Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sensasie vir die nasie

Die Mollett-broers het ’n ryk aar raakgeboor met hul selfpublikasies waarin die hooftema deurgaans is dat die regsproses misluk en ’n boosdoener sy verdiende loon vryspring. Vir ‘The Bloodied Bride’, hul jongste relaas – oor die moord op Anni Dewani – het hulle hul huiswerk deeglik gedoen, maar Johann Kriegler beveel dit slegs aan vir dié soort lesers wat graag by ongelukstonele stilhou vir die bloed.

Shrien Dewani by die hof in 2014. Foto: Nasief Manie

The Bloodied Bride: Did Shrien Dewani Get Away with Murder? deur Thomas en Calvin Mollett. Uitgewer: Piquet Books. Prys: R120.

Dit moes seker die uitdaging gewees het, anders weet ek eintlik nie hoekom ek ingestem het om die gebroeders Mollett se selfgepubliseerde e-boek oor die Dewani-moordsaak te resenseer nie. Die onderwerp is allesbehalwe aktueel, hoe opspraakwekkend dit ook ten tyde was – die betrokke misdaad is meer as ’n dekade gelede gepleeg en die gevolglike strafsake lankal afgesluit, dood en begrawe. As daar vandag nog enige openbare belang by die misdaad of sy nasleep is, ontwyk dit my.

Bowendien is dit in beginsel ongewens om ’n resensie te onderneem waar jou afkeer voorbestem is, en ek het dit bepaald hier teen die vorm én die inhoud. ’n Mens loop liefs ’n wye draai om enige selfgepubliseerde boek, gedruk of elektronies. As g’n uitgewer sin daarin gehad het en g’n redakteur se oog daaroor gegaan het nie, het ook ek nie lus daarvoor nie. Wat inhoud betref, kan ek myself ook nie help nie. Kritiek op die regbank, enige kritiek, bring my onwillekeurig op my agterpote, veral as dit kom van buitestanders met g’n besondere belang by of kennis van die gebeure nie.

Deesdae is daar alte veel beterweters wat fout vind met hofuitsprake en met ’n versweë vooringenomenheid kwansuis ’n objektiewe strydige gevolgtrekking aanbied.

Dis Hollywood verby, mooi nommerpas vir die satelliet-TV- kykermark ...

Die strafreg was lank my brood en botter, veral die strafproses. Ek is jaloers op my deskundigheidsterrein en ongeduldig met onkundiges wat sonder gefundeerde begrip wydlopende algemeenhede kwytraak. Nietemin moet ek dadelik en duidelik erken dis ’n ryk aar wat die Mollett-broers enkele jare terug raakgeboor en sedertdien naarstig ontgin het. Die wesenselemente is so oud soos die mensdom self: hartstog en haat, wellus en woede, ontrou en jaloesie, en die uiteinde geweld en bloedige doodslag. Meng dit saam, voeg daarby die spanning en strydlustige tweestryd van ’n hofsaak en jy het sensasionele drama.

Dit het begin met Bloody Lies: Citizens Reopen the Inge Lotz Murder Case (2014), gevolg deur Bloody Lies Too: More Lies Exposed in the Inge Lotz Murder Case (2015), die skrywers se opspraakwekkende ontledings van en kritiek op die verrigtinge teen (en later deur) Fred van der Vyver voortspruitend uit die grieselrige moord in Maart 2005 op sy vriendin Inge Lotz. Dié het hulle toe opgevolg met Oscar vs The Truth (2016), waarin hulle ’n dergelike kritiese ontleding aanbied van die moord deur Oscar Pistorius op sy minnares, die beeldskone Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013. Daar’s variasies, maar die hooftema is deurgaans dat die regsproses misluk en ’n boosdoener sy verdiende loon vrygespring het.

Met die Dewani-moord een November-aand in 2010 het die Molletts hier ’n voltreffer. ’n Jong Sweeds-Indiese toeris by name Anni Dewani word in ’n oënskynlik mislukte kaping doodgeskiet. Die moordenaars word blitsvinnig aangekeer en beweer dit was g’n kaping nie, maar ’n huurmoord in opdrag van Anni se man, Shrien. Hy ontken dit natuurlik heftig en word by sy verhoor jare later aan die einde van die staatsaak vrygespreek en siedaar! Dis Hollywood verby, mooi nommerpas vir die satelliet-TV-kykermark, die blinkste soft porn so uit die werklikheidsdraaiboek.

