Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Seuns wat ’n pa soek

Stefaans Coetzee se aangrypende ‘Oliver Twist’-verhaal van verwonde seun tot bomplanter tot boetedoener en versoener behoort in skole voorgeskryf te word, meen Dana Snyman.

Stefaans Coetzee ontmoet slagoffers van die Worcester-bomontploffing in 1996. Die foto is in 2013 geneem terwyl hy in die tronk was. Foto: Daniel Born

Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding, deur Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R275.

Eers ’n week of twee nadat Stefaans Coetzee se boek by my afgelewer is, begin ek dit lees. Effe onwillig.

Hier by bl. 10 rond besef ek waarom ek so traag was: Die boek laat my voel of ek terug is in Ventersdorp in die ou Wes-Transvaal. In die vroeë 1990’s. In daardie witwarm, regse AWB-tye voor en ná die land se eerste demokratiese verkiesing. ’n Mallerige, weemoedige tyd vir my.

Ek herken selfs sommige van die name wat Coetzee in die boek noem: Dirk Ackermann, Cliffie Barnard, Koper My­­burgh . . . al drie AWB-manne wat soms in Ventersdorp doenig was. Ek ken Ventersdorp. My ouers, albei reeds dood, het jare lank daar gewoon. My pa, ’n NG predikant wat oor is na die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) toe, was eens hoof­kapelaan van die AWB én ’n vriend van Eugène Terre’Blanche. Koper Myburgh se ouers was in Pa se gemeente. Soms het Pa ook van Cliffie Barnard gepraat.

Barnard en Myburgh was saam met Coetzee betrokke by die plant van bomme wat hulle self vervaardig het. Dit was hul misplaaste poging om die land onregeerbaar te maak vir die nuwe ANC-regering en die weg voor te berei vir ’n wit tuisland of die een of ander regse lugkasteel.

Die boek lees bietjie soos ’n sielkundige riller.

Coetzee – bygestaan deur die joernalis Alita Steenkamp – vertel alles in die boek: Hoe hy, skaars 19 jaar oud, op 24 Desember 1996 ’n bom, toegedraai in geskenkpapier, by die Shoprite in Worcester gaan plaas het. Hoe die bom ontplof het en vier mense dood is en meer as 60 ander beseer is. Hoe hy terug is na ’n plaas waar hy geskuil het en hoe Barnard hom daar ingewag en gelukgewens het.

Maar Coetzee gaan haal die storie ook verder terug by hoe sy ma weggeloop en hom en sy drie susters in die sorg van hul pa in Virginia in die Vrystaat gelos het toe hy vyf of ses jaar oud was. Fielies, hul alkoholis-pa, het ondanks sy swakhede moedig probeer om die huishouding aan die gang te hou. Vergeefs.

Stefaans, ’n sensitiewe kind wat hou van lees en teken, en sy drie sussies word in ’n kinderhuis in Winburg geplaas. Daar word hy ’n Oliver Twist wat deur die groter seuns geboelie word. Later kom haal sy ma hulle uit die kinderhuis en neem hulle saam met haar Upington toe.

Net soos vir Oliver Twist trek die lewe se skadukant hom aan. Oliver Twist word ’n sakkeroller; Stefaans Coetzee en sy nuwe maats beweeg op die dorp rond, veral oor naweke, en rand swart mense aan. Sulke dinge het destyds gebeur.

Op Upington kom Coetzee ook onder die invloed van Jan van der Westhuizen, een van sy skoolmaats se pa. Van der Westhuizen, ook bekend as Jan Voetbol, is ’n lid van die AWB, ’n onverdunde rassis wat aan ’n vreemde sekte, die Israel Visie, behoort. In Jan Voetbol vind Coetzee, die boere-Oliver Twist, sy Fagin. En toe begin sy lang pyn.

Die Amerikaanse digter en skrywer Robert Bly skryf insiggewend in sy boek Iron John: A Book about Men (1990) oor die sukkelpad na volwassenheid van sensitiewe jong mans soos Stefaans wat sonder ’n sterk vaderfiguur grootword: “The inner boy in a messed-up family may keep on being shamed, invaded, disap­pointed, and paralyzed for years and years. ‘I am a victim,’ he says, over and over; and he is,” skryf Bly. “But that very identification with victimhood keeps the soul house open and available for still more invasions.”

