Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Roman van fliek ’n sprokie in eie reg

Vir altyd deur François Bloemhof. Uitgewer: Jasmyn. Prys: R200. Resensent: JB Roux

Gewoonlik werk dit só: Iemand skryf ’n boek wat so gewild is dat iemand anders die boek as ’n rolprent verwerk.

Soms werk dit blykbaar anders: Iemand maak ’n rolprent wat nié op ’n boek gegrond is nie. Voor uitreiking vra hulle iemand om die draaiboek as ’n roman te verwerk – mét ’n “film tie-in”. Die boek word vóór die rolprent uitgereik en is so gewild dat dit ’n groot afwagting skep vir die latere uitreiking van die rolprent.

Of so iets.

Dit was in 2013 die geval met Pad na jou hart. Dié romantiese fliek – geskryf en vervaardig deur die voormalige sepiesterre Donnalee Roberts en Ivan Botha, wat ook die hoofrolle vertolk het – was ’n juweel. François Bloemhof het dié rolprent se draaiboek voor uitreiking as ’n roman verwerk.

Nou gebeur dit weer: Vir altyd word vroeg vanjaar uitgereik. Intussen is die boekweergawe, weer deur François Bloemhof, in boekwinkels beskikbaar. Dieselfde Bloemhof wat in sy vrugbare loopbaan alles behálwe romantiese fiksie geskryf het en hom op rillers toespits.

Die beste is waarskynlik om heeltemal van bogenoemde te vergeet en Vir altyd bloot as ’n boek te beoordeel. Dus: Vir altyd is die verhaal van die vryskutfotograaf Hugo, wat na sy tuisdorp in die Boland terugkeer juis toe Nina, sy kindertydliefde, voor die kansel moet gaan staan. Die aanstaande bruidegom draai op die Groot Oomblik om en hardloop dat hy klein word.

Die wittebroodskaartjies Mauritius toe is gekoop en toe Nina en Hugo hulle kom kry, sit hulle in ’n vliegtuig.

Dié gegewe is nie so nuut nie en selfs Ena Murray het jare gelede so ’n verhaal geskryf, maar daar is niks nuuts onder die son nie en die vraag is of Vir altyd se storiemakers ’n suksesvolle storie op dié prikkelende gegewe sal kan bou.

Hulle kon. Vir altyd is ’n sprokie in eie reg. Die skrywer het respek vir die genre en die emosionele impak wat so ’n verhaal moet hê, is in die kol.

Vir altyd steel die hart en – durf ’n mens dit sê? – daar lê vir François Bloemhof ’n blinknuwe toekoms as liefdesverhaalskrywer voor.

  • JB Roux is ’n vryskutjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.