Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sielkundige riller, nie liefies

Fiksie

Liewe Mamma

Esther Verhoef

Lapa, R315, 00

Wat is ’n huis sonder ’n ma? Die oervraag kry ironiese en onheilspellende betekenis in ’n Europese riller met ’n onskuldige titel.

Jy kan jou misgis met Liewe Mamma deur Esther Verhoef, knap uit Nederlands vertaal deur Joanita Fourie en versorg deur Jeanette Ferreira. Jeugliteratuur of soetlike romanse is dit nie. Liefies, allermins.

Moederskap in verskeie hedendaagse fasette, bewonderenswaardig én twyfelagtig, asook fyner gekalibreer – van neuroties tot oorbeskermend, van warm en wys tot koud en narsisties – kom hier in verskeie ma-figure na vore.

Sterk op die voorgrond is Helen, ’n welgestelde getroude vrou, hardwerkende verpleegkundige en toegewyde ma. Haar huwelik met Werner, ’n restaurant-eienaar, het lankal afgekoel.

Een nag word haar netjiese bestaan wreed ontwrig wanneer ’n inbreker, Brian, hul luukse woning binnedring op soek na kontant. Instinktief veg sy terug om haar man te beskerm, met traumatiese gevolge. Wat sy nie weet nie – maar die leser wel – is dat daar dié nag ’n ooggetuie was, die 18-jarige medepligtige, Ralf.

Dié twee sleutelkarakters, vroegryp versus volwasse, is opgestel om die generasiegaping te belig; ook gapings tussen syn en skyn.

Vanuit Helen en Ralf se perspektiewe huppel die intrige afwisselend en onkeerbaar voort, in kort hoofstukke belaai met grillerigheid en hoogspanning. Helen en Werner probeer ’n fasade van normaliteit voorhou, terwyl Ralf agter die kap van die byl probeer kom.Wat het hy regtig gesien?

In feministiese konteks kan Helen gesien word as ’n slim, moderne heldin wat krag én weerloosheid uitstraal, soos haar briewe aan haar oorlede moeder onthul. Sy kan beslis of impulsief optree, en foute maak, Ten slotte herontdek sy haar ma se eertydse wysheid. Moeder weet tog maar die beste. Ralf met sy rebelse houding lyk aanvanklik na die antagonis. Algaande word hy ingeklee as ’n komplekse anti-held; hy het struikelblokke en worstel met skuld en selfverwyt.

Dié twee sleutelkarakters, vroegryp versus volwasse, is opgestel om die generasiegaping te belig; ook gapings tussen syn en skyn, die kloof tussen ryk en laermiddelklas-gesinne (in beskrywings van woonplekke en leefstyl), en in die verwagtinge en vrese wat ouers koester. Die afwesigheid van pa’s skep ’n verdere donker ondertoon.

Die klimaks ontplooi op die ongerepte Engelse hoogland – ja, letterlik ’n cliffhanger – en die ontknoping verskaf verlaas ’n geslepe dog onafwendbare kinkel. Die vertelling is by uitstek filmies, visueel en vaartbelyn, en dit verbaas nie dat die roman as dramareeks verwerk word nie.

Lesers wat hou van ’n sielkundige riller met meer om die lyf as naywer en wraak, sal nie teleurgesteld wees nie. Ma’s is vindingryk en in staat tot enigiets.

Schalk Schoombie is die skrywer van Die nag ruik na spoed.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.