Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Schoeman is inspirasie vir Winters se reisboek

E-pos-kommunikasie tussen die Nederlandse historikus Ria Winters en die Suid-Afrikaanse skrywer Karel Schoeman het so ’n sterk invloed op Winters gehad dat sy ’n reisboek geskryf het oor die plekke waar hulle albei geleef en gereis het. Winters het per e-pos aan Elretha Britz vertel van die besondere band wat oor drie jaar tussen haar en Schoeman ontstaan het. 

Ria Winters het Karel Schoeman nooit ontmoet nie, maar in die drie jaar voor die Suid-Afrikaanse skrywer se dood het sy deur e-pos-korrespondensie ’n hegte band met hom gesmee. Sy dood op 1 Mei 2017 het vir haar tot ’n totale leegheid gelei.

‘Reise met Schoeman’ deur Ria Winters.

“Al wat ek van hom oorgehad het, is opmerkings, versluierde raad, geheuebeelde, video’s, foto’s, tekste, beelde van lande, ’n kartonboks met boeke en ’n poskaart met ’n knipselfiguur van Matisse. ’n Vae indruk van die laaste drie jaar van sy lewe. En my gevoel oor en vir hom. ’n Man wat ek nie geken het nie, en tog ook. Of beter gestel: Wat ek sou wóú ken.”

Winters is ’n Nederlandse historikus wie se pad virtueel met Schoeman gekruis het toe sy ondersoek begin instel het na die verskeping van ’n dodo, die uitgestorwe reuseduif van Mauritius, wat moontlik êrens in die 17de eeu oor die Kaap na Nederland vervoer is.

“My versoek om inligting het egter in ’n lugleegte beland. Schoeman het laat weet hy het al sy navorsingsmateriaal aan die Universiteit Stellenbosch gegee. ‘Dis beter dat jy kontak maak met daardie geleerdes’,” het hy geantwoord.

Vreemd genoeg was dit nie die einde van hul kommunikasie nie, maar die begin van ’n intensiewe korrespondensie. Hulle het wedersyds vasgestel hulle het in dieselfde lande gewoon, in Ierland, Skotland en Nederland, en kon Suid-Afrikaanse sensasies en ervarings deel.

Hieruit het Reise met Schoeman – In die voetspore van die skrywer ontstaan, wat deur Proteaboeke uitgereik is.

Karel Schoeman
Ria Winters Foto: LitNet

Winters sê aanvanklik het sy nie besef met watter literêre reus sy te make het nie. Maar “op soek na een van sy boeke in die biblioteek van die PC Hoofthuis in Amsterdam” het ek op “twee volledig gevulde boekrakke in die Suid-Afrikaanse afdeling afgekom, almal met Schoeman se naam op die rugkante. Dun boeke en baie dik boeke, seker meer as 40 publikasies op ’n ry: romans, biografieë, dramas en historiese werke. Later het ek ontdek daar is meer as honderd werke met sy naam op.

“My besef van sy status het met verloop van tyd gegroei toe ek meer bewus geword het van sy enorme kennis van literatuur, geskiedenis en menswees.” Sy het ook uitgevind Nederland was sy tweede land en Amsterdam, waar sy die afgelope 30 jaar werk, sy lieflingstad. Dit, asook spesiale herinneringe aan ander lande, het ’n band tussen hulle geskep. Winters beklemtoon dat hul skrywery oor plekke en herinneringe gehandel het en nie oor “historiese navorsing of oor sy outeurskap nie”.

Winters vertel uit Amsterdam sy het mettertyd agtergekom Schoeman was ’n uitsonderlik private persoon en het nie graag vrae beantwoord nie. “Ons skrywe het bestaan as ’n retoriek, as ’n oor-en-weer-reaksie op mekaar se briefies. Die een keer het hy die inisiatief geneem om te skryf, die ander keer het ek dit gedoen. Dikwels het ek met ’n glimlag voor die skerm gesit. Sy woorde was altyd gevat, skerpsinnig en raak, partykeer skertsend met ’n verborge, droë humor.

Karel Schoeman
Karel Schoeman

“Ek het gefassineer geraak deur die stille eksentrieke mens aan die ander kant van die wêreld, wat so naby op my skerm was. Ons het mekaar nooit ontmoet nie, en ek het ook nie die gevoel gehad dat hy dit wens nie. Hy het ’n voorkeur gehad vir afstand hou, en ek het dit gerespekteer.”

Ná Schoeman se dood het Winters al sy e-posse in ’n aparte lêer op haar rekenaar gesit. Haar gewaarwording van die betekenis van hul kontak het al hoe sterker geword: Schoeman het haar onwillekeurig insig in haar eie kreatiewe denkwyse gegee en om van ’n rasionele ingesteldheid na ’n meer intuïtiewe, sensitiewe benadering om te skakel. Dit was vir haar ’n keerpunt en die begin van Reise met Schoeman.

Die boek is “ ’n persoonlike interpretasie, ’n aanduiding van Schoeman se gedagtes, soos hy dit vir my neerlê in sy skrywes, of liewer moet ek sê, soos ek my persepsie aan sy woorde geheg het. Die lande en stede waar ons geleef en gereis het – Ierland, Skotland, Amsterdam en Suid-Afrika – vorm die kaart, die roete, van my speurtog. Die reistog se doel is om herinneringe aan die lande en die stede wat ek voor sy dood besoek het te staaf met Schoeman se belewenisse. Die reiservarings wat ek ná sy dood opgedoen het, sou ek langs sy weergawes plaas.

“Met die reise neem ek as’t ware deel aan Schoeman se verlede deur die plekke en geboue te besoek waar hy geleef het om sodoende ’n beter begrip van sy wêreld te kry. Bowendien het ek dit ook interessant gevind om te sien watter invloed die lande en die stede op Schoeman as skrywer gehad het.”

Winters sê sy het dit nie moeilik gevind om Afrikaanse te leer nie en het die boek self in Afrikaans geskryf, hoewel sy erken dat Protea se boekredakteur Danél Hanekom “baie werk” gehad het, omdat sy nie die juiste sinsbou geken het nie. Twee proeflesers het ook gehelp om die teks regtig Afrikaans te maak.

Twaalf waterverftekeninge deur Winters gee ’n ekstra laag inligting aan die werk. “Ek het die illustrasies só gemaak, met in gedagte die wens dat Schoeman hulle mooi sou gevind het.”

Meer oor:  Protea  |  Ria Winters  |  Karel Schoeman  |  Nederland  |  Boeke  |  Reise  |  Reise Met Schoeman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.