Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rushdie se nuutste vol beloftes, maar rig min uit

Dis ’n minder magiese en meer realistiese roman, skryf Loftus Marais.

The Golden House deur Salman Rushdie. Uitgewer: Vintage Publishing. Prys: R295.

Salman Rushdie is ’n skrywer wat die groter geskiedenis en politiek glad kan oorbring in stórie, in die kinkels van ’n goeie verhaal. Maar ongelukkig is sy nuutste werk, The Golden House, een van sy swakker romans.

Dit fokus op globalisme, kapitalisme en identiteitspolitiek in die Obama-era, asook die opkoms van Trump. ’n Mens sou dink dat Rushdie se blik op dié onderwerpe goud sou lewer, maar nee – dis ’n werk wat, eintlik net soos Obama en Trump, baie belowe, maar relatief min uitrig.

Aan die woord in hierdie minder magiese en meer realistiese Rushdie-roman is die karakter René Unterlinden, ’n inwoner van die eksklusiewe Greenwich Village-blok MacDougal-Sullivan Gardens. Hy is ’n aspirantrolprentmaker en stel belang in ’n storie wat sommerso voor sy buurhuis opdaag. ’n Ryk magnaat uit Suid-Asië, met ’n valse naam (Nero Golden) en drie eksentrieke seuns (Petya, Apu en D) trek in en vinnig kry die geldbaas ook ’n geheimsinnige Russiese minnares (Vasilisa).

Die Goldens steek iets verskrikliks in hul verlede weg. “These deracinated people rejecting their history and culture and ­name,” lees ons, en “their decision was born of a colossal sense of entitlement . . . to move beyond memory and roots and language and race into the land of the self-made self, which is another way of saying, America.”

Die nuuskierige René wil ’n fliek oor hulle maak en uitvind wat die gesin wegsteek. Terwyl hy rondsnuffel, tref tragedie ná tragedie boonop die familie.

As verteller irriteer René soms met sy alewige slimmighede en boek- en rolprentverwysings.

Ek vermoed dis gedeeltelik Rushdie se plan, maar hy voer dit te ver, byvoorbeeld: Die helfte van bladsy 177 bestaan uit ágt rolprentverwysings. Sulke postmoderne oordaad laat Rushdie se skryfwerk verouderd oorkom.

Soms skitter hy darem, soos in passasies oor Napoleon se gedroogde en bewaarde penis (ja, google dit!) en New Yorkse konstruksiewerk as “trans-avant-garde”-kuns, en ook met skerp beskrywings: ’n Russies-Ortodokse priester is “a beard in a tent”.

Maar te dikwels verkrummel die verhaal en word ’n happerige rubriekroman.

Rushdie het baie te sê oor Amerika.

Een karakter dink mense is dalk deesdae “savages who define their private bigotries as necessary ethics, as the only way to be”. Ook: “This modern obsession with identity revolts me. It is a way of narrowing us until we are like aliens to one another.” Dis ’n gepolariseerde landskap. Aan die een kant is die “alt-right” in hul benoude wêreldjie, aan die ander kant die “ex­treme left” met hul histeriese politieke korrektheid. Rushdie is kwaad vir albei.

Die polities bewuste René se karakterisering van Donald Trump as ’n soort Joker uit die Batman-wêreld kom egter skril oor. Dit steur later baie. En ons is nou al daar waar die byvoeglike naamwoord “Breitbartian” in romans gebruik word!

Die politiek van die magnaat word ondersoek. Nuwe keisers woon in wêrelde van hebsug, mag en ego. Ons lewe in die tyd van Trump Tower, tegnomiljardêrs en die Guptas. (Die Goldens is Indiese immigrante wat deur frontmaatskappye sondes wegsteek. Klink dit bekend?)

Rushdie se nuwe roman wil weet: Wat is identiteit – ’n essensie, ’n konstruksie, ’n politieke wapen of ’n leuen? Dis ’n gewigtige vraag, maar op die ou end is The Golden House nie so ’n gewigtige boek nie.

  • Loftus Marais is ’n digter en inhoudsregisseur van die kykNET-program Verslag in gesprek.
Meer oor:  Salman Rushdie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.