Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rys en rugby: Ego duik boek plat

Erns Grundling se ‘Sushi en Shosholoza’ is ’n briljante idee wat op sy tweede pelgrimtog (en TV-reeks) na Japan geskoei is, maar dit word gepootjie deur ’n menigte mymeringe en terugflitse wat irrelevante, vervelige leesstof vorm, meen Marian van Wyk.

Sushi en Shosholoza: Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan deur Erns Grundling. Uitgewer: Queillerie. Prys: R275.

Die joernalis en TV-aanbieder Erns Grundling het ’n briljante idee beetgehad met sy tweede pelgrimstog, dié keer na Japan. Boonop is Sushi en Shosholoza se tydsberekening uitstekend: Die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan het immers eergister afgeskop én die tweede seisoen van Grundling se televisiereeks Elders word tans op kykNET uitgesaai.

Helaas is dit min of meer waar alles wat briljant en uitstekend is ophou.

Die boek vertel die verhaal van Grundling se vyf weke lange reis deur Japan waartydens Elders: Japan geskiet is, maar wemel van mymeringe en terugflitse wat irrelevante, vervelige leesstof vorm: die trofee wat hy as negejarige in ’n redenaarskompetisie gewen het, die keer toe hy sy ouers wakker gebel het nadat hy ’n ATKV-Veertjie gewen het en sy hunkering na “die Boet” (Port Elizabeth se voormalige Boet Erasmus-stadion). Selfs ’n rit in die sjinkansen (sneltrein) word beskryf as “biétjie vinniger as die keer toe ek saam met die renjaer Sarel van der Merwe in een van sy Audi’s tussen die wingerde naby die Paarl gejaag het” (bl. 69).

En so herinner wat ook al in Japan gebeur Grundling aan iets uit sy jeug, en daardie herinnering deel hy telkens in die fynste besonderhede. Dit is hierdie gemymer wat uiteindelik die boek pootjie en egoïsties laat oorkom.

Met soveel heimwee op 38-jarige ouderdom (in 2018) is dit nie verbasend dat Mitsoetaka Ogina, die span se gasheer namens Tourism Toyota, die skrywer se ouderdom op 51 skat nie. (Dít skryf Grundling summier aan sy baard toe.)

In ’n land waar ’n mens jou selfs in ’n gewone Seven-Eleven-kafee kan verkyk aan die sorg waarmee ’n bentoboks (’n tradisionele koshouer) na gelang van die seisoen vir visuele impak gepak word, is Grundling so behep met homself dat sy insig in die dikwels fenomenale en soms absurde Japannese kultuur tekort skiet.

Gereelde, lastige verwysings na die borge help ook nie (bl. 112): “Ek moet koddig lyk in my bloedrooi K-Way-stapbaadjie met die Toyota-logo’s voor en agter.”

’n Mens wens jy kan met ’n skêr inklim waar hy voor menige onderhoud in langdradige besonderhede beskryf hoe hy die persoon se kontakdetails gekry het: Dié predikant het hom van daai een vertel, en toe stuur hy e-pos aan nog iemand, en hoor dié een is sowaar daai een se skoonsuster, en toe . . .

Pleks dat die skrywer sy waarnemings deel oor hoe die Japannese hul stede vergroen met vertikale tuine, daktuine en parke, haal hy die meisie van ’n rugby-slot aan (bl. 78): “Alles hier is mos maar opmekaar en dis net geboue, so jy soek daai stukkie plaas.”

Die woord-vir-woord-herhaling van sulke oppervlakkige, irrelevante geselsies met Afrikaanse predikante, rugbyspelers en hul gades laat die vermoede ontstaan dat die boek onder druk en met toegang tot al die rolprentmateriaal geskryf is.

Deurgaans, en veral wanneer hy en die televisiespan van drie hulle telkens vasloop omdat hulle nie vooraf reëlings getref het met die plekke waar hulle van die tonele wou skiet nie, verwys hy na Japannese as mense “wat hou van reëls, struktuur en sekerheid”.

Grundling dink nie verder as dié logiese verklaring nie. Hy behoort tog te weet hoe belangrik respek vir etiket en tradisie in Japan is. Ons lees, en sien in Elders: Japan, hoe Botha Kruger van die Japannese konsepwinkel Waza in Kaapstad die skrywer touwys probeer maak oor etiket, en die ritueel van die uitruil van besigheidskaartjies met hom oefen.

Grundling se rol in dié ritueel eindig keer op keer in ’n gebloos terwyl hy lomp deur sy sakke grawe – ’n absolute taboe in Japan.

