Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rubriek: Jeugklip is swaar om te verklaar

Die muse het hom die eerste keer in Windhoek se fyn stof besoek, skryf Daniel Hugo.

Rondom Windhoek lê daar berge: die Auasberge, die Erosberge en die Khomas-Hoogland. Windhoek self is soos Rome op heuwels gebou.

Byna al die strate het dus ’n helling, ook John Mei­nertstraat 118 in Windhoek-Wes waar sewe Hugo-kinders in ’n pastorie grootgeword het.

Met ons fietse het ons drie oudste broers saam met vriende naweke uitgery – heuwel op en heuwel af – om in die veld te gaan slaap. Die beste slaapplek was die skoon, wit sand van die droë rivierlope. Net ná die reëntyd kon jy vars water vind as jy diep genoeg in die sand grawe. Dan het ons soos ware Boesmans ons dors uit ’n gorra geles. En doringhout was daar in oorvloed om koffiewater te kook en wors te braai. Eintlik was die lekkerste deel van so ’n uitstappie die vuurmaak.

Daar is niks so gerusstellend soos ’n selfgemaakte vuurtjie nie – al is die nag ook hoe eindeloos. Jy sit verlate by jou petieterige vuurtjie op ’n koue en donker planeet, terwyl die stervure bokant jou kop amper hoorbaar knetter. Jy voel tegelyk eensaam én een met die heelal. George Weideman, wat ook lief was vir Namibië, het ons tydelike verblyf op aarde treffend beskryf as “ ’n staning onder sterre”.

Dit was ook in die veld in ’n tentjie waarop die reën drup toe ek op my gelukkigste was. Daardie tikkende druppels en die sagte, soet reuk van die nat grond is die beste susmiddel op aarde. Dan maak die benaming “moeder aarde” volledig sin. Dit het ook gesorg dat ek die volgende reël van G.A. Watermeyer in my gr. 10-jaar dadelik kon eien as mooi én eg: “soet deur die lang nag sing die reën”.

Kort daarna het ek self my hand aan ­natuurgediggies gewaag.

Dit was die wonder van Windhoek in die 1960’s: ’n stad in die veld waar dit veilig genoeg was dat ons snags met oop deure kon slaap en dat tienerseuns op hul fietse vir ’n naweek lank die natuur kon invaar.

Hoe vaag die grens tussen die stad en die veld selfs nog in die vroeë 1970’s was, blyk duidelik uit ’n gedig van Piet van Rooyen. Hy was ook ’n digtende domineeseun wat in dieselfde tyd as ek in Windhoek op skool was – hy in die Hoërskool Windhoek en ek in die Hoërskool Jan Möhr.

In 1973, ons eerste jaar op universiteit, verskyn sy digbundel Draak op die erf met ’n gedig wat vertel hoe drie koedoes op ’n dag in Fritschestraat (in die destydse nuwe woonbuurt Pionierspark) afgehardloop gekom het:

die dorpsmense het op hulle

stoepe gaan staan en gekyk

na die drie koedoes in hul vlug

maar Anthony Bart het sy geweer

gevat en op die voorste een gemik

dit was drie-uur in die middag

toe die voorste koei swik

sy’t die bos gehaal blêrend in haar nood

maar om drie-dertig was die koedoekoei dood.

Die heuwels en rantjies van Windhoek bestaan deels uit mikaklip wat ’n fyn stof afgee – veral in Augustusmaand as die droë westewind so droewig waai.

Dit het my ernstige hooikoors gegee, wat groot dele van my jeug onaangenaam gemaak het. Ek het dae lank in ’n beswyming van antihistamien gedwaal. By tye moes ek selfs in die bed bly. My kamervenster het na die suide uitgekyk op die geplooide Auas­berge. In die sagte skuinslig van die ondergaande son het die grou bergmassa pragtige blou en pers kleure gekry. Dit was op so ’n aand dat die muse my besoek het. Met betraande, rooi oë het ek tussen niese deur twee versreëls geskryf:

Die aandson kleur die berge pers

en in my styg hierdie vers . . .

En net daar het die muse my weer verlaat. Tot vandag toe pla dié ongeskrewe vers my.

Vroeër vanjaar het ek Windhoek weer besoek en as aandenking ’n klip teruggebring:

in ’n koffer piekel ek uit Namibië

’n mikaklip saam – by die doeane

op die lughawe word ek voorgekeer

wat is dit meneer? ’n doodgewone

klip van die soort wat my as tenger kind

maande lank laat ly het aan hooikoors

die soort wat op my verkenningstogte

in die skurwe rantjies rondom Windhoek

oogverblindend kon skitter in die son

die klip weeg byna drie kilogram

en lê nou asemloos soos ’n tydbom stil

tussen toiletware, sokkies en soeweniers

’n jeugherinnering is swaar om te ­ verklaar

en hoort liefs anderkant die grens te bly

Ek het ek nog nooit ’n loflied oor my grootwordstad geskryf nie. Miskien moet ek die muse weer naderlok met ’n kursus antihistamien.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.