Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skaduwêreld van verlede duik weer op

Die skaduwêreld van oorlogvoering in die apartheidsjare duik op in Cas Wepener se derde roman, ‘Die slaghuis’, en ondanks ’n paar besware en voorbehoude meen Fanie Olivier veral die laaste hoofstuk sal dinge saam- én losknoop in die geheue van Suid-Afrikaners wat voor 1970 gebore is.

Die slaghuis deur Cas Wepener. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R200.

Die slaghuis is Cas Wepener se derde roman in vier jaar en volg op die hakke van Syferfontein (2016) en Johanna (2017). Hy het in 2013 met die kortverhaalbundel Dubbelfoto gedebuteer.

Soos in sy vorige romans plaas Wepener weer sy hoofkarakters in ’n situasie waar hulle donker geheime saamdra wat uiteindelik net op een manier kan afloop.

Hoekom sou ’n oudpolisieman en sy vrou uit Pretoria verskuif word na ’n afgeleë Oos-Kaapse dorpie saam met ’n sterk swart man wat in ’n tuinhuisie op die erf bly? Wie is die oupa van die effens vertraagde Josua? Waarom word die wildvreemde Bertus Minnaar die oudbrigadier se enigste vriend op die dorp?

Marita van der Vyver se jongste roman, Grensgeval, het ’n debat ontketen oor die betrokkenheid van Suid-Afrikaners by oorlogsaktiwiteite noord van ons grense en oor die regverdigbaarheid hiervan in die destydse Rhodesië, Suidwes-Afrika en Angola.

Die verhaal begin in 1977, toe Steve Biko dood is.

Die slaghuis werk met ’n ander, veel bedenkliker aspek van hierdie oorlogvoering: die werksaamhede van spesiale eenhede en die Buro vir Staatsveiligheid (later die Nasionale Intelligensiediens) in sy baie gedaantes. Die berugste hiervan was sekerlik die manne van Vlakplaas, wie se dinge deur die destydse Vrye Weekblad aan die lig gebring is.

Hierdie skaduwêreld uit ons verlede duik elke nou en dan in Afrikaanse fiksie op, soos pas weer in Chris Karsten se Anderman se vrou (lees die resensie hiernaas).

Die verhaal in Die slaghuis strek oor 40 jaar en word deur vyf vertelperspektiewe oor 27 hoofstukke uitgepak: die 60-jarige Marietta; Kylie in haar middel 20’s en die ma van Josua; ’n enkele hoofstuk waarin Josua die fokalisator is; een hoofstuk met Moses Mahlangu; en drie met oudbrigadier Karel Bergh, Marietta se man, om wie die hoofstorie wentel.

Hoewel die plaaslike slaghuis aan die roman sy titel gee, word dit duidelik dat die huis aan die rand van die dorp waar die leser Marietta en haar man in 1997 leer ken en waar Kylie en haar seun 20 jaar later woon, eintlik die kern vorm. En dat die swart man, Moses, die figuur is wat oor die 40 jaar die verhaal bind.

Stukkie vir stukkie kry die leser inligting wat hom of haar help om die legkaart te voltooi en die geheime wat die karakters met hulle saamdra te leer ken. Net een van hierdie geheime vra buitekennis en dit is die verband tussen die slothoofstuk, die vaardigheid van die dorp se slagter en die foto’s wat Marietta jare vroeër by haar vriendin Elsabe in Pretoria gesien het.

Elsabe is getroud met Karel se kollega en boesemvriend Malan. Hy is die karakter wat die eerste 20 jaar van die verhaal oorheers, eers as die dominante figuur rondom die werksaamhede van die twee mans, dan as die man met wie Marietta ’n skelm verhouding aangaan (en dus sowel haar man as haar vriendin verneuk) en in 1997 as amnestie-aansoeker voor die Waarheid-en-versoeningskommissie.

Terwyl hulle in hul nuwe huis in die Oos-Kaap woon, sien Marietta en Karel op die televisie hoe Malan voor die kommissie getuig. Marietta probeer Karel oortuig om dit ook te doen en hou terselfdertyd die deur oop na ’n voortsetting van haar buite-egtelike verhouding. Maar dit is duidelik dat Marietta ook twee ander mans goedkeurend dophou: die blokman en, ten spyte van sy lelike dowwe oog, die gespierde Moses.

