Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
SA celebs dra by tot lieflike kinderboek
Milan Murray, die dryfkrag agter Poenankies, ’n bundel kinderverhale vir ses- tot negejariges

Milan Murray is ’n aktrise met ’n passie vir lees en, as sy tyd in haar besige lewe kan inruim, ook vir voorlees. Een van die voorleesgeleenthede het intussen ’n lewe van sy eie gekry.

Sy vertel sy het eenkeer vir ’n gr. R-klas voorgelees en toe sy vra watter boeke hul gunstelinge is, het almal die skoolleesboek genoem.

“Ek het besef die skool het nie ’n biblioteek nie, die kinders het nie boeke tuis nie en hulle woon baie ver van die naaste dorp.”

Milan sê sy het besluit sy moet nie net ’n volgende kinderboek uitgee nie, sy moet seker maak die boek bring geld in sodat sy tot die Biblio’kies-projek kan bydra.

“ ’n Biblio’kie is ’n beweeglike boekrak wat aan gemeenskappe geskenk word sodat hulle boeke het om te leen en te bring.”

So lyk Poenankies se voorblad.

Met dié eindpunt in gedagte het Milan besluit om groot te gaan. Sy het bekendes gevra om kinderstories vir die bundel te skryf wat ’n hele kaleidoskoop van verhale en tale (alles Afrikaans) gelewer het – van ouer, meer formele taalgebruik tot die insigte van ’n rockster. En so het Poenankies lyf gekry.

Poenankies, sê Murray, beteken fraai en is ’n woord waarmee sy aan die Weskus grootgeword het. In 2017 is dit in die Woordelys en spelreëls as ’n Standaardafrikaanse woord opgeneem.

Die stories wissel van ’n kort gediggie, “My Ouma doen’it vir my” deur die hip-hop-kunstenaar Yoma, tot Gys de Villiers se fabel “Mooiloop”, “Nulniks se nulle” vol simboliek en kinderlike verwondering deur Jana Cilliers en “Gawie se Gesie” waarin Arno Carstens op ’n ernstiger noot aan spiritualiteit raak.

Die aktrise Antoinette Louw vertel in “Die avonture van Arrie en Lollie” van ’n meisie se middernagtelike reis saam met ’n vriendelike tarantula, terwyl Nathan Trantraal op humor besluit het in “Waa’s my skoene”. Dit gaan oor twee susters wat wedywer oor wie die swaarste kry.

Dié skrywers het kinderstories vir die bundel Poenankies geskryf.

Die digter Bibi Slippers, aktrise Diaan Lawrenson, rymkletser HemelBesem, skrywer Gielie Hoffmann en Milan het ook bygedra.

Lauren Nel, Sarlee van den Berg en Marisa du Toit het die stories geïllustreer.

Milan het geleer om verskeie balle gelyktydig in die lug te hou, want afgesien van haar bedrywige toneelloopbaan, die skryf van stories en ma-wees, het sy ook ’n maatskappy wat kinderboeke uitgee. Sy en haar vennoot, Charmaine Nolte, probeer om elke jaar een Afrikaanse kinderboek uit te bring. Poenankies is hul vyfde en soos met hul vorige boeke is die doel om lees by kinders te bevorder en hulle groter toegang tot boeke te gee. Murray & Me versprei ook die boeke.

Onder hul vorige publikasies is ’n idioomreeks, Pieter Kokkewieter en die hart op sy mou, Hetta Elizabetta en die wêreld op haar skouers en Kop in die wolke in Kromkieriefontein.

Milan het verlede jaar die Silwerskermfees-prys vir die beste draaiboek vir die animasie-kortfilm Kromkieriefontein ontvang. Dit is op die gelyknamige prenteboek gegrond.

Poenankies, wat moontlik gemaak is deur die LW Hiemstra Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys, word op 27 September om 15:00 op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom bekend gestel. Rozanne McKenzie is die gesprekleier en Jana Cilliers, Bibi Slippers, Gielie Hoffmann en Milan sal skrywers verteenwoordig. Marisa du Toit gaan die illustreerders verteenwoordig.

Meer oor:  Milan Murray
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.