

Klimaatsverandering het egter al ’n wêreld teweeg gebring waar water in die winter nie sy perke ken nie, en die somer buitengewoon versengend is.

Terwyl hy sy pennearbeid aan die feite oor Napoleon se Fouché wy – Diehl sê pertinent hy is geen “storieverteller” nie (bl. 16) – ontvou ’n tipies Suid-Afrikaanse tafereel in sy onmiddellike nabyheid. In die woonstel “skuins onder” syne (bl. 7) is daar eendag ’n skietery. ’n Man verwond sy vrou in die skouer voordat hy sy geweer noodlottig op homself rig.

Dit is dié tragedie-in-die-kleine wat Diehl, die eerstepersoonverteller, sy vertelling só laat open: “Ek skat ek is aanspreeklik” (bl. 7). En dan: “Eers het ek nie so gedink nie. Ek was maar net ’n getuie van die lewe, ’n gemaklike omstander . . . Maar nou word ek meer en meer onseker oor my rol.”

Soos uit die leeuedeel van sy skryfwerk blyk, is hy ’n meesterlike, uitdagende storieverteller.

By eerste opslag klink dié slotsom na suiwer melodrama. Maar gou blyk dit dalk anders gesteld te wees. Enersyds stel Diehl met die intrapslag die oeroue filosofiese vraag na die omvang van die individu se morele verantwoordelikheid vir dit wat in die wêreld gebeur. In sy dampkring én verder weg.

Dís ’n motief wat telkens in Fouché se oeuvre te berde kom; dit span ’n boog terug na sy hoog aangeprese debuutroman, Die ryk van die rawe (1996). (Let op die skalkse gebruik van “raafswart” op bl. 7, die eerste teksblad van Aanspreeklikheid.) Die vraag haper enduit: Wat is aanspreeklikheid? En: Verskil dit van die begrip verantwoordelikheid, wat die skrywer Fouché elders dikwels gebruik.

Andersyds, namate die verhaal deur Diehl se oë ontvou, kom die vraag boonop na sy juridiese aanspreeklikheid vir dit wat rondom hom gebeur – ook vir die dood van sy buurman – al hoe dringender aan bod.

Al maak hy daarop aanspraak dat hy nie stories vertel nie, is daar volop suggesties in die teks dat Diehl as verteller nie volkome te vertrou is nie.

Trouens, sy openingsalvo blý saggies dreun. As hy ter aanvang “skat” hy is aanspreeklik vir wat hy stuksgewys van ’n afstand deur ’n venster gadeslaan, is dit alte moontlik dat hy in die res van die verhaal met stygende intensiteit vir homself aanspreeklikheid ten aansien van ander dade sal toeëien. Selfs in omstandighede waar daar ander menings oor sy daderskap mag wees.

In hoe ’n mate, wonder die leser, raak die alleenloper Diehl só met die Fransman Fouché geobsedeer dat hy in sy eie kop daardie geweldenaar wórd? Dat flenters gekapte begraafplaasornamente in sy oë sý werk moes gewees het, die plaaslike bendes ten spyt. Was Napoleon se Fouché dan nie daarop uit om die Christelike geloof stuk vir stuk af te breek nie?

Dis daarom met groot omsigtigheid dat die leser dié fyngekonstrueerde roman moet aanpak. Soos Die ryk van die rawe is dit ’n speurroman met ’n reuse-kinkel. Soos die titelkarakter in Die avonture van Pieter Francken (2005) is Diehl ’n verironiseerde ridder van ouds, wat – sy 50 lewensjare ten spyt – met verbasende welslae al wat dame is ongeërg die hof maak. Én homself, so wil dit blyk, in die loop van sake aan die gruwelikste geweld skuldig maak. Om telkens maar net skotvry daarvan af te kom.

