Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Saam in Antarktika – bladsy vir bladsy

Die avonturier Mike Horn vertel in ‘Dream of a Lifetime’ nie net hoe hy alleen Antarktika aangedurf het nie, maar wissel dit af met jeugherinneringe, en sy wedervaringe tydens die Grensoorlog, skryf Bun Booyens.

Antarktika se yslandskap. Foto: iStock

Dream of a Lifetime: Crossing Antarctica deur Mike Horn. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R250.

Tien jaar gelede in Kaapstad was ek vlugtig aan boord van Mike Horn se ekspedisie-seiljag, Pangaea. Mike het elke gas by dié mediageleentheid op die loopplank ingewag met ’n stewige handdruk-met-hupstootjie. ’n Niksvermoedende besoeker of twee is met ’n halwe tree tru gegroet.

Die boot, “ ’n 4x4 van die see”, het hy self gebou, bygestaan deur werklose mense van ’n krotbuurt in Brasilië. Aanboord was Horn opvallend hartlik, ’n onderhoudende geselser (ook in Afrikaans en ’n stuk of ses ander tale) en ’n innemende luisteraar.

Later, om die Pangaea se eetkamertafel, het hy joernaliste se vrae geduldig beantwoord, maar die hoekom-vraag het weer en weer opgeduik. Hóékom doen hy ekstreme dinge soos om alleen Suidpool toe te stap? “I always wanted to go where no one wanted to go.”

Maar hoekom op sulke lewensgevaarlike plekke? “I am drawn to fear,” was sy amper apologetiese antwoord.

En wat besiel ’n mens – ’n pa van twee jong dogters – om hom aan sulke dodelike sneeustorms bloot te stel? “Bad weath­er doesn’t last forever. If you have been through bad weather once, you can do it again. As in life.”

In amper enige hedendaagse avontuurteks hoor jy die leksikon van die Royal Geographical Society se ontdekkers van die 1800’s en vroeë 1900’s.

Nou, tien jaar later, ontmoet ons Mike weer in sy nuutste boek, Dream of a Lifetime, waarin hy vertel hoe hy vingeralleen Antarktika van kus tot kus via die langste moontlike roete oorgesteek het – 5 000 km, op ski’s (meestal gesleep deur ’n para-seil).

Dit is ’n effens ander Mike Horn aan die woord hier. Hy is nou anderkant 50, en in rou oor sy vrou, Cathy, wat in 2016 aan borskanker gesterf het. Sy twee dogters is nou studente en dit is hulle wat hom aangepor het om hierdie ekspedisie aan te pak.

Die boek dek Horn se tog van 57 dae oor Antarktika, geskryf in daardie unieke dialek wat oor die afgelope eeu deel van enige poolverhaal geword het – die dae wat krimp, die winter wat kom, die ysskeure wat gaap, die wind wat huil, die vriesbrand wat begin byt, die voorrade wat min raak, die jagter wat die prooi word, die wedloop teen tyd. . . .

In amper enige hedendaagse avontuurteks hoor jy die leksikon van die Royal Geographical Society se ontdekkers van die 1800’s en vroeë 1900’s. Van bergpieke wat verower moet word, woestyne wat oorgesteek moet word, riviere (meestal “crocodile infested”) wat getem moet word. Van ontdekkers wat óf rats en vinnig soos Amundsen óf lomp en dood soos Scott is. Hierdie Victoriaanse konsep van ’n “explorer” leef vandag voort, ofskoon daar weinig oorbly vir hedendaagse avonturiers om te ontdek.

Horn steun swaar op dié beeldspraak, maar wissel sy teks af met sy jeugherinneringe, sy bewondering as kind vir Jacques Cousteau (wat nooit die jong Mike se handgeskrewe briefie beantwoord het nie), sy heldeverering vir sy pa (’n provinsiale rugbyspeler) en sy wedervaringe tydens die Grensoorlog (waar hy ’n vinger in ’n landmynontploffing in Angola verloor het).

Omdat Horn alleen reis, is die meeste van die dialoog in die boek noodwendig met homself. (Ek slaan sy boek hier langs my oop. Op bl. 61 kom die woorde “me” en “I” 20 keer voor, op die volgende bladsy 29 keer.) Die leser kry wel ’n paar interessante verposings. Party van die hoofstukke is geskryf as ’n gesprek met sy gestorwe vrou. Tussendeur blyk dit hoe lief hy vir sy dogters is.

En dan is jy weer terug by Horn, snags in sy tentjie en bedags buite vasgegespe in sy vlieërharnas. Hy ski oor ysskeure, word oor vlaktes gesleep en teen sneeuriwwe vasgeslinger. Een van sy ski’s breek, een van sy windseile waai weg en hy gaan soek dit te voet. Hy verloor sy kookstofie en die kastrolletjie waarin hy sy drinkwater smelt – ’n mini-ramp met amperse katastrofale gevolge.

Party dae vorder hy skaars 10 km te voet, ander dae swiep hy 150 km ver per seil oor die ysplato, en bladsy vir bladsy vorder jy saam met hom.

Horn se spookskrywer kon hier en daar dalk die “kamera” ’n bietjie wyer laat kyk het. Mike beur, steun en hyg heelpad in jou oor. Die leser sou hom nou en dan ook doer ver as ’n stippel in hierdie grenslose en onuitspreeklike mooi landskap wou sien.

Een of twee verwysings in die teks lyk ook of dit foutief kan wees: Hy praat van water van -20 °C (seewater vries teen -2 °C), die supervasteland Pangaea wat vyf miljoen jaar gelede begin opbreek het (wel 175 miljoen jaar gelede), en ’n bataljon van 30 man (eerder ’n peloton?).

Jy is verlig wanneer ’n gehawende Horn uiteindelik die eindpunt haal. In sy dagboek skryf hy: “For others, there is zero value in what I’m doing, but it is teaching me to reach deep within, how to find a resource I didn’t know I had, and to become a better human being.”

Vir hom is Antarktika nou nie meer “godawful” en “utterly uncooperative”, soos ’n paar bladsye tevore nie. “I did it to share my dream with others,” skryf hy, “to open their eyes to our planet’s most unaccessible jewel.”

Ek onthou iets wat Horn destyds in Kaapstad gesê het: “Ek beskou dit nie as ’n maatstaf van sukses om te sterf nie. Sukses lê daarin om te bly leef. As ek 80 jaar oud kan word en my kleinkinders kan vertel van die dinge wat ek beleef het, dan is dít sukses as ’n ontdekker.”

Mag Mike sy 80 haal. Tot tyd en wyl het ons hierdie boeiende vertelling deur dié kleurryke avonturier en bomenslike vasbyter.

  • Bun Booyens is ’n vryskutjoernalis. Hy het in 1988 ’n jaar op Antarktika deurgebring as lid van die Suid-Afrikaanse navorsingspan daar.
Meer oor:  Mike Horn  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.