Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ses vir versliefhebbers

Karen de Wet is die samesteller van die lieflike hardeband-bloemlesing ’n Vry vrou: Gedigte van Antjie Krog, wat 50 jaar ná Dogter van Jefta (1970), Krog se indrukwekkende debuut as 17-jarige, verskyn. Dit bevat meer as 100 gedigte “van empatie, weersin, liefde en woede” uit haar 11 bundels. Die uitgewer beskryf dit as “getuienisse van leef en beleef, van waarneem, opteken en tot teks omvorm”. Krog word allerweë as een van ons grootste digters beskou en is in 1990 (vir Lady Anne) en in 2017 (vir Mede-wete) met die Hertzogprys vir poësie bekroon.

Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R300.

In Ryan Pedro se debuutbundel, Pienk ceramic-hondjies, word die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding bekyk uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp. Sy beweging tussen verskillende we^relde word weerspieël in die taalgebruik, wat tussen verskillende variëteite van Afrikaans wissel. Pedro se verse is soms krities, soms teer en dikwels snaaks en hy skryf ’n onderverteenwoordigde ervaringswe^reld en nuwe tematiek in die Afrikaanse digkuns oop. ’n Resensie verskyn eersdaags.

Uitgewer: Kwela. Prys: R220.

Oor Die gladde stiltes in glas, Louis Esterhuizen se 11de digbundel sedert hy in 1986 met Stilstuipe gedebuteer het, skryf die digter Nini Bennet: “Hierdie bundel betrek glas as uitgebreide metafoor in al sy betekenisassosiasies, byvoorbeeld, lig, water, klip, rots, sterre, prismas en kristal.

“Verse oor die natuur, die liefde en die aard of besinnings oor poësie as ambag vind hul beslag . . . dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is.” Hou die boekeblad dop vir ’n resensie.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R195.

Met sy evokatiewe bundel Ondertussen verras Johann Lodewyk Marais die leser met uiteenlopende temas, wat wissel van Oos-Vrystaatse jeugherinneringe en reise en belewenisse deur Afrika en Europa tot liefdesvinjette en lykdigte. Wyle Gisela Ullyatt skryf in haar leesverslag: “Die spreker in die verse word gids en getuie van die sirkelgange van verlede en hede en lei hy die leser deur verskeie stemminge: melancholie, sensualiteit, die verlange na liefde, asook skerp humor.” Bel Tertia Swart van Naledi by 078 648 8616 of stuur e-pos na tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel. ’n Resensie is op pad.

Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Hennie Meyer se eiesoortige debuutbundel, Winkel van wanklanke, word beskryf as ’n “versameling konkrete poësie” – gedigte wat die grense van die gedig as teks en as visuele kunsobjek ophef. Die boek word gedeeltelik in kleur uitgegee en bevat ’n gedig in braille, asook verskeie skakels na die skrywer se webwerf, waar “videogedigte” besigtig kan word. ’n Resensie verskyn binnekort.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R250.

Avbob se derde poësiebloemlesing, I Wish I’d Said . . . Vol. 3, saamgestel deur die digters Johann de Lange en Goodenough Mashego, bevat 102 gedigte, waarvan 66 (ses in elke amptelike landstaal) in opdrag geskryf is. Ook opgeneem is die 33 pryswenners in elke taalkategorie van die vierde Avbob-poësiekompetisie, plus drie gedigte in die bedreigde |Xam-taal. Inskrywings vir die vyfde kompetisie sluit op 30 November (avbobpoetry.co.za). Kontak Tertia Swart ook hiervoor.

Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Meer oor:  Johann De Lange  |  Antjie Krog  |  Ryan Pedro  |  Nuut Op Die Rak  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.