Ons het ’n plofbare brousel: vrouemoord à la #metoo; ’n beeldskone en Oosters-eksotiese slagoffer behang met goud en silwer; die skurk haar aantreklike en ryk bruidegom, klatergoud van bo maar ’n duistere homoseksuele sadomasochis van onder. Om die kroon te span op dié kinky-rillerdraaiboek is daar die kostelike gril-ironie dat die tweetjies oënskynlik op ’n droomwittebroodsreis is van Engeland via ’n superluukse wildsafari na ’n spoghotel by die Kaapse Waterfront, en middelerwyl weet jy en ek wat voorlê. Die kersie op die koek: Dis nie fiksie nie, dis wérklike werklikheidsdrama!

Die Molletts neem dan hierdie watertand-materiaal vir draaiboekskrywers en verpak dit nóg boeiender deur die leser te laat konsentreer op die bisarre afloop van die drama – eintlik die laaste bedryf van die treurspel wat die grofste ironie ontbloot. Hulle neem jou naamlik na die strafsaak teen Shrien Dewani wat om verskeie – en op sigself opspraakwekkende – redes eers etlike jare later plaasvind.

Volgens hulle is dit ’n anomalie: Die selferkende plegers van ’n huurmoord beken skuld en word daarvoor gestraf, maar die vermeende aanstigter word aan die einde van die staatsaak teen hom vrygespreek en loop fluit-fluit weg.

Hierdie teenstelling steek die skrywers dwars in die krop, en dit kan ’n mens begryp. Dit ís eienaardig, so onrusbarend dat dit straks in die openbare belang is om die hele storie van meet af weer onder die vergrootglas te neem om te probeer bepaal wát, indien enigiets, en hoekom die regsproses skeefgeloop het, en hoe herhaling voorkom kan word. Dis egter nie die perd wat die skrywers opsaal nie – en tereg – want dit verg middele en vaardighede waaroor hulle nie beskik nie. Hulle het byvoorbeeld geen van die strafsake bygewoon nie en daar is g’n sprake van ’n oorkonde van die Dewani-verhoor nie.

Hulle verklaar dan ook met die intrapslag “We are not interested in... the court case itself; the book primarily deals with Shrien Dewani’s versions” op soek na “the real story behind the death of Anni Dewani”.

Daar is twee onversoenbare stellings, die een dat hy die moord aangestig het, die ander dat hy en Anni slagoffers was van ’n kaping. Daarom, so verklaar die skrywers, ontleed hulle sy verskeie weergawes sodat die leser self kan besluit of hy die aanstigter dan wel die slagoffer van ’n misdadige set was.

Benewens sy formele polisieverklaring die dag ná die moord en sy pleitverduideliking by sy verhoor bykans vier jaar later het Dewani talle meer of minder volledige relase teenoor diverse luisteraars gemaak, byvoorbeeld sy en ook Anni se familie en joernaliste. Laasgenoemde se toetrede voeg by al die ander bestanddele van die plofbare feitemengsel nog ’n baster-politiek-diplomatieke element. Die Engelse loop te vertel dat ons owerheid die sake teen die moordenaars sommer onbekook en gou-gou as ’n huurmoord afgehandel het om die Kaap se reputasie as toeristeoord te beskerm.

Daarteen kom diverse plaaslike loslippige segslui in opstand en die saak teen Dewani word ’n internasionale cause célèbre, die BBC tree tot die stryd toe met sy swaargewigprogram Panorama – en dis éérs show business. Forensiese wetenskaplikes, vuurwapendeskundiges, bloedspatselfoendies – noem maar op – maak breedsprakige bevindings en die Suid-Afrikaanse polisie se ondersoek word verdag gemaak en neerhalend vergelyk met die Britte se kundigheid.

Dewani word feitlik uitgebeeld as die slagoffer van ’n duister Suid-Afrikaanse gekonkel. Teen die tyd dat hy uiteindelik sy opwagting in die Wes-Kaapse strafhof maak, is dit ’n siedende kooksel. Dat hy bra verflenter anderkant uitkom is natuurlik onvermydelik.

