Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
SA ‘verloor literêre reus’ van Afrika-letterkunde

Die letterkundige, rolprentmaker en skrywer prof. Bhekizizwe Peterson (60) het diep spore getrap. Nie net in die akademie, kunste-, rolprent- en teaterwêreld van Suid-Afrika nie, maar ook in die harte en denke van sy studente.

So is Peterson, in lewe professor verbonde aan die departement Afrika-letterkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se skool vir linguistiek, taal en media, Donderdag wyd op sosiale media gehuldig.

Prof. Bhekizizwe Peterson Foto: Natives at Large

Studente, kollegas en vriende het hul hart uitgestort.

Peterson was ook betrokke by die Afrika-kultuursentrum in Johannesburg, ’n opvoedkundige sentrum wat onder meer jong mense in teaterkuns onderrig.

Hy is Dinsdag in ’n hospitaal in Johannesburg aan hartkomplikasies dood nadat hy meer as twee weke lank met Covid-19 in die hospitaal was.

Vir sy studente was hy “bra Bheki” en in sy klasse het hulle die eerste keer met skrywers soos Sol Plaatje, Peter Abrahams en Ellen Kuzwayo kennis gemaak.

Vir sy studente was hy “bra Bheki” en in sy klasse het hulle die eerste keer met skrywers soos Sol Plaatje, Peter Abrahams en Ellen Kuzwayo kennis gemaak.

Veronica Klipp, uitgewer by Wits University Press wat sy boeke uitgegee het, sê Peterson “het ons gehelp om met nuwe oë na Suid-Afrika te kyk – elke gesprek met hom het ’n mens verryk en met meer begrip gelaat”.

Die kunsteaktivis Benjy Francis, ’n goeie vriend van Peterson, het hom só op sosiale media gehuldig: “Jy het die harte en denke, die reise en verhale van jonk en oud aangeraak waar jy ook al in diens van ons saak was, die swart kind, die bevryding van ons land, ons vasteland en die diaspora en ons voortgesette stryd in die wêreld.”

Peterson was in 1995 medestigter van die rolprent-en-televisiemaatskappy Natives at Large (NaL) saam met die rolprentmaker Ramadan Suleman.

NaL se doelwit is om stories van Afrika op ’n uitdagende en eksperimentele manier te vertel en om swart mense meer geleenthede in die bedryf te gee.

Hy was medeskrywer en vervaardiger van rolprente soos die bekroonde Zulu Love Letter (2004)  asook Fools (1997) en die dokkie Zwelidumile. Laasgenoemde dokumentêr handel oor die visuele kunstenaar Dumile Feni.

Peterson het saam met die dokumentêre rolprentmaker Rehad Desai as vervaardiger aan Desai se rolprente Born into the Struggle (2004), The Battle of Johannesburg en Miners Shot Down (2014) gewerk. Laasgenoemde rolprent het verskeie internasionale pryse gewen, insluitende die Taco Keiper-prys vir ondersoekende joernalistiek en die internasionale Emmy vir dokumentêre rolprente.

Suleman beskryf Peterson in ’n mediaverklaring van die Writers Guild of South Africa as een van die onbesonge helde van die bedryf.

Peterson het nie net wyd oor Afrika-letterkunde geskryf nie, maar ook oor performance en kultuurstudies, sowel as die swart intellektuele tradisie in Suid-Afrika. Hy het genootskappe aan die Yale-Universiteit in Connecticut, asook die Universiteit van Birmingham in Engeland gehad.

Sy boeke sluit onder meer in Fragments in the Sun en Monarchs Missionaries and African Intellectuals: African Theatre and the Unmaking of Colonial Marginality.

“ ’n Intellektuele reus het geval wie se bydrae tot Suid-Afrikaanse filmkuns nog lank ’n impak sal hê,” sê Cati Weinek

Hy was ook mederedakteur van die boek Sol Plaatje’s Native Life in South Africa: Past and Present saam met Janet Remmington en Brian Willan.

“ ’n Intellektuele reus het geval wie se bydrae tot Suid-Afrikaanse filmkuns nog lank ’n impak sal hê,” sê Cati Weinek, voorsitter van die Writers Guild of South Africa. Luidens ’n verklaring van Wits het Peterson navorsing in die veld van gemarginaliseerde vorms van kulturele kennis in Suid-Afrika en Afrika gedoen met ’n fokus op jeugkultuur, populêre musiekvorms, visuele kuns, swart intellektuele geskiedenis en outobiografieë.

Peterson is in 1961 in die township Alexandra, Johannesburg, gebore. Hy word deur sy vrou, Pat, en twee kinders, Neo (’n lektor in die departement televisiestudies aan Wits) en Khanyi, oorleef.

Volgens Desai word ’n openbare huldigingseremonie vir Peterson beplan nadat die derde vlaag van Covid-19 verby is. – Saamgestel deur Laetitia Pople

• Die laaste manuskrip waaraan Peterson gewerk het, Foundational African Writers: Peter Abrahams, Noni Jabavu, Sibusiso Nyembezi, Es’kia Mphahlele (saam met Khwezi Mkhize en Makhosazana Xaba), verskyn later vanjaar deur Wits University Press.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.