Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
SA boekbedryf bloei met R216,3 m.

Die Covid-19-pandemie het, soos in talle ander bedrywe, tot ’n bloedbad in die plaaslike boekbedryf gelei. Christiaan Boonzaier het met uitgewershoofde gesels, oor onder meer die pad vorentoe.

Foto: Getty Images

’n Verslag deur Nielsen BookScan SA (NBS-SA), wat sedert 2003 verkoopsyfers by algemene boekhandelaars en e-handelaars in Suid-Afrika versamel en ontleed, weerspieël ’n slagveld wat die plaaslike boekbedryf weens die staat van inperking getref het.

Die verslag, wat boekverkope in die eerste 27 weke van 2020 vergelyk met dieselfde tyd in 2017, 2018 en 2019 (sien grafiek 1 hieronder), toon onder meer dat verkope van meer as R909,8 miljoen verlede jaar tot sowat R693,5 miljoen vanjaar gekrimp het – ’n afname van meer as R216,3 miljoen.

Hoewel verkope in die eerste tien weke van 2020 vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar met byna R2,6 miljoen toegeneem het, is ’n relatiewe klein kreeftegang van meer as R9,1 miljoen tussen 9 en 29 Maart vanjaar opgevolg deur ’n slagting nadat vlak 5-inperkings op 27 Maart ingestel is.

Tussen 30 Maart en 3 Mei vanjaar is 823 778 minder boeke as in 2019 verkoop – wat verkope in basies net 35 dae met meer as R146,5 miljoen laat daal het.

Dié afwaartse trajek het tussen 4 Mei en 5 Julie vanjaar voortgeduur – ondanks vlak 4- en vlak 3-inperkings wat boekhandel weer toegelaat het – met die bedryf wat in dié tyd sowat R63,3 miljoen minder as in 2019 verdien het.

Volgens Andre Breedt, besturende direkteur van Nielsen Book, die nuwe eienaars van NBS-SA, is dit belangrik om te benadruk dat dié en ander soortgelyke NBS-SA-verslae onder meer e-boek-verkope en die verkope van akademiese boekhandelaars soos Van Schaik en Protea uitsluit.

“NBS-SA dek wel ongeveer 95% van alle algemene boeke (nie-akademiese boeke) wat in Suid-Afrika verkoop word,” sê hy.

“Amazon is die grootste verkoper van e-boeke in Suid-Afrika, maar verskaf ongelukkig nie tans statistiek oor hul e-boek-verkope aan NBS-SA of Nielsen Book nie.”

Die NBS-SA-verslag sluit talle ander sleutelbevindinge in wat die pandemie se invloed op die plaaslike boekbedryf illustreer, veral as verkope in die eerste 27 weke van 2019 en 2020 vergelyk word:

  • Niefiksie-boeke het vanjaar meer as R132,1 miljoen minder verdien as verlede jaar – dít in vergelyking met kinderboeke en fiksieboeke wat onderskeidelik met meer as R54,7 miljoen en R36,1 miljoen teruggesak het (sien grafiek 2 hieronder).
  • Die verkope van godsdienstige boeke het die meeste van alle genres teruggesak – meer as 49,5% – gevolg deur biografieë en outobiografieë (34,7%) en voorskoolse boeke en prenteboeke (30,7%).
  • Die verkope van Afrikaanse boeke het met meer as R21,7 miljoen verminder en vanjaar net meer as R62,5 miljoen verdien (sien grafiek 3 hieronder).
  • Afrikaanse niefiksie-boeke het ook aan die kortste ent getrek, met verkope wat met meer as R12 miljoen afgeneem het (sien grafiek 4 hieronder). Afrikaanse kinderboeke is egter steeds die grootste deel – 44,46% – van die totale Afrikaanse boekemark, met Afrikaanse niefiksie wat 28,16% en Afrikaanse fiksie wat 27,28% uitmaak.
  • Genres wat die grootste terugslae onder Afrikaanse boeke beleef het, sluit in godsdiens (’n vermindering van 58,2%), niefiksie-kinderboeke (49,9%) en kos en drank (43,9%).

