Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sit seks terug in die riller

Erla-Mari Diedericks se erotiese, sielkundige riller ‘Dominique’ gaan die wenkbroue laat lig, maar slaag op verskeie vlakke wel die toets met genoeg afwisseling, ’n snel pas, kort hoofstukke en verskeie intriges wat die leser aan die wonder hou, skryf Jonathan Amid.

Dominique deur Erla-Mari Diedericks. Uitgewer: Wenkbrou. Prys: R250.

Dominique, ’n Franse naam van Latynse oorsprong wat “van die heer” beteken, is Erla Diedericks se eerste volwaardige spanningsroman wat dalk die beste opgesom word as ’n erotiese, sielkundige riller. Dit verskyn kort op die hakke van die bundel erotiese verhale Lyfskap en albei het toevallig Louis Esterhuizen as teksredakteur.

Vir lesers wat reeds Lyfskap geniet het, sal dit opvallend wees hoe Dominique aansluit by die mees eksplisiete, meer eksperimentele en uitdagende verhale in die bundel: Diedericks beweeg so ver moontlik weg van die kortstondige plesier van die ligter hygroman en ’n gemoedelike, gemaklike verteltrant om ’n spannende, aangrypende, diep ontstellende stuk fiksie te pleeg.

Die gelyknamige protagonis is nie om dowe neute iemand wat die kuns van knope – wat inperk en beveilig, wat smoor en sekerheid bied – onder die knie het nie.

Die ganse verhaal torring as ’t ware aan groter “knope” in ons gewelddadige samelewing: fisieke en emosionele geweld teenoor vroue; ongelyke gender- en magsverhoudings; die menswees en regte van sekswerkers; en die rol van fiksie as maklik verteerbare medium om gesprekke oor ongemaklike maar belangrike onderwerpe aan te wakker.

Daar’s ’n ontknoping wat jou na asem laat snak en behoorlik laat wonder, vertellings wat tussen die hede en verlede flits, verskeie karakters se verhale wat met mekaar ineenstrengel en goed knoop, en ’n magdom sekstonele, beskrywings en besinnings wat heelwat lesers warm onder die gordel sal kry, maar veral ook in diepe ongemak sal dompel.

Die mens agter die masker word uiters behendig en met groot teerheid deur die skrywer vasgevang ondanks die algehele wêreldbeskouing wat die roman openbaar.

Die hoofkarakter is ’n beeldskone, sensuele vrou wat haarself kreatief uitdruk in gewaagde selfportrette en wat ondanks die letsels van haar traumatiese verlede vol verlies en emosionele geweld haarself in die wêreld laat probeer geld. Die sexy Dominique is bereid om die soort dinge te doen wat mans nie sommer in hul slaapkamer tuis kry nie en sy geniet die vlietende oomblikke van mag en beheer wat na haar kant toe kom.

Wanneer jy steeds getreiter word deur die smalende stem van jou oorlede man, wat in ’n rotsklim-ongeluk dood is, en jy al vroeg besef het hoe seks as ’n wapen aangewend kan word te danke aan familie wat nie bloed is nie, dan probeer jy ’n toevlugsoord skep. Een waar jy van Dominique tot courtisane kan transformeer; waar jy een gefolterde, onstabiele identiteit vir ’n volmaakte fantasie kan verruil.

’n Identiteit waar jy as vrou die rol van heer kan speel in ’n konteks waar die mans wat van jou dienste gebruik maak allesbehalwe galante here is en daar altyd die bedreiging van ongewenste aandag in die skadu’s skuil.

Dinge begin lelik uitrafel wanneer een, dalk twee, persone ’n oorlas van hulself maak. Boodskappe om te wys dat haar woonstel nie veilig is nie. WhatsApp-boodskappe. Blomme. Bewondering wat ’n snakkende bedreiging inhou. Sal ’n oud­kliënt en polisieman en Dominique se terapeut, elk met hul eie donker geheime en fantasieë, haar kan help om antwoorde te vind voordat iets verskriklik gebeur?

Die mens agter die masker – Dominique as vrou, dogter, eggenoot, vriendin en kunstenaar – word uiters behendig en met groot teerheid deur die skrywer vasgevang ondanks die algehele wêreldbeskouing wat die roman openbaar. Met tye dreig die ontsettend siniese perspektief op mans, liefde en verhoudings om jou te verswelg, maar dit is in voeling met die milieu en belewenis van Dominique. Wat beteken die feminisme op voetsoolvlak vir sekswerkers soos Dominique en ander?

Die roman slaag op verskeie vlakke die toets. Ondanks die oordadige of onsubtiele frase of beskrywing en te veel adjektiewe wat nou en dan kop uitsteek, is Dominique onderhoudend en slim geskryf, met genoeg afwisseling van tonele, ruimtes en karakters, terwyl die versnellings van pas, kort hoofstukke en verskeie intriges behendig saamgesnoer word.

Dominique gaan ongetwyfeld die wenkbroue laat lig: Sex sells, ja, maar wie sou kon raai hoe bekwaam Diedericks as erotiese spanningskrywer sou wees?

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Dominique  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.