Die gebrek aan insig, of bloot verder dink as die voor die hand liggende, duur teen die halfpadmerk (bl. 138) voort. Wanneer die span by restaurante in die stad Tanabe weggewuif word met die woorde “no English”, vermoed Grundling dit verwys na die afwesigheid van Engelse spyskaarte, en nie vreemdelingehaat nie. Ook hier sit hy die pot ver mis. Rassediskriminasie teen Westerlinge en almal wat nie Japannees nie is ’n baie bekende probleem in Japan.

’n Mens mis veral insigte oor unieke aspekte van Japannese kookkuns, soos die realistiese plastiekreplikas van geregte wat in restaurantvensters vertoon word, en die onwrikbare respek vir bestanddele tot by die punt waar ’n gaar vis altyd na links moet kyk.

Miskien is dit Grundling se gespartel met eetstokkies (chopsticks) in elke restaurant wat hom aanvanklik soos volg oor die kos laat skryf (bl. 35): “Die Japannese kos is darem glad nie so eksoties soos in ander lande in Asië waar jy nie altyd seker is wát in jou bord dryf nie.” Eers heelwat later (bl. 127) deel hy met sy lesers dat elke gereg voor hom ’n klein kunswerk is.

Wanneer ’n winkelassistent op die Koemano Kodo-pelgrimsroete vir Grundling ’n gedroogde pruim aanbied, weet hy nie hy het pas die gesogte oemebosji (waar ons Suid-Afrikaanse mebos vermoedelik vandaan kom) in sy mond gestop nie. Of dat ’n mens dit op rys kan eet nie . . .

Hy beskryf dit as “kaksleg” en beweeg aan.

So tussen die rugbypraatjies deur koop Grundling vir hom ’n Japannese rugbytrui en vertel opgewonde hy sal dit weer dra wanneer hy vanjaar terug is in Japan vir die Wêreldbekertoernooi (bl. 79): “Ek moet dit self uit my spaargeld betaal, dit is immers nie ’n produksie-uitgawe nie.” Hierna volg amper twee volle bladsye oor die vorige keer toe hy ’n ander land se sporttrui gekoop het, wat gaan draai by sy st. 7-jaar . . .

Die hoofstuk oor Osaka word oorheers deur ’n gesprek met ’n Afrikaanse sendingpredikant oor nege bladsye en sluit af met die skrywer se rugbyherinneringe en ’n gesprek met ’n Ierse kroegeienaar oor sewe bladsye.

Die hoofstuk oor die antieke stad Kioto is die laagtepunt. Dit neem ’n allemintige 20 bladsye voordat Grundling oor Kioto begin skryf en begin waar hy hom op ’n elektroniese toilet sit en kwel oor sy vryskuttydskrifartikel. Hy “fok rond op sy foontjie”, werk uit dat hy 14 360 km van die Weg!-tydskrifkantoor is, en skryf: “Ek is ’n perfeksionis. Ek plaas te veel druk op myself. Ek stel dinge uit . . .”

En later: “Ek weet wat ek doen is simpel.”

Sodra drie agtereenvolgende sinne met “ek” begin, moet enige skrywer weet dis tyd vir herbesin en herskryf. Maar nee, die skrywer se ego – en sy angstigheid oor sy chaotiese reëlings – vind selfs sy pad na die enkele bladsye oor Hirosjima. En tussen al die gemymer deur raak hy dié wysheid kwyt (bl. 188): “Skryf bly vir my een van die moeilikste goed op aarde.” Sela.

Op enkele plekke is die skryfwerk beter. In die drie hoofstukke waar Grundling stap – die berg Foedji, die Koemano Kodo-pelgrimstog, en later die Nakasendo-weg – is daar fyner waarnemings oor die omgewing, en interessante vertellings uit die Japannese mitologie. Sy beskrywing van ’n besoek aan ’n Maid Café en ’n jaagtog met knortjorre deur die strate van Sjiboeja in die laaste hoofstuk is prettig danksy ’n vinniger pas.

Heel ironies is dit dié woorde uit ’n insiggewende onderhoud met Lianca van der Merwe, ’n Suid-Afrikaner in Kioto, wat ’n mens bybly: “Wanneer hulle [gei­sjas] meer volwasse raak, het hulle minder tierlantyntjies, want dan bewonder mense jou werklik vir jou talente.”

Wyse woorde wat goed op skryfwerk toegepas kan word.

(Terloops, die taalversorging is gelukkig goed, maar kan iemand asseblief vir redigeerders en skrywers vra om op te let na die herhaalde gebruik, of misbruik, van die woord “ook”. Dit kom soms tot drie keer per paragraaf voor.)

  • Marian van Wyk is kreatiewe redakteur van die tydskrif Tuis. Sy is gaande oor die Japannese kultuur, maar minder so oor rugby . . .
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.