Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sameswering wat oortuig

Spanningsfiksie

Die Alfadokument

René van Zyl

WENKBROU, R340

Die Alfadokument word op die keersy beskryf as ’n spannende samesweringsroman – iets wat ek nog nie in Afrikaans raakgeloop het nie.

Michaela Cohen was niks meer as die bedorwe, selfgesentreerde dogter van ’n geloofsleier nie, totdat sy op 20-jarige ouderdom in Thailand tot lewenslange tronkstraf gevonnis word vir dwelmhandel. Die Nikolaïtiese orde het in die 15 jaar sedert sy stigting die Christelike kerk wêreldwyd beïnvloed. Uit Nikolas Cohen se aanpassing van ’n antieke geskrif, die Apothegmata Patrum oftewel spreuke van die woestynvaarders wat in Egipte ontdek is, is die Alfadokument geskep: ’n manifes van die orde se doelwitte waarmee Cohen en sy mede-direkteure – die Groot Ses – beïnvloedbare gelowiges wêreldwyd meegevoer en so hul winsgewende organisasie opgebou het.

Die Alfadokument het egter kort voor Michaela se inhegtenisneming spoorloos verdwyn uit die grafkelder waar dit bewaar is.

Ten einde sy vrou se moord op te los benodig Josh toegang tot die binnekringe van die orde.

Daarenteen beskryf Josh Young homself as ’n gewone Christen. As oudsoldaat in die spesiale magte beskik Josh oor ondervinding en instinkte wat hom goed te pas kom in sy bedrywighede as Bybelsmokkelaar, gerugsteun deur die orde. Saam met sy vrou, Daniëlla, leef hy hierdie passie uit – totdat hy ontdek dat hy sonder sy eie medewete ook besig is met wapensmokkelary. Ná ’n noue ontkoming in Somalië konfronteer hy woedend die Groot Ses. Die duiwel is dadelik los: Daniëlla word onmiddellik ná die konfrontasie grusaam vermoor, Josh ontsnap self ternouernood.

Ten einde sy vrou se moord op te los benodig Josh toegang tot die binnekringe van die orde. Michaela, as erfgenaam van haar pa se ryk, hou hierdie sleutel vir hom in. Hy orkestreer haar vrylating.

René van Zyl weef ’n hele hand vol karakterstorielyne meesterlik saam in ’n verhaal wat meer en meer diepte kry namate dit ontwikkel.

Michaela het self vyf jaar gehad om haarself voor te berei om wraak te neem op die Groot Ses, wat haar lewe verwoes het. Sy is dit eens met Josh dat die vermiste Alfadokument gevind moet word alvorens die orde ontmasker kan word, maar sy het haar eie wraakagenda, gevoed deur sielkundige aftakeling wat begin het lank voordat sy in Thailand toegesluit is.

René van Zyl weef ’n hele hand vol karakterstorielyne meesterlik saam in ’n verhaal wat meer en meer diepte kry namate dit ontwikkel. Dit sleur mee deur Egipte, Italië en Ierland, maar die pretensieuse wip van “ek-wys-ek-is-welberese” is glad nie hier ter sprake nie. Haar tekening van ander lande lees so outentiek soos die dele van die verhaal wat in Kaapstad afspeel.

Dis verfrissend om vir ’n slag ’n manlike protagonis in ’n ernstige spanningsverhaal raak te loop wat kompleks is sonder om ’n geraamtedraer met ’n drankprobleem te wees.

Clari Niemand is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.