Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Selfhelp-hoop vir almal wat psigies swaarkry

Soos die titel van Pieter van Zyl se ‘Verhale van hoop’ suggereer ís daar lig in die tonnel vir mense met psigiese siektes wat, net soos diabetes en hartkwale, met die hulp van kenners en geliefdes bestuur kan word, skryf Riette Rust.

Verhale van hoop: Só help jy jou geliefde en jouself deur Pieter van Zyl. Uitgewer: Lapa. Prys: R295.

Dié boek kon nie op ’n beter tyd verskyn het nie. Suid-Afrikaanse statistieke van psigiese versteurings is kommerwekkend en die Covid-19-pandemie vererger veral depressie. Tans ly minstens een uit elke ses Suid-Afrikaners aan depressie, angs en middelafhanklikheid en tot ses miljoen aan posttraumatiese stres. Nagenoeg 8 000 Suid-Afrikaners beëindig jaarliks hul lewe.

In sy tweede boek naas Gert & Joey (2018) plaas Pieter van Zyl die fokus op die hantering van breinsiekte, want net een uit ses lyers kry tans behandeling, terwyl familie- en professionele ondersteuning die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Die skrywer vertel ook van sy eie pad met angssteuring. Benewens die klomp persoonlike vertellings verskaf sielkundiges en psigiaters praktiese raad en aanbevelings oor behandeling.

Die psigiese siektes wat in 14 hoofstukke bespreek word, sluit in depressie, verslawing, bipolêre gemoedsversteuring, posttraumatiese stresversteuring, eetsteurnis, obsessief-kompulsiewe versteuring, opgaarversteuring en skisofrenie, asook versteurings waaroor minder berig word, soos histrioniese persoonlikheidsversteuring.

Wanneer ’n mens byvoorbeeld aan tourette-sindroom dink, dink jy waarskynlik aan ’n onbeheerste geswets, wat ’n uiters skaars simptoom is. Meer tipiese simptome kan insluit ’n aanhoudende keelskoonmakery of geknip van die oë, vreemde geluide, ongewone nekbewegings en onwillekeurige, herhalende spiersametrekkings.

Verhale van hoop is baie toeganklik geskryf en omdat die lyers se verhale so spanningsvol is, kom ’n mens nie agter wat jy alles leer nie.

Nog iets wat oral na vore kom, is die rol van kindertrauma in psigiese versteurings.

Daar is wel ’n klompie klein jakkalsies, maar hulle verniel nie die wingerd nie: Hier en daar word akademiese of Engelse woorde gebruik, terwyl Afrikaanse terme wel bestaan. Voorbeelde sluit in die hofie “Hoe keer jy dat jy ’n enabler word?” pleks van “Hoe keer jy dat jy (onwetend) die siekte bevorder?”; daar word van “tumultuous” tienerjare gepraat pleks van onstuimige of stormagtige tienerjare; “substansmisbruik” pleks van “middelmisbruik”; en “delusionele” versteuring pleks van “delusieversteu­ring”. Die gebruik van die woord “persoon” of “pasiënt” skep afstand – “hy” (die lyer) sou minder afstandelik gewees het.

Dit is ook soms nie duidelik na wie (die lyer of die ondersteunende familielid) verwys word wanneer raad gegee word nie.

Wanneer lyers hul verhale vertel, is dit ook nie altyd duidelik wie praat nie. ’n Inleiding sou die leser dadelik in die prentjie kon plaas, byvoorbeeld: “Susan is ’n 40-jarige prokureur wie se seun, Niel (17), aan dwelms verslaaf is. Niel se oupa was ’n alkoholis, nou fuif sy kleinseun ook met die dood.”

Die laaste hoofstuk, “Ons moet saam mens word”, hoort waarskynlik nie hier nie. Die jong lyer wat ’n aneurisme aan haar frontale linkerbreinlob gehad het, het ’n vorm van serebrale gestremdheid. Dis nie ’n erkende psigiese siekte nie.

Minder bekende feite kom regdeur die boek voor: Nie net stres kan paniekaanvalle veroorsaak nie, maar ook sekere medikasie, te veel koffie, ’n tandartsinspuiting en sommige verslankings- en malariamiddels, skryf Van Zyl.

Volgens die DSM-5 is opgaar­dery ook nie meer ’n subafdeling van ’n obsessief-kompulsiewe versteuring nie, maar ’n afsonderlike een, al hou die twee siektes wel verband. Iemand met ’n obsessief-kompulsiewe steuring het ’n ernstige behoefte aan beheer, terwyl wetenskaplikes vasgestel het ’n opgaarder se brein funksioneer abnormaal in die deel van die brein wat die prosessering van emosies beheer, skryf Van Zyl.

Nog iets wat oral na vore kom, is die rol van kindertrauma in psigiese versteurings. Stres kan simptome en/of uitbarstings na vore bring of vererger. Rusperiodes is uiters belangrik want uitputting kan simptome vererger.

Verhale van hoop ruim ook vele wanopvattings uit die weg. Dis onwaar dat iemand wat sê hy oorweeg selfdood dit nie bedoel nie, skryf Van Zyl. Kry áltyd professionele hulp.

Roep ook die hulp van ’n sielkundige en/of psigiater in indien jy vermoed dat jy of jou geliefde ná ’n traumatiese voorval aan posttraumatiese stres ly. Niemand hoef te leef met herhalende angswekkende gedagtes en traumatiese herinneringe nie.

Dis ook nie waar dat skisofrenielyers in die algemeen gewelddadig en gevaarlik is nie. Middelmisbruik en/of onbehandelde skisofrenie kan wel sulke gedrag na vore bring.

Een van die belangrikste redes agter Verhale van hoop is die wete dat psigiese siektes geneties is en, soos diabetes en hartkwale, bestuur moet word. Familie- en professionele ondersteuning kan die verskil tussen lewe en dood beteken.

Dít is die hoop wat deur die titel gesuggereer word.

  • Riette Rust is ’n skrywer en vryskutresensent van Welgemoed met ’n spesiale belangstelling in die sielkunde.
Meer oor:  Pieter Van Zyl  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.