Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Skelmbos se mafia’ loop hul rieme styf

‘Steinhoff en die Stellenbosse boys’ boer tans boaan plaaslike topverkoperlyste – en dis g’n wonder nie, skryf Nellie Brand-Jonker, want dié ‘whathappened’ verduidelik presies wat by Steinhoff gebeur het en hoe dit so ongemerk kon plaasvind.

Steinhoff en die Stellenbosse boys deur James-Brent Styan. Uitgewer: Lapa. Prys: R220.

Ná die ineenstorting van die internasionale meubelmaatskappy Steinhoff word daar ál meer na Stellenbosch as Skelmbos verwys. Dit is wat Steinhoff, wat van dié dorp bestuur word, en sy grootbaas, Markus Jooste, wat ’n spoghuis op ’n historiese plaas daar besit, aan die Eikestad gedoen het. Heel gepas skets dié eerste boek oor een van die grootste korporatiewe ineenstortings in Suid-Afrika ’n verhaal wat die dorp en sy skatryk bekendes betrek.

Steinhoff en die Stellenbosse boys sal jou tot diep in die nag laat lees, en, soos iemand reeds geskryf het, lees dit soos ’n Deon Meyer-riller wat in die sakewêreld afspeel. Dit is egter nie soseer ’n whodunnit nie, maar ’n what­happened – ’n mens wil immers wee wat presies gebeur het en hoe dit so ongemerk kon plaasvind.

Dié netelige saak is iets wat Styan telkens herbesoek: Hoekom het so min ontleders, fondsbestuurders, bankiers en joernaliste besef daar is fout by die maatskappy? Hoekom het net enkeles oor die jare die gevaarligte sien flikker?

Die boek begin met Steinhoff se rooskleurige ontstaan en sy pad na Stellenbosch, die tuiste van ’n groep Afrikaner-sakelui wat mettertyd die “Stellenbosse mafia” gedoop is. Die boek help om sin te maak van al die name wat deesdae in koerantberigte opduik en gee ook ’n chronologiese verloop van die maatskappy en Jooste se lewe. ’n Hele hoofstuk handel byvoorbeeld oor wie Jooste is, waar hy skoolgegaan het, sy universiteitskoshuis op Stellenbosch en hoe hy later ’n Jaguar met ’n persoonlike nommerplaat aan dié manskoshuis geskenk het. Jy vind uit waar sy liefde vir renperde vandaan kom en kry ’n kykie in sy vroeë bewondering vir superrykes soos Harry Oppenheimer, sy eerste ontmoeting met die sakeman Christo Wiese in 1982, en sy buitengewone aanvoeling vir belasting.

Ook lees jy oor die bekende inwoners van die Eikestad met wie hy ná sy verhuising bevriend geraak het, die honderde miljoene rand in salarisse en bonusse wat hy die afgelope 15 jaar verdien het, en hoe sy aandele in Steinhoff tot voor die ineenstorting van die maatskappy in Desember 2017 meer as R3 miljard werd was.

Die Steinhoff-sage het al vir menige skindersessie om die vleisbraaivuur gesorg en soveel kinkels en skandale kom steeds na vore dat die verhaal tereg al beskryf is as vreemder as fiksie.

Die boek handel net soveel oor Steinhoff as oor Jooste. Jy lees oor die maatskappy se goue groeijare, die groot oornames die laaste jare, hoe die maatskappy gegroei en as ’n Suid-Afrikaanse suksesverhaal voorgehou is, sy notering oorsee en die registrasie van sy hoofkantoor in die “Nederlandse belastingoase”.

Styan noem die enkeles wat oor die jare vrae gehad het (en hieroor ongewild was en sleg behandel is), die stemme in die wildernis. Dit sluit in die waarskuwing (reeds in 2007!) van ’n ontleder van JP Morgan wat bekommerd was oor Steinhoff se “aggressiewe rekenkundige praktyke”, die groep se “kommerwekkende swak openbaarmaking”, ongemaklike oornames wat gedoen is om krake toe te stop, en ’n ongewone fokus op die minimalisering van belasting.

In nog ’n hoofstuk pak hy ’n ander hoofkarakter in die Steinhoff-sage: Christo Wiese. Wie onthou nog die tas vol geld waarmee hy op ’n oorsese lughawe gevang is? Die skokgebeure wat tot Steinhoff se dramatiese ineenstorting gelei het, word ook breedvoerig en chronologies vertel.

Die Steinhoff-sage het al vir menige skindersessie om die vleisbraaivuur gesorg en soveel kinkels en skandale kom steeds na vore dat die verhaal tereg al beskryf is as vreemder as fiksie. Die boek stel nie teleur nie en elke hoekie en draaitjie van die verhaal – selfs Jooste se skelmpie – word besoek. Die meeste van die inligting is slim saamgestel uit die honderde nuusberigte wat sedert Desember oor die maatskappy en Jooste verskyn het, maar dit lees soos fiksie. Styan diep heerlike aanhalings op uit berigte, soos byvoorbeeld wat Jooste eens op ’n tyd te sê gehad het oor die maatskappy se besonder lae belastingkoers.

Die skrywer is as boekhouer gekwalifiseer en het sy klerkskap by ’n ouditeursfirma voltooi voordat hy as sakejoernalis vir onder meer Finweek, Forbes Africa, Sake24, Fin24, Beeld en Die Burger geskryf het. Daarom verduidelik hy van die komplekse begrippe oor wat moontlik tot Steinhoff se ineenstorting of die ondersoeke kon lei, op ’n manier wat die meeste mense sal verstaan.

Styan se eie onderhoude verskaf verdere agtergrond aan sekere verhale. Ons hoor byvoorbeeld wat Wiese te sê het oor Jooste se skelmpie en hoe ’n vooraanstaande Stellenbosse sakeman hom beskryf as iemand met ’n obsessiewe behoefte aan mag: “Kyk wat het hy gedoen. Hy koop Wiese se Lanzerac. Hy koop Johann (Rupert) se gesinsvakansiehuis op Hermanus. Daar’s nog baie sulke voorbeelde wat daarop dui dat Jooste die ouens se plek wou inneem.”

  • Nellie Brand-Jonker is ’n sakejoernalis van Netwerk24 wat uitvoerig oor die Steinhoff-skandaal berig het.
Meer oor:  James-Brent Styan  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.