Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sjamaan se fees van woorde

Dié bloemlesing toon die onvaspenbare Breytenbach in al sy gedaantes, skryf Joan Hambidge.

Die singende hand: Versamelde gedigte 1984-2014 deur Breyten Breytenbach. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R400.

Die derde band van Breytenbach se versamelde gedigte het pas by Human & Rousseau verskyn. Dit heet Die singende hand wat die digter vir ons verduidelik op die agterblad: ­Henri Matisse, die Franse skilder, het by geleentheid verduidelik dat hy aanhou skilder tot die hand begin sing, sodat die hand mag sing. Die “bewegende ekke”, sodat die hand vry mag omgaan met die woorde.

In die digter se woorde: “ ’n Mens sou seker kon vra of die dans dan ophou wanneer die hand nie meer sing nie? Miskien bly daar tog naklanke, die herinneringe aan arabeske in die niet. ’n Mens moet in ieder geval nie te veel vra nie.”

Hierdie bundel word tereg getipeer as laatwerk en nalaatwerk – in navolging van Helize van Vuuren se insigryke studies oor “laatwerk” soos gedefinieer deur ­onder andere Edward Said.

Dans, skilder, beweging, die iteratief-duratief, die Niet, die illusie van die wêreld, die verskillende ekke of manifestasies van die self (Buffalo Bill, Buiteblaf, Braakinpag, ensomeer) wys op die digter as kamiljoen en bundelbouer.

Hierdie bloemlesing bevat Verspreide gedigte, Soos die so, Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde, Oorblyfsels: ’n Roudig, Papierblom, Lady One, Die windvanger, Oorblyfsel/Voice Over, Die beginsel van stof, Katalekte en Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte.

Daar is ’n nuttige alfabetiese register van titels en eerste reëls. Die bloemlesing beslaan 744 bladsye.

Daar is reeds geweldig baie teoretiese studies en artikels oor die werk van Breytenbach die skilderdigter geskryf. Die reeds genoemde Van Vuuren, Louise Viljoen en Hein Viljoen, onder andere, het openbarend oor hierdie belangrike en komplekse digter geskryf, terwyl Francis Galloway sy werk as openbare figuur en intellektueel goed gekarteer het. Marilet Sienaert, op haar beurt, kyk na die werk van die skilderteks.

Die voordeel van so ’n bloemlesing is dat verse op ’n nuwe manier met mekaar verbintenisse sluit buite bundelverband. Die aangrypende lykdig oor Chris Louw “Boetman, boetie, broer” klink nog meer navrant op as destyds ná sy selfdood:

kyk hoe kyk die natgereënde lyk in die

ou voëlhok

naby die komposhoop

waar hy blomme geplant het

Breytenbach se verstommende beeld- en assosiasievermoë kom weer sterk onder die leser se aandag. Die gedig word ’n minnaar, ’n binnedringer tussen hom en die werklike geliefde in die vers “weglêbrief vir gedig”, waar die voete soos ­skurwe metafore bekyk word.

Verse praat onderlangs in bundel- en
in bloemlesingverband met mekaar soos die whisky in die vaatjie en ook buite bundelverband wanneer die familie, en veral die ouers, weer aangespreek word in pynlik-aangrypende verse.

Daar is eweneens die procédé van die selfgesprek en die alter ego – onder meer in “brief (oorgang)”. Die skryfproses is eweneens iets waaraan die digter twyfel: die gedig as ononthoubare letsel . . .

Die tegelykertyd-aspek, die saamdig van lewe-en-dood, is ook ’n kenteken van hierdie singende hand se woordwerk.

Daar is benewens die selfgesprek ook gesprekke met digters soos César Vallejo, Pablo Neruda, Arthur Rimbaud, Ezra Pound, Magmoed Darwiesj (Mahmoud Darwish), Leonard ­Cohen, en andere.

’n Mens sou ’n hele studie kon onderneem oor hoe die gedig vir hierdie digter gedefinieer word: die gedig as buikpop, die gedig as konterfeitsel, die gedig as afwesige Iets, die gedig as droom, die gedig as labirint, die gedig as uitskeiding of uitskot, die gedig as spieël, die gedig as reis of beweging, die gedig as maitresse, die gedig as pense-bête, die gedig as wegsê-stilte, die gedig as dinkding, die gedig as vervlietende gedagte, die gedig as troos . . .

Lieflik is die spel met die alter ego (“tweereis”) waar die digter met homself op reis gaan en homself besteel! En daar is soveel gedaantes van hierdie sjamanistiese, dansende digter wat hom nooit in ’n finale analise laat vaspen nie.

Die liggaamlike is ook betekenisvol in hierdie digkuns en die obsessie met die abjekte verdien eweneens ’n ondersoek. Die dood, die liefde, die self(loosheid), die gesprek met mededigters. En die unieke hantering van die lykdig: “New York, September 2007” wat handel oor die dood van sy moeder én 9/11 herdenk. Tot stof sal ons terugkeer in hierdie beginsel van stof.

Die struktuur van die lykdig volgens die Latynse voorskrifte word hier omvergewerp. Die besoek van die moeder as engel aan die vervloekte stad, New York, word behendig saamgedig . . .

Die verstommende beeldvermoë is al uitgewys: “Die sjamaan se hakkelende lag as vark”; “heuwels blink waar wind / blou linte span”; “snags hoog ingevlerk in die hemelruim se koue vuur”; “om die wit rook van pyn af te byt”; “wanneer die maantjie ’n geslypte lem is”.

Die digter neem steeds ideologies standpunt in teen onreg en geweld. Veral die gesprek met Darwiesj, ’n lotgenoot, kom sterk na vore. ’n Hoogtepunt is “grens” (vir Walter Benjamin) en “Poskaart vir Bert Schierbeek”.

Die “voice over” met Darwiesj neem die leser van die Engelse herdigtings na die Afrikaans, waar die bykans surrealistiese beeld vir my in die oorspronklike taal sterker opklink. “The last throat-tight passage” dans sterker in Afrikaans.

Die digter hou hom al vir etlike jare ­besig met die “morbiede morfologie van woorde” en min digters kan hom sy enorme woordvernuf nadoen.

Gaan lees net gewoon “in die loop van woorde” en u, liewe leser, sal weet waarvan ons hier praat.

Hierdie versamelbundel bewys met ­genoegdoening die “moveable feast van poetry”.

  • Joan Hambidge is professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Breyten Breytenbach  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.