Ook, soos in so baie van die skrywer Fouché se vorige boeke, ook Verstevlei (2013), is die reismotief met dié verhaalgegewe verstrengel. Waar die aanvang van die verhaal – soos sy hele jeugroman Somer – op die skrywer Fouché se tuisdorp, Hermanus, afspeel, wyk Diehl kort voor lank uit na Bellville, die skrywer se mees deurtrapte storieruimte. Om dáár in die buitenste kring van die hel te wentel: die oopplankantoorruimte waarin so baie van Fouché se karakters, teen die dreun van Durbanweg of ’n dergelike pad, hul lewens slyt. Met Valentynsdag wat êrens in die agtergrond klingel.

’n Mens sou Diehl se uittog Bellville toe as ’n ontsnapping kon sien, die systap van die verantwoordelikhede wat hy in Hermanus opgedoen het. Uit ’n ander oogpunt is dit, ironies, die vervulling van ’n vooraf bestemde lewensroeping – so eie aan die Middeleeuse ridderverhaal.

Op bl. 13 sê Diehl immers vroeg in die verhaal aan Betsy, wat ’n kafee op Hermanus bedryf en beenaf is op hom: “Ek kan met rekenaarstelsels ook werk. Jare gelede is ek opgelei om te programmeer . . . En ek het nogal van gevegskuns gehou . . .” Dít opper in ’n nuwe gedaante subtiel die vraag na die mens se morele aanspreeklikheid vir sy weg deur die lewe. Was dit nie maar alles vooraf vir my bestem nie?

Onder baie ander temas – soos geestesongesteldheid en eksistensiële wroeging in ’n omgekeerde wêreld – kom ook die morele plig van die skrywer aan die orde. Die skrywer is nie om dowe neute Napoleon se hooflakei se genant nie.

En bowe als is Diehl, soos byna al die skrywer se vorige hoofkarakters, die argetipiese buitestander. Maar die leser het allermins die verwysing op die erkenningsblad agterin na Colin Wilson se seminale, gelyknamige boek nodig om dít te besef.

Met eggo’s van Ian Brand in Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019), Harry Kalmer se Adam Burger in In ’n land sonder voëls (2019) en selfs Lennet Loots in Jean-Pierre de Kock se Die daggaboer (2018) is Diehl ’n tipe sjabloon vir die wit Afrikaanse man van ’n sekere ouderdom – dikwels met herinneringe aan die weermag – vir wie die nuwe bestel, om dit sagkens te stel, ’n uitdaging is.

Roer jou litte!
Jy het net meer as twee maande oor om jóú Afrikaanse roman van minstens  40 000 woorde te voltooi en in te skryf vir NB-uitgewers se volgende Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Inskrywings word vanaf 1 Junie 2020 aanvaar en sluit finaal op 1 Augustus.
Vier pryse van altesame R350 000 is op die spel: Die wenner kry R200 000, die naaswenner R70 000 en die derdeprys- en debuutwenner R40 000 elk.
* Vra ’n inskrywingsvorm (met die volledige reëls en vereistes) aan by  Sadé Walter: 021 406 3412 of roman­wedstryd@nb.co.za.

Wat moeite het om te glo dat die nuwe Suid-Afrika ’n “baba [is wat] sal groot word en ’n lieflike mens wees” (bl. 189) en wat, teen wil en dank, sukkel om uit al die dikwels teenstrydige nuwe waarhede ’n samehangende, betekenisvolle lewe te skep. Waarin die begrip aanspreeklikheid sin maak en sin gee.

Aanspreeklikheid is ’n donker, ontstellende roman. Dit rig moeilike en uiters dringende vrae en bied natuurlik min antwoorde. Tog – of dalk juis dáárom – sleur Fouché se ragfyn prosa, versigtige karakterisering en soms onverwags sardoniese humor die leser mee. Soos uit die leeuedeel van sy skryfwerk blyk, is hy ’n meesterlike, uitdagende storieverteller. Ook hiér is die verhaal veelvlakkig en dubbelsinnig – en trek die intrige telkens die tapyt onder die leser uit.

Ek wil my verstout om te sê dat Fouché, drie vername pryse én Diehl se buiksprakige aanspraak tot die teendeel ten spyt, een van Afrikaans se mees onderskatte en interessantste storievertellers is.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Jaco Fouché  |  Resensie  |  Aanspreeklikheid  |  Romanwedstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.