Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rubriek: Die spel van eie dood en die gedig

Digters was al skrikwekkend noukeurig oor hul sterfte, skryf Daniel Hugo.

Daar is digters wat hul eie dood skrikwekkend noukeurig in hul verse beskryf het.

Ander weer het ’n noue ontkoming met die dood gehad en dit tot poësie verwerk. Die bekendste voorbeeld in Afrikaans is sekerlik D.J. Opperman wat ’n hele bundel gedigte, Komas uit ’n bamboesstok (1979), gewy het aan sy lewerversaking weens alkoholmisbruik, die komas waarin hy versink het en sy wonderbaarlike herstel.

Hy beskryf dié ervaring as ’n reis na ’n onbekende wêrelddeel – soos wat Marco Polo in die Middeleeue na die Verre Ooste gereis het. Opperman noem dit sy eie “reise van die ryswyn”. Ná sy terugkeer uit die domein van die dood weet hy noodgedwonge as geheelonthouer “hoe eufories helder water skop”!

N.P. van Wyk Louw het ook ’n byna-doodervaring gehad en daaroor geskryf. “Aanraking van die dood” is een van sy bekendste sonnette. Daarin stel hy die dood as ’n engel voor: “Net raaklings oor my hare het hy gestryk / die wind van sy vleuelslag . . .” Nadat hy die ernstige siekte oorleef het, besef hy “alles is deurweek van sterflikheid”.

Daar is minstens twee gevalle waar digters die omstandighede van hul eie dood voorsien het. Ek dink aan Ingrid Jonker en die Vlaamse digter Herman de Coninck.

Jonker debuteer in 1956 met die bundel Ontvlugting. Die slotreëls van die titelgedig het al mitiese status in die Afrikaanse letterkunde gekry:

My lyk lê uitgespoel in wier en gras

op al die plekke waar ons eenmaal was.

Sy was 23 toe hierdie profetiese woorde gepubliseer is. Nege jaar later, op 19 Julie 1965, word haar lyk by Drieankerbaai gevind. Sy het die vorige nag wanhopig die see ingeloop en verdrink. Die debuutdigter het egter die presiese plek verkeerd gehad, want in die openingsreëls van die gedig situeer sy die gebeure in Gordonsbaai.

Sy assosieer haar in die volgende twee strofes met ander gekwelde wesens wat die strand besoek:

Ek is die hond wat op die strande draf

en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoël wat verhongerd daal

en dooie nagte opdis as ’n maal.

Dit is, in Eugène Marais se woorde, die hartverskeurende “lied van ’n meisie in haar liefde verlaat”. En dit is daardie verlatenheid wat haar ten slotte op so ’n jong ouderdom oorweldig het.

Herman de Coninck was 25 jaar oud toe hy in 1969 gedebuteer het met die bundel De lenige liefde. In 1980 verskyn sy derde bundel, Met een klank van hobo, waarin die volgende gedig met die titel “Wraak” staan.

Ek het dit soos volg vertaal:

Ek is geregistreer vanaf my geboortestond.

Ek staan gelyk aan een kilo papier:

diplomas, diensplig, verhuisings van daar na hier,

my lidmaatskap van party, kerk, vakbond.

Daarom is ek op soek na ’n plek op die grens van drie nasies.

Daar wil ek dan sterf.

Want ek wil met my dood op sy minste die plesier bederf

van ’n stuk of twintig administrasies.

En in nog ’n gedig wat oor sy eie dood handel, voorspel hy dat hy aan ’n hartaanval gaan sterf. Dié vers is tussen sy nagelate papiere ontdek.

Ek haal net die eerste strofe van my vertaling aan:

Ek verbeter drukproewe. Soek in die woordeboek op of dit

doodskis of doodkis is. En dink: skrywer sterf

aan hartaanval op die oomblik dat hy die spelling van doodkis

naslaan. ’n Mooi dood: om te sterf tydens die woord self.

In die volgende strofe lewer hy dan nugter kommentaar op sy digterlike verbeeldingsvlug:

Ek dink honderd keer per dag sulke onsin. Maar ’n mooi dood

bestaan nie, is ek bevrees. Nog-nie, nog-nie,

nog-nie, klink my hartklop …

En dit is toe ook wat min of meer so gebeur het. Hy sterf inderdaad in die buiteland. Op 22 Mei 1997 sak hy op straat in Lissabon inmekaar. Hartaanval.

Hy was in die geselskap van ander Nederlandstalige skrywers – Hugo Claus, Gerrit Komrij en Anna Enquist – te voet op pad na ’n literêre kongres. Miskien is dit tog “ ’n mooi dood” vir ’n digter.

En boonop een wat vooraf raak en treffend beskryf is.

Meer oor:  Ingrid Jonker  |  Daniel Hugo  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.