Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ryk bundel prikkel leser om dieper te delf

Atropos deur Hendrik J. Botha. Uitgewer: Queillerie. Prys: R175. Resensent: Daniel Hugo

Dit is opvallend hoeveel Afrikaanse digters die mediese professie opgelewer het: C. Louis Leipoldt, A.G. Visser, A.D. Keet, Theo Wassenaar, Casper Schmidt, Menno Stenvert, Phil du Plessis, Henk Rall, Gilbert Gibson, Hennie Nortjé, Jasper van Zyl en Ilse van Staden.

Die jongste toevoeging tot hierdie indrukwekkende lys is Hendrik J. Botha, ’n narkotiseur van Pretoria.

Botha put daadwerklik inspirasie uit sy beroep. Van die sterkste gedigte in hierdie bundel speel in die operasiesaal af, soos “Narkose”:

’n Stem stel jou gerus,

’n anonieme naald se prik

laat jou dobber soos ’n vissers-

boot

of wandel op die water.

Tussen rots en klip

lê jy uiteindelik gestrand,

verblind deur kuswagligte

wankel jy aan land.

Botha se verse is gestroop maar nooit klinies nie, soos wat sy gebruik van die volgehoue bootmetafoor in dié gedig getuig. Sy verwysings na die Griekse mitologie gee ’n diepgang aan die gedigte, sonder dat die digter hom aan ’n geleerdheidsvertoon skuldig maak.

Die bundeltitel verwys na die skikgodin Atropos, een van Zeus se dogters. Sy is die een met die skêr wat die mens se lewensdraad vroeër of later deurknip: “. . . slagvaardig / om alles sonder omhaal te beëindig / met twee lemme en ’n punt”. Hierdie aanhaling kom uit die openingsgedig van die bundel met die titel “Lotsbestemming”.

Botha se vaardigheid as versemaker blyk uit die meerduidige gebruik van “punt” as slotwoord van die gedig, wat dan inderdaad ook deur ’n leestekenpunt gevolg word. Dit dui natuurlik in die eerste plek op die punt van die skêr, maar ook op die eindpunt van die lewe.

Gode en godinne maar ook medici beskik oor die mens se lot in krisissituasies – veral in die geval van orgaanoorplantings. Dit word uitgespel in “As ek eendag groot is”: “ ’n god wat ingryp / in haar buik / om ’n nier oor te plant”.

In die slotgedig van die bundel word eers die lyfspreuk van alle geneeshere aangehaal (“primum non nocere” – in die eerste plek, moenie skade aanrig nie) gevolg deur die reël: “Spaar dan jou woorde vir die gode”. Die aardse “god” sal uiteindelik moet gaan verslag doen aan die hemelse gode oor die mate van leed wat hy wel aangerig het. Gelukkig word hy op sy oortog na die hiernamaals bygestaan deur die oergeneesheer Hippokrates.

In die eerste afdeling van die bundel ondersoek die digter sy verhouding met sy ouers en eie seun: “om sin te maak uit bloed”. In dié verband verskaf die aanhaling uit Eksodus oor die sondes van die vaders wat die kinders toegereken sal word ’n belangrike sleutel. Wanneer die psigoanalis Alice Miller later ter sprake kom, besef die leser dat die gedigte meer verswyg as uitspel. Miller het geskryf oor die trauma wat ouers kinders kan aandoen.

Een van dié kindertraumas word wel in “Teen die blou” beskryf. Die digter het as kind duiwe aangehou, maar toe hy koshuis toe gaan, moes hy van hulle ontslae raak. En in “Die waansin het my reeds kom haal” moet hy ’n graf grawe vir sy dooie hond. Die slotreël (“ek was ’n aks te laat”) laat vermoed dat hy nie kans gehad het om die hond te groet nie.

Hy gaan op soek in sy onbewuste en “die argiewe van my jeug” (bl. 60) om sin te maak van sy lewe – ’n proses wat dan as gedigte neerslag vind. En in dié gedigte word die troebel dinge glashelder verwoord.

Ek het wel een beswaar in hierdie verband. Die aanspreek van familielede in die tweede persoon skep soms onnodige onsekerheid. Wie is byvoorbeeld die “jy” in “Die sneeuman”? ’n Broer of ’n suster? Ook in “Verlies” is dit nie duidelik wie die “jy” is nie.

Ná hul dood probeer hy met sy ouers kontak te maak. Hy erf ’n radio’tjie van sy ma en “ore gespits vir ’n noodberig / hoor ek jou boodskap van die ander kant”. Ten opsigte van sy pa worstel hy snags in sy drome “om my aan jou te openbaar” (“Afrekening”).

Daar is enkele gedigte oor selfdoders, waarvan “Selfmoord” sekerlik die treffendste is. Die verwysing in ’n ander vers na Anne Sexton en Paul Celan, digters wat selfmoord gepleeg het, is besonder relevant vir dié tema – sonder dat dit so uitgespel word. Botha is ’n meester van subtiliteit en suggestie.

Die laaste afdeling bestaan uit elegiese gedigte vir sy vriend en mededigter Len S. Louw. As jong mans was hulle leuse: “vreesloos voort met die dood aan boord”. Louw het in Namibië grootgeword: “Met sommiges se stil vertrek / verskiet ’n ster bo Khorixas, / ander soos jy moet ly, maande, jare selfs / aan die Namibduine se windkant wag”.

As oud-Namibiër spreek die gedigte oor Damaraland, die Skedelkus en Kaokoland my besonderlik aan. Die doodsheid van die Skedelkus inspireer hom in “Wrak” juis om na die lewe te soek. Vir ’n medikus wat dikwels met die dood te doen kry, word dit ’n uitdaging en lewensnoodsaaklikheid:

Walvisbene rus lukraak teen ’n

duin,

’n meeu pik-pik aan ’n verlate

robkarkas.

Tussen al dié tekens graaf ek

al dieper

na iets wat lewe

om lyf te kry in ’n gedig.

Atropos is ’n ryk bundel. Ondanks die toeganklikheid van die gedigte word die leser telkens geprikkel om dieper te graaf, om die tekens en spore noukeurig te volg, want daar is heelwat boeiende verborgenhede.

  • Hugo is ’n digter en vertaler.

Meer oor:  Dokters  |  Daniel Hugo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.