Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fiksie
Roman wat onthuts en fassineer

Die laksman se dogter

Gerda Taljaard

PENGUIN, R230

Gerda Taljaard het voorheen twee gitswart romans, Kelder en ’n Engel in die hoenderhok, en ’n bundel kortverhale, Maansiek, gelewer. Haar jongste kan geklassifiseer word as domestic noir, met die huishoudelike ruimte wat een van bedreiging, sielkundige oorlog en vervreemding word. Dit is egter ook ’n bitter teer, rou vertelling wat weier om die leser op goedkoop antwoorde te trakteer.

Sy is ook digter en kortverhaalskrywer, en is as akademikus aan Unisa verbonde. Wat opval met haar jongste roman is die skrander aanslag wat getuig van ’n vakmanskap wat inspirasie put uit verskeie woordkunsvorms.

Die digter se haarfyn waarnemingsvermoë en die belang van gestroopte beskrywing is onmiskenbaar. Ook die kortverhaalskrywer se goël met woorde en vermoë om met verrassende wendings en jukstaposisie die leser se aandag te behou.

Tog is dit vir hierdie leser ook eweneens duidelik dat die skrywer ’n akademiese agtergrond het, dat sy bekend is met die veld van die psigoanalise en traumastudies, en dat sy haar akademiese insigte so kan inspan dat haar fiksie ’n soepelheid behou, desondanks die swaar temas.

Die laksman se dogter as titel verwys na die protagonis, Rosaria. Haar karakterisering en haar eie geheime moet in redelik onwrikbare geheimhouding gehul word om nie die roman se verskeie instansies van dood en verlies te verklap nie. Ek kan egter toegee dat Rosaria se pa ’n tipe laksman is weens die feit dat hy by Pretoria-Sentraal die gehangde mense se doodsertifikate uitreik, maar juis omdat hy ook met tye die genadeskoot moet toedien. Rosaria en haar pa se verhouding is slegs een van die ouer-kind-verhoudings wat die roman belig.

Lesers sal moontlik bedag wees op die feit dat Chris Marnewick se verwerking van Sherpherds & Butchers, In die laksman se skoot, die kompleksiteit van die doodstraf onder apartheid onder die loep neem. Taljaard plaas die verhouding tussen ma en dogter egter sentraal. Dit sluit die verhouding tussen Rosaria en haar eie ma in. Rosaria se kultusfiguurdogter, die enigmatiese en rebelse digter Annalisa, se raaiselagtige dood word die dryfveer vir Ro­saria en die roman self se ondersoek na die stryd wat ouers van dwelmverslaafdes met hul kinders voer.

Soos Henry Jack Cloete se fiksiedebuut, Draalnoot vir ’n janfiskaal, word daar op ’n aweregse dog gelade wyse diep gedelf in die vraagstuk van selfdood.

Taljaard verdiep ook hierdie ondersoek deur tot op die been te sny wat betref die mens se verslawing tot ander. Wat presies dit beteken wanneer ons erken dat ons eie gebrokenheid, ons eie trauma en onvermoë om toksiese verhoudings en assosiasies met ander hok te slaan, ons aan ’n ander se genade oorlaat. Die diep wonde wat afknouery en kindertrauma tuisbring. Annalisa het ’n trauma van haar eie, en Rosaria se aandeel hierin maak haar ook ’n soort laksman.

Soos Henry Jack Cloete se fiksiedebuut, Draalnoot vir ’n janfiskaal, word daar op ’n aweregse dog gelade wyse diep gedelf in die vraagstuk van selfdood. Hoewel Taljaard se roman uiters krities teenoor die media staan, word Rosaria se verhouding met ’n joernalis, en veral een van die roman se finale wendings, nie totaal oortuigend vasgevang nie.

Die skrywer is egter uiters behendig met die skep van ’n karakter wat ná haar dood met haar ma en die leser praat, en wat werklik lewe op die bladsy. Annalisa as karakter wat protes aanteken op verskeie vlakke en haar identiteit nou koppel aan haar eie sin van verlies, sal by ’n wye gehoor aanklank vind. Hierby sluit ek die lieflike, innemende karakter van Rosaria se kleinkind, Marcella, in.

Taljaard se insluiting van ’n kind is egter nie genoeg om die roman se mineurtoon, onverskrokkenheid en onheilspellende atmosfeer te negeer nie. So sal die roman se uitmergelende opstapel van die buit van die Dood, en pikdonker humorsin, net een te veel vir sensitiewe lesers raak. Soms kruip toeval en die vraag na ’n suspension of disbelief ook in.

Die laksman se dogter is die tipe gelaagde, verwikkelde roman wat my so meegesleur en ontstel het dat ek kort-kort eers die boek moes toemaak om asem te skep.

Is elkeen van ons onder sekere omstandighede tot moord in staat? Ek het steeds nie antwoorde op die teks se mees soekende vrae nie. Ek kan steeds nie vir iemand in een sin vertel presies wat ek dink of hoe die roman my laat voel het en steeds laat voel nie.

Die laksman se dogter is soos Irvine Welsh se Trainspotting, Margaret Atwood se Cat’s Eye, Lionel Shriver se We Need to Talk About Kevin, en Ingrid Winterbach se Karolina Ferreira en Die benederyk ’n roman wat onthuts en fassineer.

Soos die bogenoemde romans het Taljaard hier ’n omstrede teks oor gebrokenheid neergepen wat vir lank by lesers sal spook.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.