Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fiksie
Roman verhef woord tot heiligdom

Die Bergengel

Carina Stander

PROTEA, R220

Die Bergengel, die eerste roman in ’n drieluik, is die soort epiese verhaal wat ongetwyfeld uitgewersdurf verg. Dis een ding om die populariteit van George R.R. Martin se boeke en die TV-reeks Game of Thrones uit te sonder, maar is daar plaaslik ’n mark vir ’n roman wat lees soos ’n meer liriese Tolkien in Afrikaans, met elemente wat neig na The Alchemist?

Stander se eiesoortige interpretasie van die bildungsroman – met verskeie magiese elemente, ’n deurlopende reismotief, klem op ouer-kind-verhoudings, en die innerlike en uiterlike konflik van die jong protagonis – maak korte mette van die geykte term “kragtoer”.

Die roman is fabelagtig mooi en volwasse, met ware diepte en insig; enigmaties maar ook toereikend. Met tye roep die roman die fyn humor, reismistiek en spel met taal op wat te vinde is in Ingrid Winterbach se werk (hoeveel skrywers is ook kunstenaars in eie reg?), terwyl die vermenging van die bil-dungsromangenre met ekokritiek en die reismotief Die Bergengel gedurig met Deon Meyer se Koors in gesprek bring.

Die verhaal se buitelyn sien so uit: Eron Verberger, seun van Gibor en Alida, vertrek op 13-jarige ouderdom saam met sy pa op ’n jaar lange reis. So sal Eron elke detail rondom die karakter en taal van klokke leer verstaan. Hy sal onder sy trotse klokmakerpa se wakende oog ’n man kan word.

Daar is wel ’n meer broeiende rede waarom Eron en Gibor hul pad uit die kusdorpie van die Tzur moet maak: daar is ’n Vuurstorm wat broei. Oorlog kom.

Dertien jaar het verloop sedert daar tekens van ’n Bergengel was. Eron leer deur die loop van die roman – opgedeel in ses dele, elk met ’n insiggewende titel – dat sy pa self ’n Bergengel was.

In teenstelling met die tradisionele fabel word die leser gelei om Gabriellië as ’n reële land te aanvaar, soos Tolkien se Westland in The Lord of the Rings.

Hoewel dit hierdie leser groot plesier verskaf het om mondjiesmaat meer te leer oor die rol van die Bergengel, mitologie van die land van Gabriellië en die betekenis van die Vuurstorm, staan die konflik tussen Eron en die antagonis, Verbluffende Bluffer, oftewel Velvel Azazel, sentraal. Hierdie vermaaklike vuurblaser en steltstapper verpersoonlik absoluut die soort sirkusmentaliteit en gebrek aan integriteit wat ’n sekere wêreldleier daagliks veral op Twitter tentoonstel.

Eron word oortuigend geskets as die ontluikende bildungsheld. Hy moet sy potensiaal as volgende Bergengel bereik deur veral selfopoffering na te streef. Hy moet homself leer ken en vertrou te midde van onsekerheid, skuldgevoelens weens ’n gebrek aan optrede om wreedheid te beveg, en die drang om uit sy pa se skadu te kom.

Daarteenoor is die Bluffer, met sy steampunk-kleredrag, sy fassinerende kulkuns en oëverblindery, asook sy verterende drang na erkenning en mag, ’n geslaagde uitbeelding van die mens se donker kant, of skaduself.

Stander bied welkome afwisseling tussen die afsonderlike episodes van Eron se fisieke en geestesreis, waar hy as liminale figuur oor verskeie grense heen moet beweeg, en die onheilspellende aktiwiteite van Bluffer, wat sy eie plan met Eron het.

Die Bergengel as gelykenis kan gelees word as ’n besinning oor die rol van die skrywer/digter as Bergengel-figuur. Soos die profetiese Bergengel, wat in geheimhouding lewe en slegs sy verskyning maak wanneer die volk hom die meeste nodig het, word dit algaande duidelik dat intrigerend besin word oor ’n samelewing wat gekenmerk word deur hebsug, magsug, ekonomiese verval, onverdraagsaamheid, onbeholpe leiers, sinnelose geweld, gebrek aan sosiale kohesie en totale verslawing aan tegnologie.

Die Bergengel is tot barstens toe vol kleurryke karakters, wat veral sterk op Jung se idee van argetipes trek. Daar is helpers, hekwagte en trieksterfigure. Waar Gibor as pa en skepper van bronsklokke die Vader-en-Skepper-argetipe is, is Korban die Christus-argetipe.

In teenstelling met die tradisionele fabel word die leser gelei om Gabriellië as ’n reële land te aanvaar, soos Tolkien se Westland in The Lord of the Rings.

Die Bergengel is meer as net ’n roman. Dit is ’n kunswerk wat die woord tot heiligdom verhef.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.