Ek’t nie soseer ’n probleem daarmee dat die Molletts hul nadere ondersoek van sy geloofwaardigheid doen nie, ook nie regtig met hul skerp kritiek op die wyse waarop adjunk-regterpresident Jeanette Traverso dié netelige saak hanteer het nie. Hofsake is ’n openbare saak en word in die openbaar gehou. Iedereen is welkom om teenwoordig te wees en kommentaar te lewer.

Dis nie net prinsipieel die essensie van openlike en verantwoordbare regspleging nie, maar dra daartoe by om foute en misbruike te verhoed of reg te stel.

Sodanige kommentaar kom ook nie noodwendig van regslui of ander ingeligte deskundiges nie en hoef nie deur suiwere burgerplig gemotiveer te wees nie.

Kommersiële joernaliste is net so welkom as hoogleraars.

Maar terwyl ek dus nie met die skrywers in geding wil tree oor die gepastheid van hul metodiek en nog minder oor die meriete van hul bevindings nie, is en bly ek ongemaklik met hulle basiese uitgangspunt. Kaal gestroop is die einddoel immers om aan die wêreld te toon dat al drie hierdie mans met moord weggekom het, dat hulle die gereg gruwelik ontduik het. Ek het tóg ’n onwegdinkbare probleem daarmee dat die skrywers bedektelik dog ondubbelsinnig vir Shrien Dewani, soos vir Fred van der Vyver en Oscar Pistorius, in die openbaar veroordeel sonder dat daar ’n geleentheid tot repliek was. En hierdie verdoemende “bevindings” word gegrond op eensydige en ’n eiehandige heroorweging en herwaardering van geselekteerde aspekte van die getuienis, selfs dié – eintlik by uitstek dié – van deskundiges.

Die skrywers vind dit goed om ewe vroom na ’n bekende regsbron te verwys aangaande genuanseerde beoordeling van geloofwaardigheid. Ek sou verkies het dat hulle eerder ag geslaan het op die oorkoepelende regs- en etiese beginsel dat niemand onverhoord veroordeel word nie.

Insgelyks wil ek ’n lansie breek vir regter Traverso, wat ook tersluiks bygekom word. Sy het 15 lange jare as adjunk-regterpresident die administratiewe spit afgebyt in die hooggeregshof in Kaapstad en veral sy verdien nie om onverhoord ’n klap uit die bloute te ontvang nie. Die skrywers was nie in die hof nie, daar is geen amptelike oorkonde van die betrokke verrigtinge nie en nugter weet op grond waarvan die skrywers hulle veroorloof om ’n mening uit te spreek oor die toelaatbaarheid van getuienis in die strafproses, ’n esoteriese onderwerp waaroor boekrakke vol geskryf is.

Die skrywers het hul huiswerk egter meer as deeglik gedoen. Die agtergrond, die rolspelers, die sentrale geskilpunt en die menigte botsende, weersprekende, verdagte en oënskynlik leuenagtige stellings word stapsgewys geïdentifiseer, ontleed en geëvalueer. Die redeneertrant word meesal duidelik uitgestip en die leser kan self die houbaarheid en gewig daarvan beoordeel. Miskien is dit te wyte aan ons gedeelde patriotisme, maar ek is veral beïndruk deur die metodiese weerlegging van die buitelandse aanvalle op die plaaslike ondersoek en die strafsake teen die moordenaars. Die skrywers steur hulle kennelik nie juis aan styl nie en die Engels slaan soms ’n bietjie deur, maar dis ’n onderhoudende relaas en van die illustrasies is besonder insiggewend.

Hoewel The Bloodied Bride moontlik nie iedereen se snaar tokkel nie, vir diegene wat graag by ’n ongelukstoneel stilhou om die bloed te sien of wat hul verlustig in sake soos die onderhawige (waarvan daar skynbaar ’n onuitputlike bron in die Kaap is), word hierdie boek aanbeveel.

  • Besoek www.thebloodiedbride.com of stuur ’n e-pos na info@piquetbooks.com om die e-boek te bestel.
  • Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.