Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Simposium ter herdenking van Elsa Joubert gehou
’n Gedenksimposium is in Nederland gehou vir die skrywer Elsa Joubert wat op 14 Junie vanjaar in die ouderdom van 97 jaar oorlede is.

Ses sprekers uit Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika het deelgeneem aan ’n herdenkingsimposium vir die ontslape skrywer Elsa Joubert.

Die simposium kan nou aanlyn op Zuid-Afrika-huis in Amsterdam se webwerf en YouTube-kanaal gekyk word.

Dit sou aanvanklik op 5 November in Zuid-Afrika-huis plaasgevind het, maar is weens die nuwe inperkingsregulasies afgestel. Al die sprekers het hul bydraes toe per videoverbinding gelewer.

• Dr. Annemarié van Niekerk, literêre kritikus, resensent en medeskrywer van die standaardwerk My Mother’s Mother’s Mother: South African Women’s Writing from 17th-Century Dutch to Contemporary Afrikaans (2019), het uit Den Haag ’n oorsig gegee van Joubert se lewe en werk, die literêre en maatskaplike invloed van Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) en Joubert se baanbrekerswerk vir vroulike skrywers.

Prof. Ena Jansen, emeritushoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde in Amsterdam en skrywer van Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (2015), het ’n klankopname afgestaan van ’n onderhoud wat sy in 2017 met die toe 95-jarige Joubert gedoen het na aanleiding van haar laaste outobiografiese boek, Spertyd, wat toe pas verskyn het. Jansen was ’n vriendin van Joubert en vertel tydens die simposium kortliks hoe dié kosbare opname tot stand gekom het.

• Die moderator van die simposium, prof. Margriet van der Waal, hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis in Amsterdam, het uit Groningen in die noorde van Nederland ’n gesprek gevoer met die Noord-Kaapse digteres Lynthia Julius, wat in April vanjaar met die digbundel Uit die kroes gedebuteer het. Julius bespreek onder meer haar literêre voorbeelde en die betekenis van Nama, die taal van haar voormoeders, vir haar poësie.

• Die simposium is afgesluit met ’n gesprek tussen die navorsers dr. Martina Vitackova, dosent in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Gent, en dr. Tycho Maas, ’n Neerlandikus, asook kenner van Latyns, wat hul gedagtes oor die roman Die Swerfjare van Poppie Nongena uitruil.

Van Niekerk verduidelik onder meer tydens die simposium hoe Joubert se Poppie in die apartheidsjare mense se oë oopgemaak het, eers in Suid-Afrika en later wêreldwyd. Sowel Julius as Vitackova en Maas meen dat die temas waaroor Joubert geskryf het, soos rassisme en geweld teen vroue, steeds aktueel is. Volgens hierdie drie jong stemme behoort Joubert in die 21ste eeu steeds gelees te word.

Die byeenkoms was ’n inisiatief van Zuid-Afrika-huis in samewerking met die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde.

• Kyk die Elsa Joubert-herdenkingssimposium hier:

.

Meer oor:  Elsa Joubert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.