Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Satire en absurde wyk voor spanning

Skrywer teken woordprente, sê Deborah Steinmair.

Amatola deur Piet van Rooyen. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R220.

Die tipering “satiriese inslag” kan ’n meulsteen om ’n skrywer se nek word. Vele lesers word deur satire geïrriteer: dit impliseer dat die skrywer vanaf ’n emosionele afstand neersien op karakters en situasies, tong in die kies en effens uit die hoogte. Dit vervreem. Dit is moontlik waarom Piet van Rooyen sy jongste boek inlui met die statering: “Die gebeure wat hier opgeteken staan, is doodernstig, en nie ’n satire van watter aard ook al nie. Dit is in elk geval nie veronderstel om snaaks te wees nie. As enig­iemand hom die absurde wil verbeel, is hy welkom.”

Daar is eenmaal iets omtrent dié skrywer se styl wat satire suggereer, ’n slimgeit, ’n skerpheid, die afwesigheid van deernis. Hierdie boek is egter meer “realisties”, meer onomwonde avontuurverhaal as die vorige. Tog skuil daar vir die verbeeldingryke leser oorvloedige absurditeit tussen die reëls.

Die hoofkarakter – of een van die hoofkarakters – prof. Attie Vermaak met die geelgevlekte pypsteel wat by sy bosak uitsteek, “dikker, maar byna so grillerig soos die stert van ’n verdwynende muis”, is ? tipiese Van Rooyen-karakter: effe selfbelangrik, nonchalant maar berekenend, bewus van die beeld wat hy uitstraal: “bietjie van ’n boerse Indiana Jones, hy”. Die leser vermoed voete van klei.

Die ambisieuse prof. Vermaak hoor ’n voëltjie fluit oor ’n legende van ’n weggesteekte kloof op ’n plaas in die Sneeuberge met buitengewone rotstekeninge: ’n tafereel van ruiters in uniform, gewapen met gewere, wat jag maak op vlugtende figure. Hy en sy getroue sekretaresse, Estie, stel ’n span argeoloë en studente saam vir ’n ekspedisie na die Sneeuberge.

Die gebeure ontvou absoluut chronologies, die verhaalstruktuur is eenvoudig, ontdaan van terugflits of newe-storielyn. Dit bly in die oomblik en word ’n studie van mense onder druk, die dinamika van ’n groep wat tot die uiterste beproef word. Watter helde gaan vou, watter bleeksiele gaan heldhaftig uit die stryd tree?

Die ekspedisie bestaan uit prof. Attie, sy raakvatter-sekretaresse Estie (net-net 30 met ’n donker krullebol), Servaas van Wyk (vaalseun, onwrikbaar lojaal), Dirk Uys (bonkig, bebaard, jonk al medeprofessor), Rademan Dippenaar (senior student met lang hare in eerstejaarstyl), Jan Brand (sportiewe student, boers), Essabie Erlank (mooi, naïewe maar begaafde student) en Charl Lewis-Hamilton (Engels, akademikus, uiters korrek maar briljant). Is dit onvanpas om te wonder waarom die groep argeoloë so homogeen is? Die drywer is K-Moses Swartbooi, “die naam op Engels uitgespreek” en die gids die enigmatiese Samuel Makietie.

Dinge loop lelik skeef wanneer hulle deur ’n gevaarlike groep drosters, die Amatola-bende, oorval word. Dit word ’n soort Lord of the Flies – ’n groep mense in isolasie en onder angswekkende omstandighede, met verskuiwende dinamika en hiërargieë, seksuele spanning wat broei en natuurlik die allesoorheersende oorlewingsdrang. Die barbaarse wil-wil die oorhand kry (ook in die geledere van die geleerde argeoloë en studente) en sommige lede word ontmenslik.

Die boek begin redelik stadig, met pap wiele in die Vallei van Verlatenheid en ander ontberings langs die pad, maar tel gaandeweg momentum op, en in die laaste gedeelte laat die skrywer die angsvlakke onrusbarend styg. Dis hier waar die satiriese inslag plek maak vir rou spanning.

Van Rooyen is ’n bedrewe tekenaar van woordprente. Die leser voel met hierdie boek wel dat die skrywer se kontrak nagekom is. Daar is nog steeds, soos met Voëlvry, die onsekerheid oor genre-klassifikasie, maar dis ’n boeiende spanningsverhaal met ’n sterk einde.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.

Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.