Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sielsverhale

Ses nuwe outobiografieë wat pas in die boekwinkels geland het, vertel die lewensverhale van ’n paar fassinerende Suid-Afrikaners.

Genl.maj. Jeremy Veary, onlangs afgedankte Wes-Kaapse speurhoof, voormalige MK-kader en wenner van die kykNET-Rapport-niefiksieprys in 2019 vir sy debuut, Jeremy vannie Elsies (2018), draai nie doekies om nie in Into Dark Water: A Police Memoir, wat teen eerskomende Vrydag landwyd te koop sal wees. Die boek bied ’n breë blik op polisiëring, politiek en misdaad in die Wes-Kaap, maar ook ’n meer intieme binneperspektief op die lewe in die vuurwarm voorste polisiegestoeltes. Die “donker stroom” waarna die titel verwys, is die hoë prys wat die skrywer steeds betaal omdat hy sy roeping volg. Lees meer op Veary se gewilde blog, thedialecticalcop.blogspot.com. ’n Resensie verskyn binnekort.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

In sy langverwagte memoires, Robert: A Queer and Crooked Memoir for the Not So Straight or Narrow, vertel die kuns­tenaar, fotograaf, skrywer en genderaktivis Robert Hamblin veel meer as net die storie van hoe hy in sy vroeë 30’s, ná komplekse kinderdae en jare van leuens en geheime, oplaas sy vroulike liggaam kon agterlaat. Die uitgewer beskryf dit as die storie van ’n mens wat weier om in ’n streng heteroseksuele boksie te leef en wat aangetrek word deur ander wat menslikheid, liefde en geluk eerste stel ondanks die patriargale, rassistiese verbruikersamelewing waarin ons leef. ’n Resensie verskyn eersdaags.

Uitgewer: Melinda Ferguson Books. Prys: R280.

Brig.genl. Willem (Kaas) van der Waals, voormalige valskermsoldaat, militêre diplomaat, dosent en hoof van buitelandse betrekkinge van die weermag, het die verloop van die Grensoorlog en die revolusionêre aanslag teen die apartheidstaat in verskillende hoedanighede meegemaak. In sy outobiografie, Eerste daar, kyk hy terugskouend na sy loopbaan wat gekenmerk is deur veelsydigheid wat hom enersyds met gesagsfigure in die weermag laat bots het en andersyds wyd aanwendbaar gemaak het. Hy vertel nie net alles in dié hoogs leesbare outobiografie met ’n volkleur-fotoseksie nie, maar ontleed dit ook, skryf die politieke kommentator Leopold Scholtz.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R350.

Die voormalige binnenshuise- en produkontwerper, natuurlewefotograaf en gerespekteerde kultuurhistorikus Elize Labuschagne-Hull vertel in haar inspirerende en dikwels humoristiese outobiografie, Goed, beter, Betsie, hoe sy haar nie laat onderkry het deur haar kinderjare in Pretoria-Wes of haar “boekminderwaardige” pa wat op die spoorweë gewerk en deur die drankduiwel gery is nie. Sy sou gaan leer, al wou hy niks weet nie, en sy het nie opgehou voor sy ’n doktorsgraad verwerf het nie.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R295.

In dié “snaaksste, gekste en onwaarskynlikste memoires van ’n andersins doodgewone lewe” (aldus prof. Jonathan Jansen) vertel die advertensiebaas Ivan Johnson hoe ’n seun van die Kaapse Vlakte sy persoonlike identiteitskrisis, die struggle en absurditeite van Suid-Afrika en die destydse leliewit advertensiebedryf baasgeraak het. Die skrywer is ’n fyn waarnemer en gebore storieverteller wat graag met homself spot.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R295.

Die veelbekroonde Namibiese joernalis, aktivis en stigter van The Namibian, Gwen Lister, het bekendheid verwerf vir haar erge kritiek teen Suid-Afrika se besetting van Namibië en het oor die jare talle doodsdreigemente, aanvalle en inhegtenisnemings oorleef om die volle verhaal te vertel in haar memoires, Comrade Editor: On Life, Journalism and the Birth of Namibia. Dit word beskryf as ’n dapper, eerlike en inspirerende voëlvlug oor ’n lewe gewy aan geregtigheid.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R330.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.