Melvin Kaabwe, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Boekhandelaars (Saba), sê dié prentjie sou nog meer benard gelyk het as die NBS-SA-syfers die verkope van groot akademiese boekhandelaars ingesluit het.

Hy sê die pandemie het verwoesting in die boekbedryf gesaai “omdat mense bang was en nie toegelaat is om hul huis te verlaat nie – ook omdat boekwinkels gesluit was totdat Saba druk op die regering uitgeoefen het om boekwinkels onder vlak 4-inperkings te heropen sodat hulle die onderwyssektor as ’n noodsaaklike diens kan steun”.

Kaabwe vermoed dat die afname in Afrikaanse en veral godsdiensboeke deels weens sommige uitgewers se besluit was om tydens die staat van inperking gratis inhoud aanlyn beskikbaar te stel.

“Dit was ook die geval met talle akademiese uitgewers wat via e-boek-platforms gratis materiaal aan studente verskaf het.

“Dit was heel duidelik met goeie bedoelings, maar dit was nadelig vir toekomstige besigheid. Ek glo hulle moes eerder vir hulp- en liefdadigheidsorganisasies afslagpryse aangebied het, soortgelyk aan dít wat voedselvervaardigers gedoen het om minderbevoorregtes tydens die pandemie te steun.

“Die haastige sprong na gratis inhoud het definitief die afname in die bedryf versnel, wat ongelukkig nog tot talle werkverliese sal lei.”

‘Verliese is g’n verrassing nie’

Uitgewershoofde in Suid-Afrika het byna uit een mond aan Netwerk24 gesê die tamaai verliese in die Suid-Afrikaanse boekbedryf is eintlik geensins vir hulle ’n verrassing nie – dit kon eintlik erger gewees het.

“Dit is effens beter as wat ek verwag het, want ons het aanvanklik gedink die streng vlak 5-inperking sou langer – selfs drie maande langer – duur,” sê Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-uitgewers.

“Dit het genadiglik nie gebeur nie en winkels het ongeveer ná ’n maand weer begin handel dryf.”

Wessels sê die knou wat die bedryf nou ervaar, is natuurlik “hoofsaaklik die effek van die pandemie”, maar benadruk dat die swak ekonomie ook ’n bydraende faktor is.

“Dit is moeilik om te bepaal tot watter mate kopieregskending en e-boekdiefstal – wat spesifiek in dié tyd baie toegeneem het – ’n rol speel, maar ons werk dié skending van ons outeurs en ons bedryf se regte en inkomste in samewerking met ’n aksiegroep binne Pasa (die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika) baie aktief teë.”

Wessels sê NB-uitgewers oorweeg die pryse van hul boeke “nou versigter as ooit” en doen wat hulle kan om koste te beheer in ’n poging om verliese te beperk.

Ons boekebesigheid het dus twee wêreldoorloë en die Groot Depressie oorleef. Ons is dit aan ons skrywers en lesers verskuldig om ook hierdeur te kom – en ons sal!
Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-uitgewers

“Boekuitgewerye in die groter Naspers-konteks het in 2017 sy honderdjarige bestaan gevier,” sê sy.

“Ons boekebesigheid het dus twee wêreldoorloë en die Groot Depressie oorleef. Ons is dit aan ons skrywers en lesers verskuldig om ook hierdeur te kom – en ons sal!”

Sy sê die staat van inperking het “die teenoorgestelde effek” op NB-uitgewers se e-boek-verkope gehad, wat “in dié tyd die absolute hoogte ingeskiet het en inderdaad gehelp het om ons omset te versterk”.

Steve Connolly, hoof van Penguin Random House Suid-Afrika, sê e-boek-verkope het ook in die Penguin-stal “aansienlik toegeneem”, maar dat dit net ’n “klein gedeelte” is in vergelyking met die verkope van gewone boeke – e-boeke sal dus nie kan opmaak vir verliese nie.

“As die regering aanlyn verkope toegelaat het, sou die verliese gehalveer gewees het,” sê hy.

