Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rympies vir kleuters pret en leersaam
Die voorbladillustrasie van Rympies vir kleintjies en kleuters. Foto:

Rympies is pret, maar ook soveel meer. Dit help kleintjies om op ’n lekker manier in totaliteit te ontwikkel.

Die bundel Rympies vir kleintjies en kleuters is so saamgestel dat die rympies help met die ontwikkeling van kinders tussen 3 en 5 jaar oud op die gebiede van onder meer die fisieke, emosionele, sosiale, kognitiewe en morele. Temas sluit aan by die leefwêreld van die jong kind.

Die bundel volg op die baie gewilde Rympies vir pikkies en peuters wat in 2015 verskyn het en gefokus het op kort verse vir kinders van 1 tot 3 jaar oud.

“Uit die meer as 5 000 nuutgeskepte rympies wat aanvanklik in 2014 ontvang is, is meer as 600 in die eerste bundel, Rympies vir pikkies en peuters. Uit die res van die verse is ’n verdere 400 gekeur vir Rympies vir kleintjies en kleuters. Dié verse is langer en bevat meer gevorderde woordeskat, terwyl die inhoud die ouer kleuter aanspreek, sê Gertie Smit, een van die drie samestellers saam met Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh.

Hierdie keer het Alzette Prins, Karen Ahlschläger, Marleen Visser, Dale Blankenaar en Vian Oelofsen vir die kleurvolle illustrasies gesorg.

Ons idee was in die eerste plek om mense uit te daag om net vir die lekker hul hand aan ’n versie (of tien) te waag.
Suzette Kotzé-Myburgh

Net soos die rympies is die illustrasies belangrik.

“Illustrasies vir hierdie ouderdomsgroep moet kindvriendelik wees. Vrolike, kleurvolle en humoristiese uitbeeldings wat aansluit by die uitbundige, lewensblye ingesteldheid van ’n kleuter,” sê Smit.

“Die lewe het egter ook ’n donker kant waaraan kleuters ongelukkig blootgestel word. Daarom is Dale Blankenaar se illustrasies van die afdeling wat onderwerpe soos hartseer, bang, die dood van ’n hondjie en onaanvaarbare aanraking behandel, in ’n strakker styl. Só word kinders bewus gemaak van verskillende visuele style.”

Dis nie sommer enigiemand wat rympies kan maak nie.

Om ’n perfekte rympie te skryf, is regtig moeilik, daarom het ons ook nog baie skaafwerk gedoen tydens die redigeerproses,” sê Kotzé-Myburgh.

“Die skrywer moet darem ’n goeie taalaanvoeling hê, en ook ’n oor vir klank en ritme. Anders as wat D.J. Opperman destyds met sy bundels kinderverse gedoen het deur gevestigde digters te gebruik, het ons juis dese en gene uitgenooi om rympies te skryf om nuwe, vars inhoud te skep. Ons idee was in die eerste plek om mense uit te daag om net vir die lekker hul hand aan ’n versie (of tien) te waag. Philip de Vos het uiteindelik die hele bundel deurgewerk om te verseker dat die metrum deurgaans reg is.”

Die hoofdoel van kleuterrympies is om genot te verskaf. Kinders hou van die sterk ritmiese aanslag, terwyl die rymwoorde vir hulle bekende bakens tussen ander woorde in die rympie word.
Suzette Kotzé-Myburgh

Die keuse van rympies is groot, maar elkeen wat vir kinders voorlees, weet dat hulle soms by een storie of rympie vashaak en dit dan oor en oor wil hoor, dikwels tot frustrasie van die een wat die leeswerk moet doen.

“Kinders hou daarvan om herhaaldelik na hul gunstelingrympies te luister. Dis vir hulle gerusstellend – hulle weet wat gaan gebeur en watter rymwoorde volgende gaan kom. Kinders leer ook deur herhaling, en woordeskat en taalpatrone word só vasgelê.

“Daarom moet ons nie bekommerd wees as Sussie met slaaptyd vir die soveelste keer na dieselfde rympies wil luister nie. Maar ons moet kleuters ook bewus maak van ander oulike rympies. ’n Goeie wenk is dat Mamma soms die rympie mag kies vir voorlees,” sê Smit.

“Die hoofdoel van kleuterrympies is om genot te verskaf. Kinders hou van die sterk ritmiese aanslag, terwyl die rymwoorde vir hulle bekende bakens tussen ander woorde in die rympie word. Voeg daarby herhaling wat lekker is om te sê, aksies wat nageboots kan word, klanknabootsing en ’n skootjie humor – dan is rympies pret. En as daar nog iets te leer is uit die rympie, is dit ’n bonus.”

Illustrasie by “My troeteldier”.Illustrasie: Marleen Visser
My troeteldier

Wat ek wil hê is ’n krokodil

Ma sê: “Nee! Hy laat my gril.

Toe vra ek ’n sjimpansee.

Ma sê: “Nee! O aarde, nee.”

Toe kies ek ’n gemmerkat.

Ma sê: “Goed gekies, my skat.”– Engela Duvenhage

Illustrasie by “Suurlemoen”.Illustrasie: Vian Oelofsen
Suurlemoen

Suurlemoen, suurlemoen,

is jy ryp of is jy groen?

As jy ryp is sê vir my

hoe ek jou dan soet kan kry – Gloudine Kellerman

  • Die uitgewer van Rympies vir kleintjies en kleuters is Tafelberg.
Meer oor:  Letterkunde  |  Digkuns  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.