Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Schalk Burger: Vratte, losballe, hoogvatte en al . . .

Schalk Burger se boeiende lewensverhaal, ‘Just a Moment’, wys rugby is maar een aspek van dié man, wie se karakter en bestaan net so veelvlakkig is soos sy prestasies as sakeman, wynboer, invloedryke probleemoplosser, raadgewer, gesinsman en getroue vriend, skryf Emile Joubert.

Just a Moment deur Schalk Burger sr., saam met Michael Vlismas. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R275.

Dalk is iets misgekyk, maar al waaroor ek nié ’n mening kon vind in Schalk Burger se memoires nie, is gedagtes oor onderwaterhokkie en ’n uiteensetting van hoe om die perfekte vetplanttuin uit te lê. Verder bied dié boeiende lewensverhaal, geskryf in ’n teks so vloeiend soos ’n Springbok-agterlynbeweging in die 1980’s, genoeg inligting, opinies en binnekringstaaltjies oor diverse onderwerpe wat jou als wil laat los en die pad vat na Burger se wynplaas op Wellington om nog te hoor.

Soos die meeste mense het ek Burger leer ken as ’n rugbyspeler wie se geesdriftige spel op flank en later slot van hom ’n vurige teenwoordigheid gemaak het op die plaaslike en internasionale rugbytoneel van die laat 1970’s en deur die 1980’s. Weens ons destydse muishondstatus is Burger se ekskursies in die Springboktrui tot ses toetse beperk. Maar sy kleurryke en invloedryke provinsiale loopbaan saam met die Oostelike en Westelike Provinsie het vir meer as ’n dekade geduur, waarin hy ’n reputasie gekry het vir vurige spel wat aan sportiewe terrorisme en gesanksioneerde geweld gegrens het. As speler is hy óf bemin óf verpes, maar jy kon hom nie ignoreer nie.

Soos Just a Moment toon, is rugby maar een aspek van ’n man wie se karakter en bestaan net so veelvlakkig is soos sy ervarings en prestasies as sakeman, wynboer, invloedryke probleem­oplosser, raadgewer, gesinsman en getroue vriend. ’n Verbysterende algemene kennis tesame met die rustelose nuuskierigheid om meer te weet van alles en nog wat, plus ’n vermoë om onderhoudend hieroor te gesels, rond gewis die regverdigende redes af vir die publikasie van Schalk Willem Petrus Burger se memoires.

Soos in alle fasette van sy lewe was Burger nie ’n gewone rugbyspeler nie – en nou praat ek nie van sy vermoë om die WP-slot Hennie Bekker met die kop te stamp dat ek dit persoonlik tot in Nuweland se onder-hoofpaviljoen kon hoor nie. Trouens, rugby was nooit op Burger se naskoolse (Paarl Gimnasium) radar nie. Hy was op pad Engeland toe om te leer hoe om renmotors te ontwerp. Maar tydens sy diensplig bel ene dr. Danie Craven en oorreed hom om op Stellenbosch te studeer en vir die Maties te speel.

Hy stel dit onomwonde hy moes dié Bok-span gehaal het.

Hier reeds het Burger sy stroomop-tendense begin toon. Hy had, byvoorbeeld, ’n broertjie dood aan die arrogante houding van die “oumanne” wat vir die Universiteit speel. Hy het sterk genoeg hieroor gevoel om vir sy veel ouer Matie-spanmaat die Springbok-ikoon Jan Boland Coetzee tydens ’n oefening terug te slaan nadat Coetzee met die jonger manne begin sukkel het. Burger is vir ’n week geskors deur Dok Craven, wat hom berispe het omdat “jy geen respek vir die ouer manne het nie”.

Maar die grootste boodskap wat Burger gekry het oor sy rebelsheid is in 1981 aan hom gestuur weens sy afsku van apartheid. Hy stel dit onomwonde dat hy die Springbokspan moes gehaal het vir daardie jaar se berugte toer in Nieu-Seeland. Ondanks sy goeie spel in die Springbokproewe is hy uit die span gelaat. “It was clear that I was seen as a divisive figure and my outspoken views had cost me a place in the Springbok team for that tour . . . the Springbok selectors still held it against me that I had been so outspoken about the Broederbond and Ruiterwag during my time at Maties,” skryf hy op bl. 71.