Maar die verhaal op hierdie dorp begin 20 jaar vroeër, in 1977, die jaar van Steve Biko se dood. In hoofstuk 17, een van die drie waarin daar uit Karel se perspektief vertel word, lees ons van die lang reis uit Pretoria hierheen met ’n vasgebinde man in ’n bagasiebak. Dinge loop by die aankoms verkeerd: Die terroris steek Moses se oog met ’n doring uit en word dan so erg deur die ander groep mans wat saamgereis het aangerand dat hy sterf. Sy lyk moet nou weer terug na Pretoria, vergesel van ’n doktersverklaring dat hy aan natuurlike oorsake in sy sel dood is.

Marietta is onbewus daarvan dat die huis waarin hulle nou woon tydens die vorige bedeling vir hierdie soort vuilwerk gebruik is. Karel is gereduseer tot ’n stilswyende skadu van wat hy was, onwillig om soos Malan ’n “verraaier” te word, en kruip weg agter die klompie skape wat hy op die groot stuk erf aanhou. Marietta ontvlug in haar herinneringe en haar kookkuns.

Die derde deel van die verhaal speel 20 jaar later af. Die slagter is gereduseer tot ’n rolstoelbestaan en word versorg deur dieselfde Moses. Sy dogter Kylie, wat Marietta as kind in die slaghuis leer ken het, werk by die ontvangskantoortjie van die munisipaliteit, en woon nou in dieselfde huis saam met haar kind, Josua. Die kind se pa was duidelik ’n bruin man (ons het hom skrams gesien in die heel eerste hoofstuk), tot ergernis van haar pa, wat hom op die een of ander manier “reggesien” het. Sy is nou in ’n verhouding met ’n Apostoliese prediker, John.

Die ou wraak van die gemeenskap word intussen al hoe groter, want die huis en die twee mans wat op die erf woon verteenwoordig onafgehandelde sake uit die verlede.

Wanneer dit op ’n dag duidelik word dat die massa daardie “slaghuis” en die apartheidslagter gaan aanval, vlug Kylie, Josua, haar pa en Moses met die hulp van die dorpsgemeenskap. Oor hierdie ontknoping moet die lesers maar self gaan loer.

Dit is duidelik dat Die slaghuis ’n interessante roman is wat ons weer herinner aan ’n deel van ons land se gedeelde geheue. Nie ter wille van skuld en skuldgevoelens nie, maar om te sorg dat ons dit nie vergeet nie.

Tog is dit nie tegnies ’n uitsonderlike roman nie.

Marietta en Karel se seun in Kanada, Werner, word nooit werklik ’n faktor nie. Daar is aan die ander kant geen oortuigende rede vir die aanwesigheid van Josua as ’n karakter nie; hy oortuig nie en is beslis nie ’n vertelperspektief werd nie. Die skielike ontwikkeling van die verhouding tussen Kylie en John is ongeloofwaardig en die skakel tussen John en ’n gebeurtenis 20 jaar vroeër te toevallig. En Moses verdien meer aandag as die enkele hoofstuk wat aan hom afgestaan word.

Die gebruik van reekse metafore en vergelykings wat kort-kort opduik, is kunsmatig, asof die skrywer bewustelik hierdie dinge wil inbou.

Op ’n verhaalvlak sluit die herhaalde bybring van die nagwa hierby aan.

Die uitvoerige gedeeltes oor die rol en die aard van kookkuns is eweneens hinderlik en werk mee om elemente van mooiskrywery te versterk.

Al hierdie faktore dra daartoe by dat die roman uiteindelik 20 bladsye of so te lank geword het.

Maar baie van hierdie besware, en nog ander voorbehoude rondom die aanwesigheid van ’n té bewuste skrywer, sal ’n mens vergewe en vergeet met die lees van die laaste hoofstuk en hoe dit baie dinge saamknoop, maar ook losknoop iewers in die geheue van Suid-Afrikaners wat voor 1970 of so gebore is.

  • Fanie Olivier is ’n digter, taalpraktisyn en afgetrede akademikus.
Meer oor:  Cas Wepener  |  Steve Biko  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.