“Ek dink die verbod op die verkoop van boeke aanlyn was ’n fout. Lesers kon boeke aanlyn gekoop het terwyl hulle in hul huise vasgekeer was.

“Maar dit het geen sin om nou daaroor te kla nie – dit is wat dit is, en dit is ’n werklikheid waarby ons net moet aanpas. Ten minste mag ons weer boeke verkoop.”

Die uitgewerybedryf het nie hoë marges nie, sê hy.

“Baie maatskappye gaan vanjaar ’n verlies ly. Daardie ses weke (tydens die vlak 5-inperking) is verlore. In Suid-Afrika gaan dit baie, baie moeilik wees om daardie verliese te verhaal.”

As die regering aanlyn verkope toegelaat het, sou die verliese gehalveer gewees het. Ek dink die verbod op die verkoop van boeke aanlyn was ’n fout. Lesers kon boeke aanlyn gekoop het terwyl hulle in hul huise vasgekeer was.
Steve Connolly, hoof van Penguin Random House Suid-Afrika

Connolly sê die pandemie se invloed op die boekbedryf in Suid-Afrika gaan ’n beduidende uitwerking op die prys van boeke hê, wat weens die wisselkoers en die koste van papier kan opskiet. Kontantvloei gaan ook ’n probleem wees, veral omdat uitgewers met geen tot min verkope steeds salarisse, vaste koste, verskaffers en tantième moet betaal.

Hy sê hy sal erken dat hulle tans ’n “nagmerrie” ervaar, maar dat hy daarmee saam tog dankbaar is dat net drie lede van sy span van 150 die koronavirus opgedoen het – en dat geen van hulle ernstig siek geword het nie.

“As jy dink die uitgewersbedryf gaan nie oorleef nie, moenie bekommerd wees nie. Daar is wêreldwyd bewyse dat mense steeds inhoud van hoë gehalte wil lees.”

Terry Morris, besturende direkteur van Pan Macmillan Suid-Afrika, stem saam.

“Boeke het in die verlede al resessie-neigings gesystap – en in lande soos Amerika, Duitsland en Brittanje is boekverkope beslis steeds sterk,” sê sy.

“Ouer titels word tans (in Suid-Afrika) teen afslagpryse verkoop, omdat winkels van voorraad ontslae wil raak en kleinhandelaars verkope wil opstoot, maar in die toekoms sal ons (boek)pryse moet verhoog as winkels minder voorraad koop en ons (uitgewers) daarom nie so baie eksemplare van ’n titel kan druk nie. Dít (prysverhogings) is egter nie ’n wenslike opsie nie.”

Morris sê ook aanlyn verkope het “wesenlik” toegeneem, maar dat dit nie vir die verliese tussen April en Julie vanjaar vergoed nie.

“E-boek-verkope het ook aansienlik in April en Mei toegeneem, maar dit plat nou weer af. E-boek-verkope was eintlik die afgelope paar jaar stabiel en sekere genres soos kommersiële fiksie is baie gewild, maar Suid-Afrikaners is in die geheel nie groot e-boek-verbruikers nie – hulle verkies steeds gewone boeke.”

Ek hoop werklik klein onafhanklike uitgewers sal deurdruk omdat hulle ’n kritieke rol speel in die uitgee van ’n wye verskeidenheid stemme en boeke. Sommige uitgewers en winkels sal wel nie oorleef nie.
Terry Morris, Pan Macmillan Suid-Afrika

Sy sê Pan Macmillan Suid-Afrika gaan hulle daarop toespits om nou meer boeke uit te gee in genres wat gewild is, soos aktiwiteitsboeke vir kinders en topverkoper-fiksieboeke.

“Vir eers hanteer ons dit maand tot maand. Ons hou ons oog eerstens op kontantvloei en daarna op planne om verkope te herbou.

“Ek hoop werklik klein onafhanklike uitgewers sal deurdruk omdat hulle ’n kritieke rol speel in die uitgee van ’n wye verskeidenheid stemme en boeke. Sommige uitgewers en winkels sal wel nie oorleef nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.