Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sanlam se jeuglektuur lewer Afrikaanse wenners

Hy het “dwarsdeur alles geslaap” toe ’n staatsgreep op ’n aand in 2016 in Istanbul, Turkye, uitgebreek het, maar die skrywer Derick van der Walt kon die gebeure toepas in sy boek Toring van Jasmyn, wat Donderdag as die goue wenner in die Sanlam-pryse vir jeuglektuur aangewys is.

Derick van der WaltFoto: Lisa Skinner

Dit is Van der Walt se tweede goue prys in dié eerbewyse wat tweejaarliks aan nuwe manuskripte vir tienerlesers en jong volwassenes van 12 tot 18 jaar oud toegeken word.

Twee wenners (goud en silwer) word in elk van die drie kategorieë – Afrikaans, Engels en Afrika-tale (Nguni en Sotho, Tshivenda en Xitsonga) – aangewys. Die gesamentlike prysgeld is R90 000.

Annerle Barnard het die silwerprys in die Afrikaanse kategorie met haar boek Sindikaat gewen.

Toring van Jasmyn is ’n spanningsverhaal oor Markus wat Turkye saam met sy gesin besoek en bomaanvalle sowel as ’n ontvoering moet trotseer.

“Ek en my gesin was in 2016 vir so tien dae in Istanbul,” sê Van der Walt.

“Ek het nodig gehad om die gebied te sien en te ervaar. Dit het my opgeval hoe stil die strate is. Daar was wel polisievoertuie. Gewoonlik sien ’n mens so baie mense oral as ’n mens prentjies van Istanbul sien. So dit was reeds vir my vreemd. Ons was moeg, ons het gaan eet en ’n paar draaie gestap. Ek het toe gaan slaap. Daardie nag was daar helikopters en masjiengewere en ek het deur dit geslaap, maar die volgende dag teen 12:00 was dinge weer normaal. Die restaurante was vol en die strate weer vol mense.”

Van der Walt is baie dankbaar vir die prys.

“Op my ouderdom raak ’n mens al hoe meer onseker. Jy hoop vir die beste, maar dis ’n moeilike ding om ’n boek te skryf.”

Hy het juis met die skryf van Toring van Jasmyn geworstel. Hy het ’n idee gehad, maar kon nie lekker op ’n storielyn besluit nie.

Soveel so dat hy die boek ophou skryf het en eers ’n ander boek uitgereik het.

Daarna het hy die skryf van Toring van Jasmyn hervat.

Annerle Barnard

Barnard het ’n koerantberig oor ’n Chinese mafia gelees, wat tot haar boek aanleiding gegee het.

“Die onderwerp het tot my gespreek,” sê Barnard.

“Dit is betreklik moeilik om vir die jeug te skryf, want jy kan hulle nie flous nie, maar lesers van 15, 16 lees ook al volwasse romans. Ek het gereken dit is ’n interessante onderwerp om te verken.”

In Sindikaat word Paul (16) die teiken van die Chinese mafia wanneer hy ’n sindikaat ontdek wat bedreigde seeperdjies na die Ooste smokkel. Vir sy veiligheid stuur sy pa hom en twee vriende met vakansie na Zambië en Zimbabwe, maar die bende is agter hulle aan.

“Ek is baie, baie dankbaar om ’n silwerprys vir my tweede boek te kry. Dit is moeilik om die skryfwêreld te betree en ek is betreklik nuut in die bedryf.”

Die pryse is Donderdag by Exclusive Books in Hyde Park Corner in Johannesburg oorhandig deur Sydney Mbhele, uitvoerende hoof: bemarking by Sanlam, en Michelle Cooper, hoof van die kinder- en jeugafdeling by NB Uitgewers.

* Inskrywings word nou ingewag vir die 2021-Sanlampryse vir jeuglektuur. Inskrywingsvorms is beskikbaar by www.nb.co.za en die sluitingsdatum is 1 Junie 2020.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.