Vir Burger bly dit egter nie net by praat nie. In die 1980’s het hy – by wyse van ’n beter beskrywing – sy moer gestrip vir die WP-span waarin hy gespeel het en die Streeptruie gelos om te speel vir die WP Liga, wat toe die provinsie se span vir “anderskleuriges” was. Toe hy dus in 1984 gekies is as Springbok teen die Engelse toerspan, het Burger sy land verteenwoordig as lid van ’n rugbyspan vir bruin mense.

Met sy dinamiese persoonlikheid en as sportbemarker met goeie kontakte was Burger ook nou betrokke by die normalisering van Suid-Afrikaanse sport ná Nelson Mandela se vrylating. Hierdie boek vertel op onderhoudende wyse oor dié uitdagings, grootliks weens die spanning tussen SA Rugby se buffelagtige hoof Louis Luyt en die ANC-drukgroepe wat die sport as gedemokratiseer wou sien.

Burger, wie se maatskappy Megapro kommersieel by onder meer rugbyreklame betrokke was, het homself in die middel van als bevind. In een stadium in 1998, nadat Luyt vir Mandela na die hof se getuiebank gedwing het, was Suid-Afrika volgens Burger drie tot vyf dae weg van hernieude isolasie in alle sportsoorte.

Maar soos die reklame lui gaan Just a Moment oor veel meer as rugby. Dit vertel van ’n kind wat aan die verkeerde kant van die spoorlyn grootgeword het in die Paarl, waar dit soms so bedremmeld gegaan het dat die bruin Moerat-gesin vir Schalk se Walliese ma, Mavis, en sy twee broers en suster van kos moes voorsien terwyl sy pa gewikkel was in ’n stryd teen alkohol en sy eie demone.

Sy pa, ook Schalk, het in die Tweede Wêreldoorlog in Italië geveg en daar die skoot hoog deur gehad vir ’n Italiaanse meisie. Dus, vertel Schalk, het hy ’n ouer halfbroer in Italië wat hy nog nooit ontmoet het nie met die naam – wag daarvoor – Otello Burger.

Die boek gooi wye draaie. Die geskiedenis van die Zoeloes se uitreiking na die Boere word betrek, asook die Afrikanerpolitiek. Elk van sy drie kinders kry ’n eie hoofstuk, en sy vrou, Myra, handhaaf deurgaans ’n stil, sterk teenwoordigheid. As direksielid van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees predik Schalk sy liefde vir Afrikaans en alle kunsvorms, en hy deel gemaklik ’n steakhouse-tafel met Breyten Breytenbach en Johann Rupert. Die man bewéég.

Hier word ook ruim plek afgestaan aan die omstrede situasies waarin hy hom bevind het, soos die onstuimige voorval met sy broer Paul ná hul ma se afsterwe waarin ’n vreemde vlieënde koffietafel betrokke was en die bewerings van sy ongemanierde optrede teen plaaswerkers. En dan die gru-ervaring in 2008 van sy dogter, René, se verkragting, ’n saak wat amptelik gesluit is weens, volgens Burger, die onbekwaamheid van die polisie. Schalk stel hier sy kant van die saak en verklaar ook dat hy vanweë sy oortuiging besig is om ’n saak teen Naspers te maak weens sekere joernaliste se beriggewing oor hom.

Dit behoort teen hierdie tyd duidelik te wees dat die onderwerp van die boek baie te sê het oor baie. En die joernalis Michael Vlismas het hom uitstekend van sy taak gekwyt deur Burger se woorde vas te vang in die onopgesmukte en eiesoortige gees van ’n man wat nie skaam is om te sê wie hy is nie – vratte, losballe, hoogvatte en al.

  • Emile Joubert is ’n wynkenner en -bemarker en skrywer van Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.