Dikwels – te dikwels – word só ’n jong man die slagoffer van ’n ouer gesagsfiguur wat allerhande radikale idees oor dinge het. Daarmee saam, sê Bly, ontwikkel die jongeling die behoefte om sy manlikheid op ’n slagveld of in die een of ander gewapende stryd te bewys.

In die vroeë 1990’s het ek gesien hoe jong mans soos Coetzee op Ventersdorp aankom, verniel deur die lewe en vol praatjies oor hoe hulle tot die dood toe sal veg vir die behoud van die Afrikaner-volk. My pa het meer as een van hulle in sy buitekamer herberg gegee.

Kort nadat só ’n jong lat by Pa se buitekamer ingetrek het, het hy hom by die AWB aangesluit, sy baard laat groei en begin Lexington rook, net soos sy leier, Eugène Terre’Blanche.

Ek het baie met van hierdie ouens gesels, en, ja, ook saam met hulle brandewyn en Coke gedrink, en dikwels was dit duidelik Terre’Blanche en van sy generaals is die vaderfiguur waarna hulle gesmag het. Gaan ’n mens te ver as jy sê hul stryd vir die behoud van die Afrikaner-volk was vir hulle ook ’n stryd om hul vaderwond te probeer genees?

Net so het Jan Voetbol ook vir Coetzee ’n vaderfiguur geword wat hy selfs “Pa Jan” genoem het. Ná matriek gaan woon en werk hy by Jan Voetbol op sy plaas in die Karoo waar Koper Myburgh en Cliffie Barnard hulle later ook aansluit.

Ek wil nie die verloop van Coetzee se storie hier weggee nie. Die boek lees ’n bietjie soos ’n sielkundige riller.

Coetzee gee hom ’n ruk ná die Worces­ter-ontploffing aan die polisie oor. Hy kry 40 jaar tronkstraf, maar sweer nie sy rassisme af nie – nog nie. Trouens, in die tronk sluit hy hom by die Wit Wolwe aan. Barend Strydom, leier van die Wit Wolwe, sweer hom oor die telefoon in as lid van dié organisasie. Bisar.

Maar in ’n tronk kan jy swart en bruin mense se menslikheid nie ontsnap nie. “Ek is bevriend met ’n Moslem in die sel langs my en ruil uit met ’n bruin man wat nie deur Cliffie, Koper en Jan Voetbol as ’n waardige mens geag word nie,” vertel Coetzee iewers.

En dan ontmoet Coetzee vir Eugene de Kock in die tronk in Pretoria. Hoe mooi, byna heilig, kan ironie nie soms wees nie: Eugene de Kock, die polisiekolonel wat bekend staan as Prime Evil, wat tronk toe gestuur is vir sy betrokkenheid by die moord op verskeie politieke aktiviste in die apartheidstyd, begin Stefaans se lewe in ’n ander koers stuur. Was dit die psigoanalis Jung wat eerste gepraat het van ’n “gekwetste heelmeester”, ’n geneser wat self geestelik verwond is? De Kock word presies dít vir Coetzee, al kan dit vir party mense vreemd klink.

Gaan lees self hoe De Kock asook oudminister Adriaan Vlok Coetzee laat besef daar is net een pad vorentoe, en dis die pad van boetedoening en versoening.

Hierdie boek behoort, die vet weet, in skole voorgeskryf te word, dalk sommer in die vak lewensoriëntering. In Coetzee, wat intussen op parool vrygelaat is, se lewe is ’n les vir baie seuns en jong manne wat sonder ’n pa grootword. Daar is al baie geskryf oor hoe sulke seuns en jong mans by bendes in veral die Kaap betrokke raak.

Dit kan gevaarlik wees om te veel dieperliggende oorsake in mense se gedrag in te lees, besef ek. Maar wat van Julius Malema, wat nog nooit sy pa ontmoet het nie, se invloed op ander jong manne? Durf ’n mens Steve Hofmeyr, wat onlangs gesê het hy is op soek na aktiviste, se naam noem? Daar behoort ’n breër gesprek hieroor te wees.

Coetzee het my ook weer trots gemaak op my pa, wat ook eens sy baard laat groei en saam met Eugène Terre’Blanche Lexington begin rook het. Liewe Pa, wat uiteindelik die AWB gelos en rassisme afgesweer het.

  • Dana Snyman is ’n skrywer en vryskutjoernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.