Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ryk ‘ensiklopedie’ belig insekte, biome in fynste detail

Niefiksie

Pollinators, Predators & Parasites

Clarke Scholtz, Jenny Scholtz & Hennie de Klerk

STRUIK NATURE, R590

Insekte speel ongetwyfeld dié belangrikste rol in die funksionering van die aarde se ekostelsels.

Sonder hulle sal die natuurlike wêreld ineenstort. Die mens sal ook nie sonder hulle oorleef nie, maar hoeveel van ons dink twee keer daaroor voordat ons ’n insek doodtrap of doodslaan?

As jy hierdie waardevolle ensiklopedie onder oë gehad het, kan jy nie anders nie as om respek vir hierdie kruipende, vlieënde bestuiwers, roofdiertjies, sooispitters, herwinnaars en parasiete te hê.

Suider-Afrika is besonder ryk aan insekdiversiteit en in hierdie ensiklopedie word insekte in die fynste besonderhede belig.

Die inhoud van hierdie ryklik geïllustreerde boek is om Suider-Afrika se nege biome geskik. Vier kleiner maar belangrike biome is bygevoeg: insekte wat in varswaterhabitatte, kusstroke, grotte en die stedelike omgewing voorkom.

Die outeurs bekyk en beskryf insekte wat voorkom in die gebied suid van die Kunene- en Zambezirivier. Dit sluit in Suid-Afrika, wat intensief bestudeer is, asook Lesotho, eSwatini, Namibië, Zimbabwe en Botswana.

In hoofstuk 1 word insekte en hul ekologiese rol beskryf. Wat is ’n insek? ’n Wetenskaplike maar hoogs verstaanbare definisie van hierdie “ruggraatlose” diertjies word in hierdie hoofstuk gegee.

Ander aspekte wat in hoofstuk 1 bespreek word, is die vakterm entomologie.

Daar is baie meer insekspesies as byvoorbeeld voëls of soogdiere.

Altesame 1 600 kleurfoto’s en skematiese sketse kom in die boek voor. Die 25 insek-ordes word haarfyn bespreek.

Baie insekte is klein en nie goed bestudeer nie.

Benewens die beskrywings van insekte word plante en ander wilde diere en voëls bespreek waarmee hulle in simbiose leef.

Dít gee vir ’n mens ’n vae idee van die omvang van die taak wat die skrywers, die entomoloog emeritus-prof. Clarke Scholtz, die omgewingskundige Jenny Scholtz en die fotograaf Hennie de Klerk aangepak het.

Altesame 1 600 kleurfoto’s en skematiese sketse kom in die boek voor. Die 25 insek-ordes word haarfyn bespreek.

In die tweede hoofstuk, wat handel oor die fynbos-bioom, word ’n deel afgestaan aan die erg bedreigde Brenton-blouskoenlapper (Orachrysops niobe) en die geskiedenis van die stryd om hierdie insek in Brenton-on-Sea, suid van Knysna, te bewaar. Dié skoenlapper se huidige status is onseker nadat brande in 2017 in groot dele van daardie gebied gewoed het.

Indringers word ook breedvoerig bespreek. So is daar foto’s van byvoorbeeld die “aggressiewe” Argentynse mier, wat Suid-Afrika se inheemse miere uit die fynbos verdring.

’n Beskrywing van die lewensiklus van die heuningby – die koningin en die harde werkers – en die bedreigings wat dié lewensbelangrike bestuiwers in die gesig staar, laat ’n mens net weer besef hoe noodsaaklik dit is om hierdie insekte te beskerm.

As ons hulle met gif uitwis, staar hongersnood óns as mens in die gesig.

In hoofstuk 3 word die leser na die sukkulente-Karoo geneem. Sowat 5 000 van die meer as 6 000 spesies plante wat daar voorkom, is vetplante.

Altesame 26% van die plante is endemies aan dié gebied. “Hierdie plantdiversiteit maak van dié streek die rykste halfwoestyn ter wêreld.”

In hierdie streek (bioom) maak ons ook ’n draai by die “heuweltjiestermiete” by die Gifberg, naby Vanrhynsdorp, in die sentrale deel van Namakwaland.

In die Namib maak die leser onder meer kennis met die ikoniese “welwitschia en sy luis”.

In die Namib maak die leser onder meer kennis met die ikoniese “welwitschia en sy luis”.

In die Nama-Karoo kom ons die sprinkane teë wat so dikwels daar amok maak, maar so belangrik is vir die funksionering van die plaaslike ekostelsels en ’n noodsaaklike voedselbron is vir die erg bedreigde erdvark. Klimaatsverandering speel in hierdie bioom ’n sigbare rol.

In die graslande van Suid-Afrika groei verskeie spesies orgideë en as die leser nie geweet het wat die ekologiese funksie van perdebye is nie, kry hy in hierdie hoofstuk al die antwoorde.

In die savanne-bioom, tussen die mopanies en die koorsbome, is die fokus op Suid-Afrika se “grondingenieurs”, die termiete, en die massiewe strukture wat hulle bou.

In hierdie bioom is die bestuiwers, bye en skoenlappers ook volop. Ons loop ook die muskiet hier raak.

In die Albany-ruigtebioom (Albany Thicket), wat ruweg strek van die Groot-Visrivier in die weste tot die Indiese Oseaan in die ooste, groei die spekboom, aalwyne, strelitzias en oeroue broodbome. Die belangrikste bestuiwers daar is die heuningby, verskeie spesies torre en ’n mot.

Die Addo-olifantpark is ook in hierdie bioom. Hier word ’n staaltjie vertel van die miskruier wat nie nét olifantmis in bolle rol nie.

Maar een ding is seker: Miskruiers het in Addo deurgangsreg.

Van die woudbioom, wat strek van Afrika se oostelike bergreekse in Ethiopië en deur die Oos-Kaap tot by die Kaapse Skiereiland, is vandag net verspreide oorblyfsels te sien. Maar hier groei onder meer die outeniekwageelhout.

Om saam te vat: Hierdie publikasie bevat die jongste navorsing in entomologie en is ’n noodsaaklike bron vir enigeen wat daarin belang stel.

Elise Tempelhoff is ’n omgewingsjoernalis van Vanderbijlpark.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.