Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rubriek: Hugo Claus, die briefie en die Boere van SA
Daniel Hugo

In 1997 is ’n Vlaamse Week in Stellenbosch gehou. Dit was moontlik omdat die kulturele verdrag tussen Suid-Afrika en Vlaandere die vorige jaar heringestel is ná die opskorting daarvan in 1977 weens die apartheidsbewind. Inderwaarheid was dit ’n viering van die hervatting van die kulturele en akademiese bande tussen die twee lande.

Die roemrykste Vlaming daardie week in die Eikestad was sekerlik die digter, romanskrywer en dramaturg Hugo Claus (1929-2008). Hy is na dié kultuurfees genooi omdat Jan Rabie se vertaling van Claus se toneelstuk ’n Bruid in die môre deur die dramastudente van die universiteit opgevoer is.

Claus was een van die rebelse Vyftigers wat die Nederlandstalige literatuur op sy kop wou keer. Sy tydgenote was onder andere die Nederlanders Lucebert, Simon Vinkenoog en Remco Campert.

Aan die einde van die 1940’s het hy na Parys uitgewyk waar hy die Suid-Afrikaners Jan Rabie (saam met sy Skotse lewensmaat Marjorie Wallace) en Bartho Smit ontmoet het. Daardie opwindende en kreatiewe tyd vind jare later neerslag in sy roman Een zachte vernieling van 1988. Rabie, Wallace en Smit maak ook hul verskyning, maar onder skuilname.

Ek het destyds ’n radio-onderhoud met Claus op Stellenbosch gaan voer. Hy vertel toe hoedat Jan Rabie daar in Parys glo gereeld “met bliksems in sy oë” uitgeroep het: “Ek is ’n Boer!”

’n Paar maande later stuur hy my per e-pos ’n geskandeerde afskrif van my briefie aan. Hy het dit in die beroemde en klaarblyklik noukeurige skrywer se argief opgespoor.

Claus se Het verdriet van België het in 1983 die lig gesien toe ek aan die Katolieke Universiteit van Leuven studeer het. Ek het dié oorrompelende roman oor die Tweede Wêreldoorlog verslind en moreel verplig gevoel om my verontwaardiging oor ’n dom en venynige koerantresensie teenoor die skrywer te lug.

Dié resensie het ek uitgeknip en agterin die roman bewaar. Dit het op 16 April in De Standaard verskyn en is geskryf deur Freddy de Schutter. Daarin beweer hy dat keiser Claus kaal is. En hy, Freddy de Schutter, is die enigste waagmoedige een wat die waarheid gaan uitflap, die enigste een wat die selfingenome skrywer van sy hoë perd gaan afpluk. Hy kla onder meer oor die “barokke taal” van die roman “waar die aksie voortdurend dreig om te verdrink in die stortvloed van beelde en vergelykings”. Net 100 van die boek se 770 bladsye is regtig leesbaar, beweer hy ten slotte.

Nadat ek Hugo Claus se adres opgespoor het, het ek die volgende briefie op 2 Mei 1983 geskryf:

Geagte mnr. Claus

U Het verdriet van België het my die afgelope 2 à 3 weke veel vreugde verskaf. Daarom hierdie brief.

Ek is lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein, en is met ’n jaar studieverlof in Leuven. Gedurende my studies aan die Universiteit van Stellenbosch het ek ’n kursus oor u toneelstukke gevolg by prof. J.C. Kannemeyer. Het verdriet van België is egter die eerste roman van u wat ek lees – en sekerlik nie die laaste nie. Ek het veral die spel met die perspektiewe in u roman waardeer, naamlik dié van die jong seun, die skrywende adolessent en die ordenende volwasse outeur dááragter. Dit is trouwens iets wat die resensent in De Standaard nie begryp het nie, vandaar sy infantiele opmerkings oor die styl van die boek.

Soos die Boere op die uitgestrekte velde van Suid-Afrika groet ek u. Punt in die wind!

Daniel Hugo

Claus het (uiteraard) nie op dié bewonderaarsgeskriffie gereageer nie – hy het waarskynlik duisende daarvan ontvang. Ek was nie so ydel om ’n afskrif daarvan te hou nie en het aanvaar dat dit in die skrywer se snippermandjie beland het of hom nooit bereik het nie. Ek was ook nie dapper genoeg om hom daarna te vra toe ek hom in 1997 op Stellenbosch ontmoet het nie.

In Januarie 2016 was ek ’n maand lank ’n bewoner van die vertalershuis in Antwerpen en het in dié tyd die joernalis en Claus-kenner Mark Schaevers ontmoet. Ek het hom vertel van my futiele poging om met Claus kontak te maak. ’n Paar maande later stuur hy my per e-pos ’n geskandeerde afskrif van my briefie aan. Hy het dit in die beroemde en klaarblyklik noukeurige skrywer se argief opgespoor.

Een ding is egter vir my ’n raaisel: daardie verleentheidswekkende slotparagrafie. Was dit ’n nabootsing van Claus se soms uitbundige styl? Of is daar in die roman ’n verwysing na die Boere van Suid-Afrika?

Sonder veel hoop begin ek van agter af deur die roman blaai en – jouwaarlikwaar – op bladsy 616 staan daar: “Punt in die wind, Vlieghe,” zei Louis, zoals de Boeren, als zij afscheid nemen van elkaar op de uitgestrekte velden van Zuid-Afrika.”

Wat ’n verligting! Ek het my tog waardig gedra. En Hugo Claus het my briefie bewaar.

Meer oor:  Daniel Hugo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.